Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Sandilands stem in vir koffie as vrou teikengewig haal
Elzaan Veldsman en haar ouma Iona. Foto: Facebook/Elzaan Veldsman

’n Vrou van Kaapstad het op Facebook gevra dat die akteur Neil Sandilands haar vir koffie nooi as sy haar teikengewig kan haal – en hy het ingestem.

Elzaan Veldsman (38), ’n vlootlid wat naby Vishoek woon, het gesê sy het ’n groot kans gewaag om Sandilands (45), plaaslik veral bekend as Bart in die sepie 7de Laan, vir ’n afspraak te vra en het nie in haar wildste drome gedink hy sou instem nie.

Die akteur Neil Sandilands, wat ook in die Amerikaanse reekse The Flash en Hap and Leonard te sien is. Foto: Argief

“Tot my tone staan regop as ek die liedjie ‘Liefde uit die oudedoos’ luister wat hy en Karen Zoid saamsing,” het sy gesê. “Ek was nog altyd ’n aanhanger en ek was mal oor die karakter van Bart in 7de Laan.”

Veldsman het gesê haar doelwit is om in totaal 38 kg af te skud, en sy het reeds 5 kg verloor om nader aan haar teiken te kom.

“Ek is altyd op soek na bykomende motivering, buiten my gesondheid en dat ek mooi rokke wil dra. Ek het besluit om Neil te vra om my vir koffie te neem as ek nóg 18 kg verloor.

“Ek het gedink die gevaar is groot dat hy nee sal sê, maar ek het gedink dit is die moeite werd om te probeer. Die lewe is kort.”

Veldsman was geskok en oorstelp van vreugde toe Netwerk24 haar meedeel dat Sandilands ingestem het om haar vir koffie te kry wanneer sy haar halfpadmerk bereik.

“Neil Sandilands rapporteer vir diens,” het hy op Facebook onderaan ’n plasing oor Veldsman se doelwitte geskryf.

“Laat ek nou maar net sê dis sekerlik die grootste ding wat in ’n goeie ruk na my kant toe kom. Wat gemaak, hel, dit mag grootskaalse teleurstelling teweegbring as my prewelende geaardheid ontmasker word. But for the greater good, ek’s in. Waar teken ek?”

Hy wou weet hoe die reëlings vir hul ontmoeting getref sal word, aangesien hy tans in Kamieskroon in die Noord-Kaap is.

Veldsman het gesê sy het nog nie sover gedink nie, want sy het glad nie verwag dat hy gaan instem nie.

Sy het gesê nadat haar ouma Iona van Loggerenberg verlede jaar aan ’n beroerte dood is, het sy gesukkel om haar gewig te beheer.

“My ouma het my grootgemaak nadat my ma dood is toe ek tien maande oud was. Sy is in September oorlede, byna op dié dag 11 jaar nadat my pa oorlede is,” sê Veldsman. “Sedertdien kan ek nie ophou eet nie.

“Ek onthou my ouma het nog vir my ’n pakkie lekkernye opgemaak wat sy van Bloemhof (in Noordwes) wou pos die dag toe sy dood is.

“Daar was allerhande goed in, veral koeksisters waaroor ek mal is. Ek het die hele pakkie kos in twee dae opgeëet.”

Veldsman sê grenslyn-persoonlikheidsteuring (borderline personality disorder) en ooreetsteuring is by haar gediagnoseer. Sy het ’n blog waarop sy gereeld skryf oor haar lewe en die uitdagings wat sy teëkom.

Ek was nog nooit so gemotiveerd nie! Ek weet net nie wat ek gaan sê of aantrek as ek hom regtig ontmoet nie.

“Ek wou wragtag vanaand vir my ’n pizza vir aandete bestel. Nou gaan ek dit beslis nie doen nie,” het sy Woensdagmiddag gesê.

“Ek was nog nooit so gemotiveerd nie! Ek weet net nie wat ek gaan sê of aantrek as ek hom regtig ontmoet nie. Ek het nog nie daaraan gedink nie!”

Veldsman het gesê om haar nog verder te motiveer het sy ’n tegniek om haarself te herinner aan hoe ver sy reeds gevorder het.

“Elke keer as ek ’n kilogram verloor, gaan koop ek ’n kilogram suiker by die winkel. Ek dra dit dan by my en kyk daarna wanneer dit voel asof ek niks bereik nie.”

Sy het gesê om die 5 kg wat sy reeds verloor het, af te skud, het sy verfynde suiker uitgesny.

Sy het Woensdagmiddag op Facebook gesê: “Nou het ek nog ’n probleem: Wat op aarde sal ek doen as beloning vir myself as ek die res van die gewig verloor? Ek twyfel of daar veel beter dinge as hierdie ontmoeting is.

“Ek sal my ’n ander dag daaroor bekommer. Vir nou soek ek raad: Wat is die vinnigste en gesondste manier om 18 kg te verloor?”

Meer oor:  Neil Sandilands  |  Akteur  |  Koffie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.