Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Selfsorg in die werkplek
Die werkplek lyk nou soveel anders as voor ’n pandemie die wêreld getref het.

Ál meer werknemers keer terug na hul werkplek soos wat ondernemings toegelaat word om weer oop te maak. Maar die werkplek waarheen hulle terugkeer, is nie soos die een wat hulle agtergelaat het nie. Daar’s nuwe reëls, regulasies én vrese: Hulle vrees vir hul gesondheid, maar is ook bang om hul werk te verloor.

Die enigste oplossing is om nou meer as ooit tevore na jou eie emosionele gesondheid om te sien, terwyl jy jou vrese bestuur en jou werk voluit doen.

’n Nuwe boek, Boosting Workplace Wellbeing, met die berader en psigometrikus dr. Erika Hitge as samesteller, kyk juis na die broodnodige tema van selfsorg en welstand in die werkplek.

Die Amerikaanse sosioloog en sielkundige Corey Keyes beskryf emosionele welstand as die balans van negatiewe en positiewe affek. Affek is gemoedsgevoelens, soos angs of vreugde. “Wanneer positiewe affek dominerend is oor negatiewe affek, sal lewenskwaliteit hoog wees. Wanneer dit andersom is, is lewenskwaliteit swak.”

Een van die bydraers, Diana Rodriguez, definieer ’n persoon wat emosioneel gesond is as iemand wat ’n balans tussen werk en ontspanning handhaaf, goed voel oor hulself, glo daar’s ’n doel vir hul lewe, verandering kan aanvaar, die lewe geniet en die waarde van lag en vreugde verstaan, min stres, goeie verhoudings het, en tevrede is met hul lewens.

Hitge gee die volgende raad om dié emosionele gesondheid te bereik: oefen, bring tyd in die son deur, slaap genoeg, wees kreatief, neem ’n troeteldier aan, volg gesonde eetgewoontes, en maak tyd om soms lui te wees. Sy glo jy moet klein goedjies doen wat jou sintuie stimuleer: steek ’n gegeurde kers aan; koop vars blomme en druk jou neus daarin; geniet ’n massering of eet jou gunsteling-gereg.

Nóg ’n bydraer, die sielkundige Ellie Dykema-Hansen, vertel hoe sy moes besef dat sy soms moet afstand kry van die werk waarvoor sy so lief is, omdat dit haar moeg, siek en gedreineer kan laat voel.

Nou hou sy daarvan om ’n hele dag by die huis te bly, niemand te sien nie en in haar pajamas te bly of sonder grimering te loop. Sy het nuwe vreugdes ontdek en besef dat sy soveel beter in haar beroep vaar as sy na haarself ook omsien. Sy onderskryf die sielkundige Lynn Schechter se mening dat jy jouself as mens waardig moet ag, bewus van jouself moet wees, en na jou liggaam, vriende, familie en gesin moet omsien. Ook dat dit belangrik is om grense te stel, gesond te leef, en gesonde uitstappies in die natuur te neem.

Die prokureur Alet Beyl vertel dat die konsep van selfempatie haar pad gekruis het toe sy op Kristin Neff se navorsing van 2003 oor dié onderwerp afgekom het. Sy skryf dat selfempatie beteken dat jy jouself met sorg moet behandel wanneer jy met jou eie foute, mislukkings en tekortkominge gekonfronteer word. Dit bestaan uit drie dele: self-goedheid wat daarop neerkom dat jy sagkens met jouself moet omgaan, eerder as krities en veroordelend; ’n gevoel van deel wees met ander, eerder as afgesonder en geïsoleerd; en bewustheid om ons ervaringe gebalanseerd te ervaar.

Al die bydraers moes eers by hul skuldgevoelens verbykom voordat hulle tyd vir hulself en hul heling kon bewerk.

Roetine bespaar energie

Erika Kruger, ’n navorser en konsultant van SomaSense wat haar toespits op die verbetering van welsyn in die werkplek.

Erika Kruger, ’n navorser en konsultant van SomaSense wat haar toespits op die verbetering van welsyn in die werkplek, ervaar hedendaagse emosionele uitbranding op twee maniere: As masseerterapeut sien sy vele pasiënte met spierspasmas, terwyl sy ook modules vir werkplekgesondheid saamstel vir onderwysers wat tydens die inperking onder moeilike omstandighede moet werk.

Sy glo dis belangrik om ’n roetine te skep wat jou energie kan bespaar. So weet jy presies wat om wanneer te doen en hoef jy nie breinkrag te gebruik om klein besluite te neem nie. “As jy van die werkplek terugkom, trek jou klere uit en sit dit in die wasmasjien. Bêre maskers en handreinigers altyd op dieselfde plek by die huis/werk, sodat jy dit net kan vat en loop en nie hoef te skarrel om daarna te soek nie. Honderde sulke klein handelings per dag vreet in jou energiebegroting in. Jy kan daai energie eerder vir belangriker besluite gebruik.”

