Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Slaapsorge in 'n pandemie: Wat ’n nagmerrie . . .

Klein kinders kry dikwels tydens inperking nagmerries oor Covid-19 en sukkel daarom om te slaap, sê dr. Wessel Vermeulen. Foto: iStock
Die angs en spanning weens die Covid-19-pandemie veroorsaak dat al hoe meer mense nagmerries kry, skryf Landi Slatter.

‘Wat is die slaap ’n wondersoete ding!”

Só het D.F. Malherbe donkiejare gelede geskryf. As hy maar net geweet het watter uitdagings ons in hierdie vreemde tye sou moes oorkom om rustig te slaap . . .

Wat veronderstel is om ’n wondersoete ontsnapping te wees, het vir baie mense in ’n nagmerrie-ervaring ontaard – letterlik.

Al hoe meer mense begin kla dat hulle wakker lê snags, en wanneer hulle uiteindelik aan die slaap raak hulle nagmerries kry en dan nie soggens uitgerus voel nie.

Al hoe meer mense begin kla dat hulle wakker lê snags, en wanneer hulle uiteindelik aan die slaap raak hulle nagmerries kry en dan nie soggens uitgerus voel nie.

“Ja, ek kan ’n duidelike toename sien in die getal pasiënte wat sedert die inperking kom aanklop omdat hulle nagmerries kry en sukkel om te slaap,” sê dr. Wessel Vermeulen, wat al vir 40 jaar ’n huisarts is en op die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) dien.

Wessel sê van klein kinders tot bejaardes kom sien hom hieroor.

Dr. Dale Rae, senior navorser en direkteur van slaapwetenskap aan die Universiteit van Kaapstad (UK), stem saam.

Sy sê uit anekdotiese getuienis kan sy ook duidelik ’n toename sien in mense wat sukkel om te slaap en selfs nagmerries kry tydens die inperking.

Hoekom?

“Met die kleintjies sal jy dikwels hoor dat hulle nagmerries kry, hulle visualiseer die virus as ’n verskriklike ding,” sê Wessel. Hy sê slaapstoornisse weens die pandemie kan verskillende oorsake hê.

Angstigheid en vrees oor die virus self, veral by sieklike en ouer mense, onsekerheid oor jou toekoms ten opsigte van werk, inkomste, jou gesin se gesondheid asook geleenthede wat verlore geraak het, kan ’n rol speel. Byvoorbeeld iemand wat oorsee wou gaan werk of ’n matriekleerling wat gehoop het iemand sien hom raak by die Cravenweek (en wat nou uiteraard nie kon speel nie) kan alles ’n rol speel.

Dale sê aan die begin van inperking het hulle gesien mense slaap méér. Dit was om slaap in te haal wat hulle vroeër al verloor het, maar nou meld al hoe meer simptome aan wat herinner aan insomnie.

Angs en stres oor gesondheid en werksekerheid kan ook ’n beduidende rol speel in die kwaliteit slaap wat jy snags kry. Foto’s: iStock
Wat kan gebeur as jy nie genoeg slaap nie?

Te min slaap kan volgens Wessel onder meer lei tot hipertensie, vetsug en ’n negatiewe invloed hê op jou oordeels-, fisieke en konsentrasievermoë. Daar word algemeen aanbeveel dat volwassenes tussen sewe en agt uur per nag moet slaap.

Wat kan jy doen?

Dale sê wanneer iemand sukkel om te slaap, en daar is nie ’n mediese toestand ter sprake wat dit veroorsaak nie, is daar gewoonlik ’n probleem in daardie persoon se lewe. “Die kort, maar moeilike antwoord is om met die probleem af te reken.”

Sy sê deur daaroor te praat, al is dit net met ’n vriend of familielid, kan reeds help. “Dit hoef nie noodwendig diep, ernstige gesprekke te wees nie. Dit help vir sommige mense ook om alles in ’n dagboek neer te skryf.”

Kenners beveel aan dat jy nie té veel tyd voor ’n digitale skerm deurbring voordat jy gaan slaap nie.

