Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Springbok-tatoes
Só tjap jy ’n Bok

Talle Springbokke spog met nuwe tatoes om hul verowering van die Webb Ellis-trofee te herdenk. Johanna van Eeden het met die tatoeëer-kunstenaar gepraat wat aan die Bokke gewerk het.

Bongi Mbonambi kry sy heel eerste tatoe: Die buitelyne van die Webb Ellis-trofee en ’n Springbokkie. Foto’s: Joe Fleming

Die Bok-losskakel Elton Jantjies het die bal aan die rol gesit. Daar, duisend voet hoog in ’n vliegtuig tussen Japan en Suid-Afrika, laat weet hy verlede week vir Thys Uys: Die Bokke soek tatoes.

Elton Jantjies se tatoe van ’n Springbok met die datum van die eindstryd.

Wanneer Elton bidsprinkaan maak in sy kenmerkende aanlê pale toe, kry ondersteuners ’n behoorlike kykie na die kunswerke op sy arms. Thys (39), ’n tatoeëer-kunstenaar en mede-eienaar van Fallen Heroes, ’n tatoe-ateljee in Parkhurst, Johannesburg, het sowat ’n jaar gelede portrette van Elton se seuns vir hom op sy arm aangebring.

Dit was nadat een van Thys se kollegas by Fallen Heroes, Nicolaas Taljaard, ’n tatoe gedoen het vir ’n borg van Elton “wat hom so elke nou en dan ’n Ferrari gee om mee rond te ry”. Toe sien Elton dié ou se tatoe en sê hy wil ook een hê.

Thys gesels vroeg op ’n Woensdagoggend oor ’n Red Bull oor sy ervaring met die Bokke. Hy is ’n rustige ou, wat dié tatoe-ateljee in die Goudstad saam met sy vrou, Jen, oopgemaak het. Dit was nadat leukemie by hom gediagnoseer is. “Jy skrik so bietjie wakker en dink jy moet iets doen met jou lewe, die tyd is min . . .”

Die tatoeëerkunstenaar Thys Uys besig om tatoes vir die Springbokke te ontwerp. Foto:

Terug na Elton se boodskap…

“Gelukkig is hulle toe op een van daai vliegtuie met Wi-Fi,” vertel Thys. Elton laat weet hulle land so 16:30 en die Bokke wil sommer direk van die lughawe af kom vir hulle ink-aandenkings. “Toe sê ek: ‘Ek dink nie jy weet hoe lyk die airport nie!’ ” Duisende geesdriftiges maal toe reeds van vroegdag af op die O.R. Tambo-lughawe in afwagting op hul helde. Elton hou vol, die Bokke gaan kom.

Die tatoeëerkunstenaar Thys Uys besig om tatoes vir die Springbokke te ontwerp.

Thys sê almal by Fallen Heroes wag toe daai aand vir die Bokke. “Sjampanje en alles. Maar die Bokke kom nie. Ek het half geweet . . . gedink die ouens gaan nie opdaag nie.”

Die volgende dag dieselfde ding. Elton laat weet vanáánd is die aand: Die Bokke sien julle net ná 17:00.

Intussen is daar vir die beste rugbyspan in die wêreld ’n dolle mediaveldtog opgesaal en ry hulle met die Bokbus deur Pretoria, Soweto en Johannesburg waar gillende aanhangers mekaar in die strate verdring om ’n flertsie van die Webb Ellis-trofee te sien blink.

Wéér daag die Bokke nie op nie. Dis toe dat Thys vir Elton bel en sê as die ouens wil, dan kom hy sommer na hulle toe. Net daar pak Thys sy kar – beddens, ink, naalde – en voor jy kan sê “soesji” is hy by die Bokke se lughawehotel.

’n Beker, bok en ‘Bomb Squad’

Dis ’n aand wat hy nie gou sal vergeet nie.

“Die meeste ouens was baie keen (om ’n tatoe te kry) . . .” Lede van die Bok-breier se gedugte plaasvervangergroep, die sogenaamde Bomb Squad, was voor in die koor. Dis van hulle wat ’n verslae Eddie Jones, die verlepte Engelse se afrigter, tydens die Wêreldbekertoernooi gesê het: “Rassie stuur sy beste spelers in die tweede helfte op . . .”

Eben Etzebeth en RG Snyman kyk toe hoe Thys Uys die woorde ‘Bomb Squad’ op Franco Mostert se heup tatoeëer. Foto:
Franco Mostert en Thys Uys.

Die slotte RG Snyman en Franco Mostert en rooikopstut Steven Kitshoff het Bomb Squad-tatoes op die regterheup gekry.

“Faf en sy onderbroek was nie daar nie,” vertel Thys laggend. Kaptein Siya Kolisi het kom inloer, maar nie self ’n tatoe gekry nie.

“Die ouens was nie kleinserig nie. Hulle is worthy of the trophy,” sê Thys.

Van al die Bokke wat rééds gespog het met ink op die lyf, bewonder hy die slot RG Snyman s’n die meeste. Dis ’n Viking-geïnspireerde kunswerk, gedoen deur Tony van Tattoo Tony in Pretoria, “ ’n legend in die bedryf”. Dié stukkie kuns sit op die sagmoedige Rudolph Gerhardus se regterskouer.

