
Dylan Price en Kay-lee van Eeden van die Hoërskool Brandwag. Foto: 228photography
Jou metgesel is ’n belangrike keuse om te sorg vir ’n lekker matriekafskeid, vertel vele matrieks aan Kelly Minnie.
Die regte matriekafskeid-metgesel is net so belangrik soos gemaklike skoene en ’n rok wat nie heelaand gaan afgly nie.
Riccardo Angileri en Twané Vorster van Hoërskool D.F. Malherbe in Port Elizabeth ken mekaar al van gr. 8 af en is ’n paartjie sedert gr. 9. Hulle was bang dat hulle nie die mooi einde van ’n matriekafskeid vir hul hoërskoolverhaal sou hê nie, maar tog, nadat al die ander planne vir matriek gekanselleer is, kon hulle steeds afskeid hou.

Riccardo Angileri en Twané Vorster van die Hoërskool D.F. Malherbe. Foto: Champagne Creations

Dylan Price en Kay-lee van Eeden van die Hoërskool Brandwag. Foto: 228photography

Rochelle Bothma en Jonathan Coetzee van die Hoërskool Centurion. Foto: Hendrik Grobbelaar

J.D. Lehmann en Karla Aust van die Hoërskool Montana. Foto: Mercia van Wico
“Hy het my uitgeneem vir ete by ons gunsteling-restaurant en my gevra of ek hom die gelukkigste ou sal maak en saam met hom matriekafskeid toe sal gaan,” vertel Twané.
Rochelle Bothma en Jonathan Coetzee gaan ook al uit vandat hulle in gr. 8 saam by die Hoërskool Centurion begin het. Rochelle het nog altyd gedroom van ’n stylvolle rok sonder kantjies en frilletjies en dat haar ouma dit sal maak, maar dat Jonathan so vroeg al in die prentjie sou wees, was ’n verrassing.

Jonathan Coetzee het ’n hemp laat druk om vir Rochelle Bothma matriekafskeid toe te vra.
“Min het ek geweet dat die gr. 8-seun wat my na die eerste sokkie in die hoërskool genooi het, ook my metgesel sou wees vir ons matriekafskeid. Hy het ’n hemp laat druk waarop daar staan ‘Rochelle, sal jy my metgesel wees na die matriekdans’ en die opsies was ‘Ja’, ‘Verseker, ja’ en ‘Flippen, natuurlik’, ” vertel Rochelle.
Kay-lee van Eeden en Dylan Price, ’n paartjie van die Hoërskool Brandwag in Benoni, moes ook al hul laaste herinneringe op skool prysgee, maar kon gelukkig ’n matriekafskeid saam geniet.
“Ons het toe darem ’n aand gehad wat ek nooit sal kan vergeet nie. Nie net omdat ek dit met iemand so spesiaal kon deurbring en dit ons laaste en een van ons enigste matriekherinneringe was nie, maar ook omdat ons klas van 2020 ná ’n baie vreemde jaar darem kan sê ons het ’n matriekafskeid gehad,” sê Dylan.