Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
‘Roomys maak nie dood nie – kanker wel’

Die lewe van ’n kankerlyertjie (3) van Upington wat in Desember dood is, is die naweek op ’n besonderse geleentheid in dié dorp gevier.

“Vir dié wat nog hul engeltjies het, koop daai roomys, dit maak nie dood nie. Kanker wel,” was Cerina van Blerk se raad aan ander ouers.

Sy het gepraat op die lewensvieringsgeleentheid vir haar dogter, Tiana (3), wat op 22 Desember aan kanker dood is. Haar woorde het die trane Saterdagaand vrylik laat vloei.

Cerina van Blerk se trane het vrylik gevloei toe sy haar hare ter ere van haar dogter, Tiana (3), wat aan kanker dood is, laat skeer het. Foto: Anena Burger
 Cerina van Blerk
Die emosies het hoog geloop toe Cerina van Blerk haar hare laat skeer het op die lewensvieringsgeleentheid vir haar dogtertjie, Tiana (3), wat aan kanker dood is. Ook haar man, André, het sy hare laat skeer. Foto: Anena Burger

Die lewensviering is by die Van Blerks se gastehuis in Upington gehou.

Etlike inwoners van dié dorp het in pienk op die viering opgedaag om die dapper meisie se lewe en stryd teen kanker te vier.

Die geleentheid is gevul met vrolike kleure, lekkernye, speelgoed en foto’s van klein Tiana.

Tiana is op 16 November 2018, kort ná haar tweede verjaardag, met neuroblastoom gediagnoseer.

Ná maande se behandeling, waarop sy goed gereageer het, het Tiana op 2 Mei verlede jaar haar laaste chemoterapie ontvang. Dit het gelyk asof die kanker oorwin is.

Ná ’n reeks bestralings in Julie het die kleuter goeie vordering gemaak en het sy uitgesien na haar nuwe bababoetie, Drehan, se koms.

Maar in Augustus het haar ouers gemerk dat iets nie pluis is nie.

Foto’s van klein Tiana van Blerk en haar ouers, André en Cerina, is in glasbottels met liggies opgehang. Foto: Anena Burger
Foto’s van klein Tiana en haar ouers, André en Cerina, op die lewensvieringsgeleentheid. Foto: Anena Burger

Ná ’n MRI-skandering in September het Cerina en haar man, André, die verpletterende nuus ontvang dat twee gewasse weer agter Tiana se oog gevorm het.

Die Bloemfonteinse onkoloog dr. Jan du Plessis het die ouerpaar ingelig dat niks meer vir Tiana gedoen kon word nie.

Die Van Blerks wou nie moed opgee nie en nog ’n reeks chemoterapiesessies het in November gevolg. Dit was onsuksesvol en Tiana het verder verswak.

In Desember het die ouerpaar hul dogter vir nuwe, geïntegreerde behandeling na die Kaap geneem, maar die kanker het sy tol geëis.

Duisende mense het oor die afgelope jaar Tiana se storie op die Facebook-blad Warrior TIA gevolg en is deur haar kankerstryd en haar ouers se geloof geïnspireer.

 Cerina van Blerk
Foto’s van Tiana van Blerk wat aan kanker dood is, is Saterdagaand op haar lewensviering uitgestal. Foto: Anena Burger
 Cerina van Blerk
Pienk ballonne is ter ere van Tiana oor Upington vrygelaat. Foto: Anena Burger
André van Blerk
André van Blerk stap met honderde pienk ballonne wat aan kinders en inwoners van Upington uitgedeel is wat Tiana se lewensviering bygewoon het. Foto: Anena Burger

Cerina en André het weekliks videosnitte van haar pittige sê-goed, haar danspassies en haar gunstelingliedjies wat sy graag gesing het, gedeel.

Ondanks die pyn en lyding wat sy verduur het, was sy altyd vrolik en lief vir lag.

Met haar lewensviering Saterdagaand is honderde pienk ballonne oor Upington vrygelaat.

Terwyl die seremonie aan die gang was, het haar maats se jubelende en jillende stemmetjies vrolik opgeklink.

“Tia kon net nie ’n pienk ballon laat verbygaan nie,” het Cerina met ’n hartseer glimlag gesê.

In ’n emosionele, bevrydende seremonie het André en Cerina hul hare ter ere van hul dogtertjie laat skeer. Talle vroue het ook van die geleentheid gebruik gemaak om hul lokke vir pruike vir kankerpasiënte te skenk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.