Dis ook ’n goeie idee om nie te veel skermtyd, hetsy dit nou voor ’n selfoon, rekenaar of televisie is, te kry voor jy wil gaan slaap nie.

“Helder lig, spesifiek kort golflengte blou lig (soos op televisie- en selfoon- of tabletskerms) onderdruk melatonien.”

Dié hormoon word vrygestel wanneer dit donker word en dui vir ons liggame aan wanneer dit aand en “slaaptyd” is.

Vreemde drome

Behalwe vir die kleintjies wat nagmerries kry, sê Dale volwassenes meld ook bisarre, futuristiese of vreesaanjaende drome aan.

“Onthou, wanneer ons droom, verwerk ons inligting in ons onderbewussyn. Alles wat ons beleef, word in ons drome teenoor ons oortuigings en emosies opgeweeg. Hierdie drome is waarskynlik ons wat al die inligting oor die virus en angs oor goed soos werksekerheid probeer verwerk.”

Behalwe vir die kleintjies wat nagmerries kry, meld volwassenes ook bisarre, futuristiese of vreesaanjaende drome aan.

Prof. Kobus Maree, ’n opvoedkundige sielkundige verbonde aan die Universiteit van Pretoria (UP) wie al vier droomboeke geskryf het, sê spanning het sonder twyfel ’n invloed op jou drome. “Sommige drome is maar net drome, maar hoe weet ’n mens? Nagmerries is definitief iéts.”

Hy stel voor jy slaap met jou selfoon naby jou en vertel sodra jy wakker word en nog mooi kan onthou vir jouself waarvan jy gedroom het en wat in jou droom gebeur het. “Drome is soos skadu’s, hulle hardloop weg as die son opkom.” Gesels ook met iemand. Só begin ’n mens patrone en temas raaksien. Drome is ’n magtige bron van inligting en kan ons help om bewustelik inligting in te samel deur dit wat ons in ons onbewuste weet, sê Kobus.

In jou drome

Ons het vir prof. Kobus Maree, wat al vier boeke oor drome geskryf het, gevra wat drie nagmerries waarvan ons te hore gekom het moontlik kan beteken.

* In die verlede het sy gereeld gedroom sy swem in kristalhelder water en sien eksotiese visse, maar nou droom sy sy is “vasgevang” in vuil, bruin water en kan nie sien wat om haar aangaan nie. Daar is ’n gevoel dat daar ’n gevaarlike haai of monster in die water is wat die dromer nie kan sien aankom nie.

Kobus sê: Dit is ’n baie emosionele droom. Visse is ’n teken van fertiliteit. Iets het verander in jou werk of verhouding, of daar is iets wat jy nie kan hanteer nie. Jy is onseker oor wat aangaan. Iets bedreig jou skielik. Dalk is daar kwessies oor kinders of swanger raak.

* Die persoon droom hy is bo op ’n baie hoë gebou en daar is geen trappe of ’n manier om van die gebou af te kom nie. Hy’t nie hoogtevrees nie.

Kobus sê: Hierdie een is ’n algemene droom. Die persoon voel vasgekeer of hulpeloos. Hy voel dalk hy gaan aansien verloor. Wat maak dat hy nie op ’n ander vlak kan funksioneer en ’n bietjie ontspan nie? Hy voel “dis lekker om hier bo te wees, maar angswekkend, want hoe kom ek hier af?”

* Jy droom jy en jou gesin word in jul huis aangeval deur gewapende rowers.

Kobus sê: Dié tipe drome word deur derduisende mense gedroom. Die droom weerspieël waarskynlik ’n absolute werklike, realistiese vrees dat so iets regtig kan gebeur, aangesien ons elke dag van dié goed hoor óf dit kan ook wees dat iets anders jou bedreig laat voel – dalk het jy jou werk verloor.

Meer oor:  Covid-19-Pandemie  |  Nagmerries  |  Spanning  |  Angs  |  Slaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.