Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
‘Sedelik sjiek’-uitrustings in Kasteel vertoon
06 September 2018

Vir ’n Kaapse modeontwerper, entrepreneur en ouma is die modeterm “sedelik sjiek” (modesty wear) nie vervelig of oudtyds nie. Inteendeel, dit gaan oor die moderne vrou wat steeds stylvol en modieus kan lyk sonder om haar lyf ten toon te stel.

Garia Abdul (55) sê dit is ook nie net vir Moslemvroue nie, maar vir alle vroue van alle vorms en groottes.

’n Uitrusting van Lady Belle Creations. Foto: Instagram

Sedelik sjiek, oftewel fatsoenlikheidsmode – waar ’n vrou meer van haar liggaam bedek, maar steeds modieus lyk – is wêreldwyd ’n neiging wat in gewildheid onder vroue toeneem. Dit maak veral op Instagram opslae.

Abdul gaan op 20 Oktober met ’n modeparade, The Geez SS18 Runway Extravaganza, wat in die Kasteel in Kaapstad gehou word, 15 ontwerpers die geleentheid gee om hul uitrustings ten toon te stel.

As deel van die modeparade wil sy graag aan ontwerpers die geleentheid gee om nie net hul talent ten toon te stel nie, maar ook om iets aan die gemeenskap terug te gee.

Nog twee uitrustings van Lady Belle Creations. Foto: Instagram

Hierdie mode is nie net tot Moslemvroue beperk nie, sê Abdul, daar is ook nie-Moslemvroue wat die klere dra. “Daar is hierdie wanopvatting dat dit vervelig is, maar dit is nie. Dit is klere wat steeds modieus is. Die vroulike liggaam word net nie ontbloot nie, maar dit is ’n sekere styl wat steeds modieus en mooi is.”

Haar liefde vir klere maak het destyds begin toe sy self gesukkel het om klere na haar smaak in die groot winkels te kry. Sy het meestal in versteekte boetiekwinkels klere gekry of plaaslike kleremakers gevra om vir haar klere te maak.

’n Uitrusting van Belle Femme Designs.Foto: Instagram
’n Koningsblou uitrusting van Belle Femme Designs. Foto: Instagram

Sy het vroeër in die bankwese gewerk, haar eie onderneming gehad, en tussendeur twee kinders grootgemaak. Haar liefde vir klere maak het begin toe sy fyn dopgehou het wanneer haar ma daarmee besig was. Sy het nooit modeontwerp studeer nie, maar sy het ’n natuurlike aanleg daarvoor.

Vir haar gaan dié modestyl gaan daaroor dat vroue steeds goed kan voel oor hulself sonder dat hul liggame ten toon gestel word.

“Dis alledaagse klere wat jy kan dra, maar dalk nie strand toe nie.”

As deel van die modeparade in Oktober wil sy ook graag nuwe talent ontdek. “Dit is vir my belangrik om iets aan die gemeenskap terug te gee – jy aan mense die naaste aan jou teruggee. Daar mag dalk net een ontwerper wees wat gaan naam maak. Maar vir my gaan dit daaroor om drome te bewaarheid.”

Een van die ontwerpers, Shamiela Basardien van Belle Femme Designs, sê die geleentheid bied ’n groot platform vir hul ontwerpe. “Ons is altyd dankbaar vir sulke geleenthede.”

Een van ZA Designs se uitrustings word op die loopplank vertoon.Foto: Instagram
Meer oor:  Kaapstad  |  Uitstalling  |  Mode
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.