Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Skitter op die strand

Om ’n swembroek vir die somervakansie te kies, bly vir talle ’n netelige saak. Daniëlla van Heerden vra kenners se raad oor styl, snit en hoeveel om te bestee.

Hierdie protea-ontwerp is modieus én patrioties. R980 by gabrielleswimwear.com.

Hoe kry jy die perfekte bikinilyf?

Sit bloot jou lyf in ’n bikini! Dis maar net een van die liggaamspositiewe mantras wat die afgelope tyd wyd op sosiale media gedeel is. As deel van dié neiging val die klem hierdie somer dus minder op wat jou liggaamsvorm kwansuis sou dikteer jy moet dra, en meer op wat gemaklik en bekostigbaar is – en natuurlik steeds in voeling met die mode van die dag.

Anja van der Spuy, stylkenner van die blog Glitz & Grammar (www.glitzandgrammar.co.za), sê wanneer jy ’n swembroek se styl en prysklas oorweeg, moet jy gaan dink waar en wanneer jy dit die meeste gaan dra. “As jy byvoorbeeld op ’n strandvakansie gaan, moet jy seker maak jy’t ’n stewige kostuum wat die branders kan trotseer. Jy wil nie skielik jou bikinitop in die water sien dryf nie!”

Dit geld ook vir wanneer jy besluit hoeveel jy gaan opdok. “Dink oor hoe lank jy wil hê die swembroek moet hou. As dit iets moois is vir ’n Instagram-foto of ’n temapartytjie, kan jy minder bestee; as jy wil hê dit moet ’n paar seisoene hou, sal jy moet begroot en opdok vir gehalte.”

Die plaaslike ontwerper Gabrielle Kool, van die handelsnaam Gabrielle Swimwear (www.gabrielleswimwear.com), stem saam. “Natuurlik besef ’n mens die ekonomie knyp en verbruikers moet deeglik nadink oor elke kopie. Goeie swembroeke is nie goedkoop nie, maar met rede.

“Ek besef vroue is dikwels selfbewus wanneer hulle in die kledingstuk moet verskyn, en daarom skenk ek baie aandag daaraan dat my kliënt selfvertroue moet hê wanneer sy die produk dra.

“Dit moet noupassend wees op die regte plekke en beslis nie oopgaap of hang waar dit nie moet nie. Vir sulke soort gehalte betaal ’n mens wel ’n bietjie ekstra, maar dit beteken ook jy gaan die swembroek ’n hele paar seisoene kan dra.”

Anja beveel aan dat jy in die aanpashokkie met die swembroek aan gaan sit om seker te maak dit is nie ongemaklik nie.

“Dis nie die soort ding wat jy eers langs die swembad wil besef nie.” Gemak bly volgens haar die belangrikste oorweging.

Groot nuus in 2019

Bikinibroekies met ’n hoë middel, wat mode was in die 1980’s, is terug. Hierdie een kos R580 by gabrielleswimwear.com.
Hierdie bikinibroekie met ’n hoë middel kos R199 by Woolworths.

Hoë middeltjies

“Dit herinner aan die 1980’s en 1990’s se styl, wat nou weer kop uitsteek,” sê Anja. “Eers het gestopte Alice bands en moon bags weer hul opwagting gemaak, en dit maak sin dat die neiging ook na swemklere sou oorwaai. Dink maar aan die ikoniese rooi Baywatch-swembroeke. Beroemdes soos Kim Kardashian en Suid-Afrika se Nadia Jaf­tha dra vanjaar ook sulke swembroeke.”

Fauna en flora

“Luiperdvel en ander dieremotiewe was al wat ’n winkel is vol hierdie winter en lente en dit sal ook op die strande te sien wees,” sê Gabrielle. “Dit maak eintlik so elke tweede of derde jaar weer sy opwagting.” Die natuur druk ook sy stempel af in die vorm van plantmotiewe, met baie materiale wat bedruk is met varing-, hibiskus- en piesangblaarmotiewe.

“My strelitzia- en tarentaalpatroon-swembroeke is al van 2015 af ’n treffer onder kliën­te, en ek het nou ook ’n pragtige protea­materiaal bygevoeg.”

Sportief

Dis ’n tydlose styl, wat hierdie seisoen sy opwagting maak in die vorm van vol branderplankstyl-swembroeke, halternekke en ritssluiter-detail. Dis ook prakties as jy iemand is wat graag in die see baljaar.

Natuurpatrone én ’n sportiewe snit is hoogmode. R799 by superbalist.co.za.

Vroulik

Romantiese style is ook groot nuus, soos gesmokte materiale, fyn blompatrone en selfs ouderwetse valle.

Ringe wat die materiaal bymekaar hou, maak ook weer ’n modedraai. Boonop het hierdie bikinibostuk ’n baie modieuse slangvelmotief. R299 by Woolworths.

Bykomstighede

Swembroeke kom sommer met hul eie bykomstighede, en veral ringe wat die materiaal bymekaar hou en gordeltjies om die middel is groot nuus.

Foto:

Vir die Adams

Met Springbok-rugbyspeler Faf de Klerk wat in ’n onderbroek met die Suid-Afrikaanse vlag daarop in die aantrekkamer gepronk het ná die span se wêreldbeker-oorwinning, kan dié styl dalk ook net op die strand kop uitsteek.

“In 2019 is die wagwoord vir die manne koördinasie,” sê Anja. “Hulle kan dus hulle swembroek en hemp bymekaar laat pas met blomme in die Hawaaise styl. En ja, as jy die selfvertroue van ’n Faf het, rock gerus daai onderbroekstyl-swembroek!”

Anja maan jy moet nie jou swembroek in die wasmasjien gooi nie.

“Dit sal veel langer hou as jy dit met die hand was, en die water saggies na die tyd uitdruk. Hang dit op in ’n droë area, maar nie in direkte sonlig nie want dan gaan die kleure baie vining verdof



Meer oor:  Styl  |  Somervakansie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.