Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
SA wen 1ste keer Mej. Eko-titel
Gizzelle Uys word gekroon deur Amy Nur Tinie van Maleisië wat voor haar die titelhouer was. Links is dr. Amaal Rezk, stigter van die kompetisie. Foto: Facebook/Miss Eco International

Die seisoen van skoonheidskompetisies begin goed vir Suid-Afrika nadat ’n Suid-Afrikaanse vrou oor die naweek ’n internasionale skoonheidskompetisie gewen het.

Gizzelle Uys (23) van Standerton, Mpumalanga, bring nog ’n kroon Suid-Afrika toe nadat sy Sondag in Sharm El Sheikh, Egipte, aangewys is as Mej. Eko-internasionaal 2020-’21.

Sy is die eerste Suid-Afrikaner wat dié titel verwerf sedert die kompetisie in 2015 vir die eerste keer gehou is.

Die kompetisie het ten doel om omgewingsbewustheid en ekotoerisme te bevorder.

“Ek kan glad nie die wen-oomblik eens beskryf nie,” sê Uys, voorheen ’n student aan die Universiteit van Pretoria in erfenis- en kultuurtoerisme en ’n oudleerling van die Hoërskool Standerton.

“Dit is iets uit ’n ander wêreld wat nie soos ’n werklikheid voel nie. Ek dink dit gaan ’n rukkie vat om in te sink.”

Sy sê haar mikpunt is om haar kennis oor ekotoerisme en volhoubare toerisme met mense te deel. “Ek wil die titel gebruik om mense in te lig hoe hulle hul deel kan doen en hoe hulle meer betrokke kan raak by natuurbewaring.

“Ek wil mense wys dat hergebruik en herwinning prettig kan wees. Ek wil ook ’n onderneming begin wat ekovriendelike produkte verkoop.”

Gizzelle Uys (middel) nadat sy as wenner gekroon is. Regs van haar is Kelley Day van die Filippyne (eerste prinses) en links van haar is Alexandria Kelly van Amerika (tweede prinses). Heel regs is Steffanía Alejandra Rodríguez Vivas van Venezuela (vierde) en heel links is Kristel Ruiz Freeman van Costa Rica (vyfde). Foto: Facebook/Miss Eco International

Dié Mej. Eko-internasional-kompetisie word nie as een van die “groot vyf” internasionale skoonheidskompetisies gereken nie. Die groot vyf is Mej. Heelal, Mej. Wêreld, Mej. Supranasionaal, Mej. Aarde en Mej. Internasionaal.

Mej. Eko-internasionaal is geregistreer by die Egiptiese ministerie van kultuur en is geaffilieer met die Verenigde Nasies (VN).

Die wenner word outomaties ’n VN-ambassadeur “om die planeet te help” en ekotoerisme wêreldwyd te bevorder.

Kelley Day van die Filippyne is die eerste prinses, Alexandria Kelly van Amerika is die tweede prinses en Steffanía Alejandra Rodríguez van Venezuela was vierde.

Verteenwoordigers van 38 lande het deelgeneem.

Dit het Dinsdag uit sosialemediaplasings geblyk dat Day Covid-19 onder lede het. Die Mej. Eko-internasionaal-organisasie het Dinsdag in ’n Facebook-plasing gesê enige bewerings van nalatigheid is ongegrond en “daar word goed omgesien na die besmette skoonheidskoninginne”.

Uys het nie deelgeneem onder die amptelike vaandel van die Mej. SA-organisasie nie aangesien dié organisasie slegs verteenwoordigers kies om deel te neem aan drie van die “groot vyf”-kompetisies.

Gizzelle Uys (23), Mej. Eko-internasionaal 2020. Foto: Facebook/Miss Eco International

’n Suid-Afrikaanse kenner van skoonheidskompetisies bekend as Mej. Kroon, sê: “Die Mej. Eko-internasionaal-kompetisie is dalk nie so groot en bekend soos Mej. Heelal en Mej Wêreld nie, maar is besig om groot opgang te maak onder internasionale skoonheidswedstryde.

“Gizzelle Uys van Suid-Afrika het sommer met die intrapslag die aandag op haar gevestig met haar natuurlike skoonheid en die intelligente wyse waarop sy die vrae beantwoord het.

“Gizzelle is die perfekte ambassadeur en gaan haar beywer om te help om die aandag te vestig op ons planeet en eko-toerisme. Suid-Afrika moet munt slaan uit hierdie oorwinning.”

Die vorige titelhouer, Amy Nur Tinie van Maleisië, het Uys op Instagram gelukgewens en gesê: “Jy is vir ’n rede gekies.

“Dra hierdie titel met trots, grasie en selfversekerdheid. Jy het alles in jou en jy het ’n hele organisasie wat agter jou staan. Moenie jou oë te vinnig knip nie, want dit gaan regtig net te vinnig verby.”

Suid-Afrika se Natasha Joubert neem op 16 Mei deel aan die Mej. Heelal-kompetisie in Hollywood, Amerika, en Shudu Musida neem op 16 Desember deel aan die Mej. Wêreld-kompetisie in Puerto Rico.

Dit is nog nie bekend wanneer Mej. Supranasionaal, waaraan dr. Thato Mosehle gaan deelneem, plaasvind nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.