Die begin van Bongi se tatoes.
Eben Etzebeth en RG Snyman kyk hoe Thys Uys aan Mbonambi werk. Foto’s: Joe Fleming

Thys het ook ’n spesiale tatoe vir die Bokke ontwerp om hulle vir altyd te herinner aan dáárdie dag in Jokohama. Die slot Bongi Mbonambi spog nou met die buitelyne van die Webb Ellis-trofee, die datum van die geskiedkundige oorwinning en ’n klein Springbokkie aan die binnekant van een van daardie bultende boarmspiere van hom. “Dit was sy eerste tatoe, hy was so opgewonde!” vertel Thys.

Hoekom ’n tatoe van ’n spesiale geleentheid?

“Ek dink dis omdat dit so permanent is. Die geleentheid is één oomblik. ’n Tatoe is ’n goeie herinnering aan daardie oomblik. Dis ’n terugblik na iets wat jou lewe verander het, impak gemaak het, ’n course changing event.”

Daar is ook ’n neiging om ’n spesiale datum nie bloot alleen op die vel aan te bring nie, maar dit iewers in ’n komplekse ontwerp weg te steek, byvoorbeeld in die nommerplaat van ’n motor. “Dis subliminal,” verduidelik Thys.

Baie mense vra ook deesdae vir ontwerpe wat sakhorlosies insluit. “Dis baie algemeen. Ek dink dis omdat dit maklik is om ’n datum daarby in te werk . . . ook oor die hele idee van time is precious, every minute counts en ons is híér, nóú.”

Mense vra steeds vir tatoes van leeus en tiere. En soms wil ’n paartjie bloot hul troetelnaampies vir mekaar uitbeeld. Thys vertel van ’n man en vrou wat tatoes het van ’n draak en ’n seerower. “Dit klink soos ’n cool movie, maar dis hulle storie.”

Nóg ’n gewilde versoek is om ’n permanente pand aan jou ringvinger aan te bring. “Almal gaan in die huwelik in met die idee, it’s a tattoo, it’s forever. Dis ’n mooi ding. Dis presies wat ’n huwelik suppose is om te beteken,” sê Thys. Hy en Jen het sewe jaar gelede die knoop deurgehak. “Hulle sê as jy jou man of vrou se naam op jou laat tatoeëer, jinx jy die hele ding. Tatoe dit liewer in jou hart,” is Thys se raad.

Maar is dit nie seer nie? Dit wissel van kliënt tot kliënt, verduidelik Thys, wat vandat hy kan onthou op sy maats geteken het.

Deesdae word hy betaal om op mense te teken. Om ’n volgrootte tatoe – van skouer tot pols – aan te bring, vereis ses sessies van ses ure lank, teen R1 300 per uur. ’n Permanente trouring sal jou tussen R800 en R1 000 uit die sak jaag.

RG Snyman het ook “Bomb Squad” op sy heupbeen laat tatoeëer.

En die woorde Bomb Squad?

“Verniet op ’n spesifieke individu. Daai was ’n voorreg gewees. Daai ouens is super heroes.”

Thys sê omtrent die helfte van die tatoes wat by Fallen Heroes gedoen word, word gedoen om vorige mislukte pogings toe te teken.

Hy raai mense aan om mooi te dink en hulle huiswerk te doen vóórdat hulle ’n permanente kunswerk laat aanbring. “As jy sien ’n tatoe-kunstenaar is nie ’n paar weke vooruit geboek nie, moet jy vra om te kyk na sy vorige werk. Hoekom is die ou nie besig nie?”

En maak seker die kunstenaar se styl val in jou smaak. “Dis soos wanneer jy by ’n galery instap en ’n kunswerk sien. Een ou gaan mal wees daaroor, vir jou sê dit niks. Jy hou dalk van Gustav Klimt, maar gaan na Michaelangelo vir ’n tatoe . . .”

Maar, sê Thys, daar is ook ander redes waarom mense ’n tatoe wil verwyder. “Jou lewe verander . . .” Hy vertel van ’n man wat sy seun se naam groot oor sy bors laat tatoeëer het. In ’n woordgeveg met sy meisie, laat val dié toe: “Jy’s nie regtig die pa nie!” Ná DNS-toetse was die man terug by die tatoe-winkel vir wit ink oor die naam, voor ’n ander tatoe bo-oor aangebring is.

Thys sê as jy regtig ’n tatoe wil laat verwyder, beveel hulle laserbehandeling aan, “maar dis ’n seer storie”.

Renée Cummings, ’n mediese estetikus by die Laser Clinic in Milnerton, Kaapstad, sê hulle verwyder tatoes met drie verskillende lasermetodes en kliënte betaal van R150 tot R50 per vierkante sentimeter.

Volgens Cummings laat baie mense tatoes verwyder weens werk, omdat hulle byvoorbeeld aansoek doen vir ’n pos by die polisie of as lugwaardin.

“Ander wil trouringe laat verwyder. Ons het ook ’n hele paar pasiënte wat wil wegdoen met ’n tatoe wat net die vorige dag aangebring is, omdat hulle nie hou van die uitkoms nie. Ons kan dit egter eers doen wanneer die vel genees het.

“En dan kry ons mense wat ’n tatoe wil laat verwyder wat hulle self of ’n vriend sommer by die huis aangebring het. Dit gebeur nogal gereeld.”

Meer oor:  Oorwinning  |  Springbokke  |  Webb Ellis-Trofee  |  Herdenk  |  Tatoes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.