Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
‘Skool nie altyd maklik’ vir dié W-Kaapse Mej. SA-finaliste

Twee van die Mej. Suid-Afrika-kompetisie se toptien-finaliste sê hul skooljare was nie altyd maklik nie.

Bianca Bezuidenhout (22), wat in die Strand woon maar in Bloemfontein skoolgegaan het, sê sy is op skool op sosiale media geboelie en het nie eintlik vriende gehad nie.

Catherine Groenewald met Leeukop op die agtergrond..
Bianca Bezuidenhout op die strand. Foto: Instagram
Die Wes-Kaapse finaliste by die Table Bay Hotel in die V&A Waterfront. Van links is Bianca Bezuidenhout, Catherine Groenewald en Jeanni Mulder. Foto: Indirect Media

Catherine Groenewald (23), wat in Wynberg op skool was, sê sy is oor die hoof gesien vir leierskapsposisies en ’n loopbaan-raadgewer by die skool het selfs vir haar gesê haar droom om bekendheid te verwerf en ’n verskil te maak is buite haar bereik.

Nou staan dié twee vroue egter die kans om Mej. Suid-Afrika te word en die land internasionaal te verteenwoordig.

“Ek het omtrent ’n hele dag lank van blydskap gehuil,” sê Groenewald, ’n model, student in grafiese ontwerp, fiksheidsinstrukteur en eienaar van ’n aanlyn bakkery.

“Dis wonderlik om in ’n posisie te wees waar mense wil hoor wat jy te sê het. Ek wil mense so graag help en inspireer.”

Dit is die derde keer dat Groenewald haar vir die kompetisie inskryf en die eerste keer dat sy in die toptien is.

Sy sê die vorige kere was die teleurstelling groot, veral omdat daar van almal vereis word om op sosiale media aan te kondig dat hulle inskryf.

“Ek is ’n voorstander van harde werk. Ek het volhard en ’n voorbeeld probeer wees vir dit waarin ek glo,” sê sy.

Daar is ’n wanopvatting dat daar katterigheid in so ’n kompetisie is, maar dit is glad nie so nie. Ek het vriendinne vir ’n leeftyd gemaak.

Sy sê sy is mal oor al die grimering, haarstilering en hoëhakskoene, maar geniet dit ook om in haar pajamas en sonder grimering by die huis te wees.

“Dit is wie ek regtig is, en ek wil vir mense daardie kant van my wys. Dit is die Catherine vir wie my ouers ook vreeslik lief is.”

Groenewald is enkellopend en hoewel haar pa Afrikaans kan praat, is sy Engelssprekend. Haar ma is in Engeland gebore en sy sê haar ouers ondersteun haar in alles wat sy doen.

Sy sê sy hoop om, volgens haar, die eerste rooikop-Mej. Suid-Afrika te word.

Bezuidenhout sê vandat sy die nege ander finaliste ontmoet het, weet sy hoe dit voel om ’n klomp goeie vriendinne te hê.

“Daar is ’n wanopvatting dat daar katterigheid in so ’n kompetisie is, maar dit is glad nie so nie. Ek het vriendinne vir ’n leeftyd gemaak.”

Bezuidenhout, ’n honneurstudent in mediastudie, dansinstrukteur en eienaar van ’n aanlyn swemklereonderneming, sê sy het aanvanklik beplan om haar eers in 2022 vir Mej. Suid-Afrika in te skryf.

“Maar die Here het dit op my hart gelê dat ek moet opdaag, en ek is sielsgelukkig dat ek dit gedoen het. Dit voel asof ek geroep is.

“Op skool het ek nie soos ’n leier gevoel nie. Ek het nie gedink ek is gekwalifiseerd om ’n leierskapsposisie soos Mej. SA in te neem nie. Maar iemand het gesê: ‘Die Here roep nie die gekwalifiseerdes nie, maar kwalifiseer dié wat hy roep.’ ”

Ek was nog altyd die een wat die voorspellings gemaak het, nou is ek in die voorspellings!

Bezuidenhout sê Dinsdag toe sy deur Rolene Strauss, voormalige Mej. Wêreld, aangewys is as ’n toptienfinalis, het dit gevoel asof sy langs haar ousus staan.

“Ek weet al van Rolene van die tyd toe sy hoofmeisie was van haar skool in Volksrust in Mpumalanga. Almal het gepraat oor hoe mooi sy is. Ek is na ’n hoërskool in Bloemfontein en ons het by dieselfde persoonlike afrigter geoefen.

“Nou het ons albei se paaie ons na die Kaap gelei. Sy voel regtig soos ’n ouer sussie. Dit was ’n groot eer om die verhoog met haar te deel.”

Bezuidenhout sê sy was nog altyd ’n aanhanger van die Mej. Suid-Afrika- en die internasionale kompetisies waaraan die land se verteenwoordigers deelneem.

“Ek was nog altyd die een wat die voorspellings gemaak het, nou is ek in die voorspellings!”

Die ander Wes-Kaapse verteenwoordiger is Jeanni Mulder (24) van Seepunt. Sy is ook ’n model en is die meisie van die Suid-Afrikaanse Olimpiese swemmer Chad le Clos. 

Die Mej. Suid-Afrika-kompetisie vind op 16 Oktober in die GrandWest Grand-arena plaas, waar Shudu Musida, huidige kroondraer, haar opvolger sal kroon.

Meer oor:  Mej. Sa  |  Catherine Groenewald  |  Wes-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.