Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Selfoon-sielkunde: Kan ’n app jou gelukkig maak?

Geestesgesond-apps is deesdae volop. Maar hoe betroubaar is dit? Delia du Toit vind uit.

Die name klink of dit die lys behandelings in die wêreld se ontspannendste spa kan wees: Mend, Happify, Elevate, Serenity, Sparkle.

Apps wat beloof om jou geestesgesondheid te verbeter is nou volop – bogenoemde is net ’n handjievol van ’n ellelange lys resultate as jy “mental health” in die soekboksie op Google se Play Store intik.

Maar help dié apps regtig? Hoe kies jy die regte een vir jou uit die duisende beskikbare opsies? En kan dit enigsins die plek van ’n gekwalifiseerde terapeut vol staan, teen ’n appel en ’n ei?

Die navorsing

Omdat dié apps so vinnig ontwikkel word, is dit moeilik vir die navorsing om by te hou. Sodra een studie gepubliseer is, is daar al honderde nuwe apps beskikbaar.

Die beskikbare navorsing bied teenstrydige antwoorde. ’n Duitse meta-analise van 12 studies het tot die gevolgtrekking gekom dat daar verskeie apps is wat depressiesimptome op kort termyn help verbeter. ’n Australiese studie wat egter na 856 selfdoodvoorkoming-apps gekyk het, se aanbeveling was dat terapeute “uiters versigtig” moet wees om dié soort apps vir pasiënte aan te beveel omdat sommige apps se inhoud skadelik kan wees. ’n Kanadese studie wat 438 bipolêre-versteuring-apps ondersoek het, sê die apps se inhoud is in die algemeen nie in ooreenstemming met aanvaarde behandelingsriglyne nie.

Enigiemand kan, sonder enige kennis, ’n app ontwikkel wat beloof om simptome te verbeter en dit verkoop.

Een van die grootste redes vir die verskillende resultate is dat daar geen beheerliggaam vir gesondheid-apps bestaan nie – enigiemand kan, sonder enige kennis, ’n app ontwikkel wat beloof om simptome te verbeter en dit verkoop. ’n Studie deur die Universiteit van Nieu-Suid-Wallis (UNSW) in Australië wat verlede jaar gepubliseer is, wys 64% van geestesgesondheid-apps beweer inderdaad doeltreffendheid, maar net 14% van dié apps haal wetenskaplike navorsing aan as bewys.

Die een soort app wat homself hier onderskei, is tele-apps, waar jy oor ’n app deur boodskappe of video-oproepe met gekwalifiseerde terapeute kan gesels. Die bewyse vir dié soort apps is oorweldigend goed: ’n Meta-analise deur die Michigan-Universiteit in die VSA het in 2016 gesê daar is “beduidende” bewyse dat dié soort apps werk om die simptome van verskeie geestestoestande by verskillende demografieë te verbeter.

Wat sê kenners?

Adam Pantanowitz, ’n biomediese ingenieur en lektor aan die Universiteit van die Witwatersrand, wat saam met ’n span kenners ’n tele-app vir Suid-Afrika ontwikkel, sê hy het al geestesgesondheid-apps soos Headspace (hoofsaaklik ’n meditasie- en stresverligting-app) gebruik en glo daar is verskeie hulpvaardige, goed nagevorste apps daar buite. “Daar is deesdae duisende apps en sommige kan gevaarlik wees. Sonder ’n beheerliggaam, is die onus op gebruikers om hul huiswerk te doen. Soek apps waar kenners by die ontwikkeling betrokke was en wat gesaghebbende navorsing aanhaal.”

’n Wits-studie wat verlede jaar gepubliseer is, sê ook gebruikers moet versigtig wees vir apps en webwerwe wat ’n “diagnose” bied. Tasneem Hassem, ’n PhD sielkunde-kandidaat by Wits en die studieleier, sê slegs ’n gekwalifiseerde terapeut kan ’n diagnose maak. “Dikwels is daar nie kenners betrokke nie en ’n verkeerde ‘diagnose’ kan meer leed veroorsaak. Wees versigtig vir oorsese vraelyste: internasionale depressie-vraelyste fokus grootliks op sielkundige simptome, terwyl navorsing wys Suid-Afrikaners het dikwels meer fisieke simptome.

Webwerwe en apps kan ’n beginpunt wees, maar besoek altyd ’n kenner vir ’n diagnose.

“Webwerwe en apps kan ’n beginpunt wees, maar besoek altyd ’n kenner vir ’n diagnose.”

Die studieleiers van die UNSW-navorsing sê nog ’n groot gevaarlig is ook min of geen privaatheidstellings. Veral gratis apps verkoop soms gebruikers se mediese inligting om geld te maak. Maak dus seker jy kan die app anoniem gebruik of dat jy jou privaatheid kan stel.

