Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Sabria en Domino maak ’n wenfoto

Nie net het Leilani Basson se foto van haar dogter, Sabria, en hond Beeld se redaksielede bekoor nie, die lesers was ook betower deur die Bougainvillea-bedruipte spanjoel, Domino.

Lente in Melville, saam met Sabria en Domino. Foto: Leilani Basson

“Wat ’n kleurryke, besondere pragfoto van Sabria en haar hond, Domino, op Beeld se voorblad wat ons almal opgekikker het! Dit maak die dag baie draagliker,” skryf Georg Knoke van Auckland Park.

Basson is November se wenner in Beeld se My Wêreld-fotoprojek.

Sy wen ’n vakansie vir twee mense van R5 000, geborg deur die Legend Hospitality Group.

“Die gehalte van die foto’s wat lesers instuur, het beslis ’n sport hoër geklim,” sê Barnard Beukman, Beeld se redakteur.

“Die oorspronklikheid van die onderwerpe, asook die verskeidenheid van temas het die laaste paar maande beslis toegeneem. Ons kan sien dat lesers moeite doen om ons te wys wat in hul wêreld aangaan.”

’n Sjimpansee bepeins die betekenis van ’n appel. Foto: Leon Pelser

Basson se foto het die beoordelaars beïndruk juis as gevolg van die aktualiteit van die foto se onderwerp.

November is blomtyd in Johannesburg se strate en die voorstede is dikwels getooi in die pers van jakarandas en die pienk blomme van bougain­villeas.

Sy het die foto sommer in haar woonbuurt, Melville, geneem toe sy met Domino en Sabria gaan stap het. Die kontras tussen die pers blomme en Sabria se geel rok sorg ook dat dit ’n treffende voorbladfoto was wat menige leser se dag opgekikker het.

Dr. Leon Pelser van Kriel se portret van die sjimpansee in die Bloemfonteinse dieretuin verdien die tweede plek vir November. Daar is emosie in die foto, die sjimpansee lyk skoon asof hy die betekenis van die lewe en sy lot in daardie rooi appel soek. Die sagte lig, tekstuur van die aap se vel en pels, en die rooi appel wat so amper in die tweede derde van die foto geposisioneer is, maak dit ’n wenkomposisie.

Pelser wen ’n vakansie vir twee van R2 500, ook geborg deur die Legend Hospitality Group.

Die volledige reëls verskyn op Beeld se Facebook-blad. Klik op “notes” vir al die bepalings en voorwaardes.

Kyk ook op bl. 2 hoe jy jou foto kan instuur vir die projek.

Legendariese somers in die Bosveld

Die Legend Hospitality Group se vlagskipoord, die Legend Golf & Safari Resort, is in die hartjie van die Bosveld geleë.

Hier kan gaste luilekker dae langs die swembad geniet, ’n potjie gholf op een van die twee gholfbane speel, ’n helikopterrit oor die Waterberg-streek se natuurskoon ervaar en ’n onvergeetlike Groot Vyf-wildrit in die Entabeni Safari Conservancy se wildreservaat van sowat 22 000 ha meemaak.

Met talle aktiwiteite vir individue, paartjies en families en luukse verblyf is dit ’n vakansie om van te droom.

Legend het tans ook ’n spe­siale #LegendarySummers-someraanbod, waar jy vir winskopiepryse by die luukse oord kan oorbly. Bepalings en voorwaardes geld.

Maak van dié seisoen ’n somer om te onthou en bespreek nou vir die skool­vakansies.

  • Vir meer inligting, besoek legendhospitality.co.za, kontak die besprekingskantoor vir ’n kwotasie of spesiale somerpakket by reservations@legend­lodges.co.za of skakel 012 443 6700.
Meer oor:  Kompetisie  |  Lesersfoto  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.