
Louise Abrie (62), ’n sakevrou van Bethulie, is dood aan borskanker. Foto: Verskaf
’n Sakevrou van Bethulie se dood aan kanker het nie haar man en drie dogters gekeer om Sondag ’n vreugdevolle viering van haar lewe te hou nie.
Louise Abrie (62), die eienaar van Bak-Gat op Bethulie, is Woensdag in die Netcare Krugersdorp-hospitaal oorlede nadat sy van die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas is.
Abrie het aan die begin van die jaar, kort nadat sy “skoon” verklaar is, weer siek geraak toe die borskanker “aggressief” teruggekeer het, volgens Luané van der Walt, haar dogter.
Van der Walt sê niemand het einde 2017 geweet haar ma het borskanker nie.

Monine Henderson, Luané en Miléne van der Walt, en Louise Abrie. Foto: Verskaf
“Sy het nie een dag afgevat nie, en ’n pruik gedra. Dit terwyl sy die ergste graad chemoterapie ontvang het.”
Sy het fase 4-borskanker gehad, tesame met dubbele longontsteking.
Van der Walt sê haar ma het 14 jaar lank verskeie ondernemings, onder meer bedwinkels, in Kempton Park en toe later ander winkels in Margate besit.
Later wou sy op ’n plaas bly, en het sy saam haar man, Danie, en Luané en Miléne, nog ’n dogter, na Bethulie verhuis.
Monine Henderson, haar oudste dogter, woon in Roodepoort.

Abrie was baie betrokke by die Bethulie NG Kerk en het onder meer klasse in lofprysdanse aangebied.Foto: Verskaf
Abrie was betrokke by die NG Kerk Bethulie, en het lofdansklasse daar aangebied.
Van der Walt sê Sondag se viering van haar ma se lewe was “kleurvol en vrolik”.
Dr. Kobus Dippenaar, leraar van die NG Kerk Bethulie, en sy vrou het Krugersdorp toe gery vir die diens.
Henderson skryf in die afskeidsbrief sy wens sy kon ’n kilometer hardloop vir elke chemo-, bestraling- en inspuitingsessie wat haar ma moes deurgaan.
“En elke doktersafspraak, maar selfs dán sal ek nie ’n tiende van die vrou wees wat my ma is nie.
“My ma was sterk, vreesloos en ’n vegter. Een van daai werklik onselfsugtige mense met soveel liefde en omgee. “Sy is ons ma wat nou verder in die hemel dans. En met elke kilometer wat ek van hier hardloop, dra ek haar saam.”