Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Slang ry saam op vakansie, word toe rolprentster
Die swart spoegkobra op ’n grasperk.Foto: Verskaf

’n Uiters giftige slang van Namakwaland het vroeër vandeesmaand besluit om ’n saamrygeleentheid vir ’n vakansie op Hermanus te neem – net om ’n paar mense die skrik op die lyf te jaag.

Die swart spoegkobra het twee dae lank in ’n egpaar se huis in Sandbaai vertoef totdat ’n dapper jong man hom kom uithaal het.

Toe dié avontuurlustige spoegkobra van 1,6 m lank se storie begin versprei, het ’n rolprentspan daarvan te hore gekom en besluit om spesiaal uit Potchefstroom te reis om hom te kom afneem.

Corné Uys (19) van Hermanus het Woensdag vertel hoe hy hom in die middernagure van 7 Januarie na ’n huis in Sandbaai gehaas het om ’n egpaar en hul dogter van die uiters giftige spoegkobra te red.

Die middeljarige man aan wie die huis behoort, het iets agter sy kroegyskas gesien beweeg en is toe deur ’n spoegsel gif van dié slang begroet.

Die man het gelukkig ’n leesbril opgehad wat gekeer het dat die gif in sy oë beland, anders was hy moontlik blind.

Hoewel swart spoegkobras dreigend voorkom, is hulle meestal menssku en byt nie sommer nie. Hul gif veroorsaak egter erge pyn, swelling en weefselskade as dit die bloedstroom binnedring.

Die man, wie se naam nie aan Netwerk24 bekend is nie, het Uys gebel toe hy die slang gewaar.

Corné Uys (19) met die swart spoegkobra wat hy in Hermanus gevang het. Foto: Verskaf

“Ek het eers nie geglo dit is ’n swart spoegkobra nie,” vertel Uys. “Hulle kom nie in ons omgewing voor nie en ek het nog nooit met een te doen gehad nie.”

Uys was verlede jaar in matriek aan die Hoërskool Hermanus en vang en hanteer nou slange vir ’n lewe.

By die huis aangekom, het Uys die slang agter die kroegyskas gekry.

“Hulle kom in die Cederberge en in Namakwaland voor, so hy moes saam met die oom-hulle se dogter, wat daar woon, Hermanus toe gery het,” sê Uys.

“Hul dogter was al twee dae by die huis voordat hulle die slang in die huis gekry het. Hy moes in daardie tyd iewers by die huis ingegaan het."

Toe hy die slang van naderby wou bekyk, is hy óók met gif gespoeg.

“Toe weet ek, dit is definitief ’n swart spoegkobra,” sê Uys.

Uys met ’n 4 m lange luislang.Foto: Facebook/Corné Uys

Dit was ’n moeilike proses om die slang agter die yskas uit te kry. Uys sê hy was van kop tot tone vol gif. Sy beskermende klere en bril het gekeer dat dit in sy bloedstroom beland.

“Toe ek hom in die boks sit, spoeg hy my deur die luggat in die gesig. Hy is ongelooflik akkuraat,” sê Uys.

Uys het toe sy ervaring met van sy kollegas in die bedryf gedeel, en kort voor lank het Mathieu van Goethem, ’n dokumentêre rolprentvervaardiger, van die spoegkobra se vakansie in Hermanus te hore gekom.

“Matt het my gekontak en gevra hulle wil die slang kom haal en hom afneem. Ek het die slang sowat ’n week by my huis aangehou en versorg totdat Matt-hulle hom kom haal het.”

Van Goethem sê hy het van Potchefstroom na Hermanus gereis om die slang op te tel en terug te neem Potchefstroom toe. Hy en Willem van Zyl, ’n kollega, het die slang vrygelaat en as deel van ’n dokumentêr oor giftige slange afgeneem.


Meer oor:  Hermanus  |  Spoegkobra
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.