’n Goeie manier om na betroubare apps te begin soek, is om kenners se resensies daaroor te lees.

’n Goeie manier om na betroubare apps te begin soek, is om kenners se resensies daaroor te lees. Hier is ’n paar bronne:

  • One Mind PsyberGuide is ’n internasionale organisasie sonder winsbejag wat geestesgesondheid-apps deur kenners laat toets en resenseer. Daar is al sowat 170 apps nagegaan: onemindpsyberguide.org/apps.
  • Die Amerikaanse Angs-en-depressiestigting bied ’n lys apps wat deur kenners geresenseer is: adaa.org/finding-help/mobile-apps.
  • Die Britse Nasionale Gesondheidsdiens het ’n lys apps wat deur kenners aanbeveel word: nhs.uk/apps-library.

Brainternet, ’n Wits-navorsingsprojek gelei deur Adam Pantanowitz, het in 2017 vir die eerste keer menslike breingolwe oor die internet uitgesaai. Die tegnologie omskep breingolwe na ’n formaat wat intyds oor die internet kan uitsaai deur gebruik te maak van ’n spesiaal ontwerpte elektro-enkefalogram (EEG) wat die persoon op hul kop dra.

Die moontlikhede is legio. “Die tegnologie is nog in sy kinderskoene, maar dit kan moontlik ’n manier word om ’n persoon se geestestoestand oor ’n afstand te monitor en potensieel toestande soos depressie dalk vroeër raak te sien – voor die simptome oorweldigend word,” sê Adam.

Dié apps is gegrond op aanbevole riglyne vir die behandeling van geestesgesondheidsprobleme en is óf aanbeveel deur kenners in die sielkunde óf daar is betroubare wetenskaplike bewyse dat dit kan help.

    Moodfit
    • Moodfit. Een resensie, waar kenners verskeie geestes-apps geëvalueer het, het Moodfit aangewys as die beste geestesgesondheid-app vir 2020. Die app bied verskeie tegnieke om geestes-“fiks” te word en so simptome te verbeter, nes liggaamlike fiksheid jou fisieke gesondheid verbeter. Jy kan jou buie op die app invul en oor ’n tydperk waarneem om te sien watter eksterne faktore dit beïnvloed. Jy kan beginsels van kognitiewe gedragsterapie inspan om irrasionele gedagtes en negatiwiteit te hanteer. Daar is ook tegnieke om aan positiwiteit en dankbaarheid te werk. Die basiese app is gratis, maar jy moet dan sekere funksies koop (pryse wissel tussen R200 en R1 200).
    Talkspace
    • Talkspace. Dié app is een van die gewildste en suksesvolste tele-apps. Elke terapeut met wie jy oor die app kan gesels, het meer as 3 000 uur se praktiese ondervinding. Daar is verskillende tariewe, afhangend van hoe gereeld jy met jou terapeut wil gesels en of jy boodskappe of video-sessies verkies. Die app gebruik soortgelyke enkripsie as die bankwese om gesprekke privaat te hou. Planne begin by sowat R1 000 per maand.
    Sanvello
    • Sanvello. ’n Studie van 500 gebruikers met matige angs en depressie se simptome het in die algemeen verbeter toe hulle Sanvello gebruik het, en die uitwerking het aangehou selfs nadat hulle dit ophou gebruik het. Die app gebruik ook kognitiewe gedragsterapie-beginsels. Die basiese app is gratis, maar jy moet inteken om sekere funksies te gebruik (ongeveer R150 per maand).
    Happify
    • Happify.Dié app is spesifiek ontwerp om stres, kommer en angs te hanteer. Kenners het oor die 60 wetenskaplik bewese aktiwiteite bygedra om simptome te help verlig en elk neem tussen een en tien minute om te voltooi. Elke aktiwiteit het ook ’n verduideliking oor hoekom dit doeltreffend is en waarvoor dit spesifiek help. Die basiese app is gratis, maar jy moet ’n maandelikse tarief (ongeveer R250) betaal om al die aktiwiteite te gebruik en jou vordering te meet.
    Woebot
    • Woebot. Ouer kinders en tieners sal veral baat by Woebot, ’n app wat kunsmatige intelligensie gebruik om gebruikers meer oor geestesgesondheid te leer, raad te gee, en aktiwiteite te doen wat simptome kan help verlig. Jy “gesels” met die app deur boodskappe, soos om ’n WhatsApp te stuur, en kry dan outomatiese antwoorde terug – dikwels met gifs en emoji’s, of video’s waar ’n kenner sekere begrippe verduidelik. Die app is tans gratis, maar die ontwikkelaars sê daar kan in die toekoms ’n tarief gevra word.
    Meer oor:  Geestesgesond-Apps
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.