Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Skoonmaker se Bybel kry nuwe lewe

’n Skoonmaker se stukkende Bybel kry nou nuwe lewe danksy ’n barmhartige Samaritaan, Mia McDonald, wat in ’n Facebook-inskrywing gevra het vir hulp om dié erfstuk te restoureer.

Onica Ledwaba (46) van Mamelodi, wat die afgelope 18 jaar ’n skoonmaker is, sê sy het verlede week vol hoop met haar Bybel by ’n boekwinkel ingestap sodat dit gered kan word.

Mia McDonald en Onica Ledwaba in The Owl-boekwinkel.

McDonald, die eienaar van Owl Books in Villieria, Pretoria, sê toe sy dié Bybel die eerste keer sien, het dit onherstelbaar gelyk.

“Dit het uitmekaar geval, maar ek wou nie vir Onica, ’n skoonmaker by die sentrum waar die boekwinkel geleë is, teleurstel nie,” sê McDonald.

Ledwaba sê sy lees elke dag uit haar Bybel.

“Maar omdat dit letterlik besig is om uitmekaar te val, is dit moeilik om dit te gebruik. Toe Mia vir my sê sy kan dit regmaak, het dit my baie bly gemaak.”

Ledwaba sê die Bybel is baie spesiaal, want dit het aan haar ma behoort.

“Toe my ma in 2002 sterf, was dit een van die goed wat ek by haar geërf het.”

Terwyl Ledwaba hoopvol en met ’n blye hart by die boekwinkel uitgestap het, het McDonald hande in die hare gesit.

“Die Bybel was nie in ’n goeie toestand nie. Ek het aanvanklik gedink dit sou beter wees as ek eerder vir haar ’n splinternuwe een koop,” sê sy.

“Soos ek later deur die Bybel geblaai het, kon ek verskeie onderstreepte verse sien. Ek het toe besef daar’s geen manier dat ek dié Bybel kan vervang nie.

“Boonop het ek ook nie geweet waar ek nog ’n Tsonga-Bybel in die hande sou kry nie.”

Onica Ledwaba se Bybel.

McDonald sê Ledwaba het dit ook nie makliker vir haar gemaak nie.

“Sy het reguit na die klassieke afdeling gestap, ’n Dickens-boek met die mooiste leeromslag uitgehaal en gesê, ‘dit moet só lyk’.”

Ledwaba sê sy het intussen dié Bybel vervang. “Ek het ’n ander Tsonga-Bybel in my sak, maar ek vind dit moeilik om te lees. Ek verstaan niks wat in dié Bybel geskryf is nie,” sê sy.

Volgens Ledwaba, wat vyf Bybels het, is dié Bybel wat tans gerestoureer word, haar gunsteling.

“Ek weet presies waar om watter vers te kry. Dit lees net lekkerder as al die ander Bybels.”

Behalwe die twee Tsonga-Bybels, het Ledwaba ’n Engelse, Sotho- en Afrikaanse Bybel.

“Die Afrikaanse een lees ek met ’n woordeboek langs my,” sê Ledwaba.

Dit is hoe Onica Ledwaba se Bybel lyk.

McDonald sê sy het besef die boek is duurder om te restoureer as wat sy aanvanklik gedink het.

“Nadat ek Onica beloof het ek sou die boek vir haar restoureer, het ek die volgende dag my dilemma op Facebook gedeel.”

’n Paar minute na dié inskrywing het McDonald genoeg geld ingesamel om die boek te restoureer.

“Dit is wonderlik hoe gou mense gereageer het. Een van die skenkers van Kaapstad het prontuit gesê sy is glad nie gelowig nie, maar dié storie het haar so geraak.

“Ek is ook dankbaar vir die twee ander vroue wat hul harte en beursies vir Onica oopgemaak het.”

McDonald sê sy is bly Ledwaba het haar met iets so spesiaals vertrou.

“Die Bybel gaan oor ’n paar weke gereed wees en Onica weet glad nie dat ek haar storie met die wêreld gedeel het nie. Sy dink steeds dit gaan haar R20 kos om dié Bybel te restoureer (dit is gewoonlik die prys om boeke reg te maak).

“Ek hoop sy hou daarvan.”

Meer oor:  Mia Mcdonald  |  Onica Ledwaba  |  Mamelodi  |  Skoonmaker  |  Restourasiewerk  |  Bybel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.