Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Sersant ‘loop ekstra myl’ ná gespot oor flenterskoene

Kinders met stukkende skoolskoene wat onder ’n spottery moes deurloop, was vir ’n polisiebeampte van Cradock só erg dat hy ’n jaar lank sy sente omgedraai het om vir die minderbevoorregte kinders skoolskoene te koop.

Leerlinge van die Michausdal Primary School in Cradock wat die nuwe skooljaar met splinternuwe skoolskoene begin het, staan hier by sers. Frank Pieters van die polisie se honde-eenheid. Die leerlinge se gesigte is verbloem om hul identiteit te beskerm. Foto: Verskaf

Gevolglik kon 25 leerlinge van die Michausdal Primary School verlede week met die aanbreek van die nuwe skooljaar met blinknuwe skoolskoene spog.

Sers. Frank Pieters van die plaaslike polisie se honde-eenheid en sy vierpotige kollega, Chaka, ’n patrollie-plofstofhond, besoek gereeld die plaaslike en omliggende skole om lesse oor veiligheid aan te bied.

Dit is hier waar hy bykans daagliks sien hoe kinders geterg word oor hul skoene wat flenters geloop is, of selfs kaalvoet moet skool toe kom. Dikwels veroorsaak dit dat van hierdie leerlinge eerder by die huis bly as om die spottery by die skool te verduur.

Sers. Frank Pieters en sy vierpotige kollega, Chaka. Foto: Verskaf

“Ek is amper elke dag by die skole en sien dit so baie. Ek het verlede jaar die projek met twee pare skoolskoene begin – een vir ’n seun en een vir ’n meisie.

“Die onderwysers het my gehelp deur die regte skoengroottes te verskaf,” sê hy.

In die loop van 2019 het Pieters 24 pare skoolskoene uit sy eie sak gekoop en selfs sy kollegas omgepraat om een paar skoene te verskaf.

Hoewel hy gehoop het om veel meer skoene uit te deel, was die glimlagte op die leerlinge se gesigte genoeg om hom beter te laat voel.

“Ek het verwag ek sal meer kan oorhanding. Maar om die kinders se gesigte daardie dag te kon sien, het ’n verligting gebring wat my laat voel het dat ek iets goeds vir iemand anders gedoen het.”

Omdat Pieters dit ook nie altyd breed gehad het op skool nie, weet hy hoe baie ’n eenvoudige paar nuwe skoolskoene vir ’n kind se selfvertroue kan beteken.

Dié skoolkinders het verlede week ook nog skaars hul nuwe skoene se veters vasgebind toe begin Pieters weer hard aan vanjaar se projek werk.

“Vanjaar gaan ek verder gaan. Ek wil meer doen en daarom gaan ek ander mense en ondernemings by die projek probeer betrek sodat ons volgende jaar meer kinders kan help,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.