Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Sit aan met die langore

’n Besoeker, Lucian Gomwez (11), en die donkies van Dassiesfontein by hul tafel en stoele. Foto:Edrea du Toit
By ’n padstal langs die N2 kry gróót drome gestalte, skryf Julian Jansen.

Het jy al gesien hoe ’n donkie-gesin by ’n tafel met stoele aansit vir ete?

Jy kan. Regtig. By Dassiesfontein, ’n gewilde padstal op die N2 tussen Botrivier en Caledon in die Overberg, is die sewe donkie-inwoners se blyplek pas uitgerus met ’n tamaai houttafel, kompleet met tafeldoek en blomme, plus twee stoele.

Nou ja, hulle sit nie regtig aan nie, die donkies hang eerder rond in die skadukol onder die 2,8 m hoë tafel en 3,4 m hoë stoele en smul aan wat die boer Sassie Fick vir hulle in hul voerbak voorsit.

“As hulle die plaas se groen Jeep sien, kom hulle al aangehardloop vir die soutblok en lusernpille,” vertel Andeline Lakay, die padstal se bestuurder.

Smaaklike ete
Jou pad na Dassiesfontein is dikwels geel ingekleur. Foto: Julian Jansen

Dis ook nie net die langore wat lekker eet nie. Elsa Roux en haar span sit enigiets van varsgebakte brood en pasteie tot kookkos soos beesvleiskerrie, soetpatats en -wortels voor.

Die reis daarheen is ook die moeite werd.

Beesvleiskerrie, soetpatats en -wortels, plus plaasbrood is gunstelinge op Sondag se spyskaart.Foto: Julian Jansen

Die padstal lê op Sassie en sy vrou, Alda, se familieplaas en in hierdie tyd word dit omring deur kanolalanderye in vol blom.

Sassie vertel hy’t die yslike meubelstukke gemaak om aandag te trek en sonder om gebind te word deur die regulasies vir advertensies langs die nasionale pad en op landbougrond.

En aandag trek dit beslis. Toe foto’s daarvan boonop op sosiale media verskyn, het mense, veral ná die verslapping van die inperkingsregulasies, self kom kyk.

Andeline sê besoekers bring sommer self wortels om vir die donkies te gee.

Dassiesfontain se sewe donkies kry weekliks voet- en velsorg! Foto: Julian Jansen

Gróót werk

Die idee het reeds so ses jaar terug ontstaan toe Sassie-hulle ’n foto van sulke meubels van Duitsland ontvang het.

Eers tydens die nasionale inperking het hy weer op dié foto afgekom en vir Derick Jeken in Caledon gebel: Hy soek dié rustieke en aardse ameublement.

Derick vertel aan Rapport Sassie vra eintlik al die afgelope drie jaar “tong in die kies” dat hy die reusemeubels maak.

Dié keer het sy versoek vrugte afgewerp.

Menige motoris se kop draai as hulle Dassiesfontein se donkies sien. Foto: Julian Jansen

“Ek het die konstruksie tuis met ’n elektriese sagie, ’n skaaf en ander handgereedskap aanmekaargesit. Die dele is met die tong-en-groef-metode aanmekaargesit,” vertel Derick.

“Mens, dis ’n groot werk,” gaan hy voort. “Régtig. Elke tafelpoot weeg 100 kg. Die blomme en tafeldoek is heavy duty.

“Die tafelblad is vrek swaar en bestaan uit vier stukke. My vrou, Maryke, moes help om elke blad te draai sodat ek daaraan kon skaaf.

“Alles saam weeg 1,8 ton.”

Die dag dat alles by die padstal aanmekaargesit is, was daar boonop ’n tierende wind van sowat 100 km/h. Alles moes toe nóg versterk word.

Die donkies kon hul nuuskierigheid nie beteuel nie en het gou nader gestaan. Toe hulle eers gemaklik is, het ’n paar aan die bokse begin knibbel en die goiingsakke met sand uitgeskud, vertel Derick.

Wat’s in ’n naam?

Die ses groot donkies is naamloos, maar die jongste, wat tydens die inperking gebore is, se naam is Lockdonia.

“Ons gaan moontlik die publiek vra om die ander ses name te gee. Dit sal nou fun wees!” sê Andeline. “Sjoe, dan moet ons vir elkeen ’n naamplaatjie aansit.”

Die donkies bly gewis lekker daar. ’n Mens kan sien hulle is in topkondisie en Andeline vertel hulle word baie goed versorg.

Een keer per week word selfs hul pote en naels versorg. “Tarryn kom van Botrivier in en dan borsel sy hulle sommer goed ook,” vertel Andeline.

“Ons het destyds begin met twee donkies. Ons het nooit die donkies verkoop nie, eerder weggegee, maar eers seker gemaak dat hulle ’n geskikte tuiste vind.”

’n Lekker werkplek
Dassiesfontein se 7 donkies en reuse houtmeubels is ’n groot aantrekkingskrag. Foto: Julian Jansen

Andeline is vol lof vir haar werkgewer.

“Die eienaars is baie goeie mense. Baie plekke het met die inperkingwerkers afgelê, maar mnr. Fick het vergaderings met ons gehad, vir ons gesê: ‘Ek is baie lief vir julle. Ons sal daaraan dink ás ons daar kom.’

“Eindelik het ons net April toegemaak.

“Toe kom ons terug en verkoop net noodsaaklike goed.”

Sassie sê hy kon van April vir vier maande gelukkig met spaargeld sy werkers betaal en ander verpligtinge nakom.

Andeline is uitasem oor die opwindende gebeure by Dassiesfontein.

“ ’n Mens sal nooit besef nie, nè, daai tafel en stoele trek aandag. Nee, ons gaan dit ook nie ’n kleur verf nie, dit gaan nie by ons image inpas nie. Hou dit eenvoudig.

“Sondae is die eetplek volbespreek en mense moet maar vroeg besprekings doen, ook as hulle tuisgebakte brood wil saamvat huis toe. Ons pies is ook baie gewild.”

Sassie sê daar is nog planne vir die padstal. Hy het sonpanele op die gebou se dak en wil krag aan Eskom verkoop. Hy beplan ook reeds aan ’n bergfiets-en-staproete in fynbosveld.

“Dan wil ons die heerlike pasteie wat Elsa en die personeel maak, uitbrei met nog wegneemetes, ons eie organiese groente verbou en plaaslike produkte aanvul en oorsee gaan soek.”

  • Besoek Dassiesfontein se Facebook-blad of skakel 028 214 1475 vir meer inligting.
Meer oor:  Donkies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.