Kruger se handleidings vir onderwysers help hulle om deur die slagveld van Covid-19 te navigeer. Skielik is jou taak as opvoeder ligjare verwyderd van jou kwalifikasie: dis hande spuit en tafels skoonmaak en oplet dat die regulasies oor fisieke afstand nagekom word. “Al wat meeste onderwysers wil doen, is om hul eie fisieke afstand só groot te maak, dat hulle tuis kan bly.

Die een ding waaroor ons wel seker kan wees, sê Kruger, is dat die manier hoe ons werk drasties verander het en ons sal ons vaardighede moet opskerp; nuwe vaardighede moet aanleer – en vinnig.

Waar jy voorheen ’n geselsie sou aanknoop in die hysbak oppad na jou kantoor toe, is dit nou een van die goed wat afgeraai word in die werkplek.

Die Forbes-skrywer Bernard Marr het agt vaardighede geïdentifiseer wat ons gaan nodig hê as ons in die wêreld ná Covid-19 wil oorleef. Daar’s natuurlik kreatiwiteit en innovasie en digitale- en koderingsvaardighede, maar ook dat jy meer aanpasbaar en buigsaam moet wees.

Kruger lig uit dat jy jouself positief moet instel, maar dat dit nie beteken jy ignoreer die realiteit nie. “Ons verwar heel dikwels positiwiteit met optimisme, vrolikheid en om altyd die silwer randjie om die donker wolke te sien.”

Sy sê as jou motivering vervaag in hierdie moeilike tye, moet jy tyd maak om weer jou doelwitte uit te spel. “Herinner jouself aan wat jy doen en hoekom jy dit doen. As ons tyd daaraan afstaan om bewustelik vas te stel wat ons doel in die lewe is, dan weet ons waarheen ons op pad is en wat ons moet doen om dit te bereik. Die wêreld om ons kan nou wel heeltemal anders lyk en ons kan gedwing wees om ander paaie te vind om by ons bestemming te kom, maar ons diepste verstaan van wat ons bydrae tot die lewe is, bly dieselfde. Onderwysers kan voel dat hulle nie opgelei is om nou skielik te moet oordeel of iemand gesond genoeg is om skool toe te kom nie, maar kan deur hul eie waardes en doelstelling te bekyk, onthou dat ook dié taak te make het met ’n beter wêreldskepping vir jong mense.”

Stap vir stap na emosionele gesondheid

’n Nuwe boek, Boosting workplace wellbeing, met er. Erika Hitge as samesteller, kyk na dié broodnodige tema van selfsorg, welstand wat nou nog nodiger is as ooit tevore.

“Net soos wat jy (oor ’n lang tydperk) vir ’n wedloop soos die Comrades moet oefen , kan doelbewuste, klein besluite in hoe jy die wêreld sien, ons ook stadig maar seker voorberei vir die nuwe werklikheid,” sê Kruger.

Sy gee die volgende praktiese wenke:

Aanvaar dinge soos dit is.

Dit beteken nie dat jy Covid-19 se bestaan ignoreer nie, maar dit baat ook nie om dit erger te maak as wat dit is nie. Aanvaar dat ons midde-in ’n pandemie is en dat ons ’n aangepaste lewe sal lei.

Dink positief.

Pak take aan met ’n houding dat jy probleme kan oplos. En selfs al kan jy nie al die probleme oplos nie, sal jy dit meer positief en produktief benader.

Kies hoe jy na die wêreld kyk.

Kyk na die goeie goed wat al gebeur het; hetsy mense wat die virus oorleef het of die manier hoe jou kollegas en die kinders by die skool aangepas het.

Herken die 50 skakerings van grys.

Een van die maklikste maniere om jouself in ’n gat in te praat of te dink, is om dinge net goed óf net sleg te sien. Die lewe is nie net die een of die ander nie, nie tydens die pandemie nie en ook nie daarna nie. Party dae gaan jy sterk voel, ander dae nie. Dit maak jou nie hulpeloos of ’n swakkeling nie; dit maak jou menslik.

Boosting Workplace Wellbeing kan as ’n e-boek (R150) of gewone boek (R200) bestel word by drerikahitge.com. Kontak Hitge by 082 366 3374.

Kontak Erika Kruger by erika@somasense.co.za of besoek haar webwerf by www.somasense.co.za.

Meer oor:  Erika Kruger  |  Covid-19  |  Geestesgesondheid  |  Koronavirus  |  Werkplek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.