Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Sodat ons nie vergeet

Apartheidsmuseum doen meer as ontstel, skryf Inge Kühne.

By die ingang moet jy die deur gebruik van die ras wat aangedui word op jou toegangskaartjie. Dié kaartjies word lukraak toegewys.Foto: Antoine de Ras

Met ministers van finansies en politieke skandale wat teen ’n verbysterende spoed die een op die ander volg, is dit moeilik genoeg om tred te hou met wat verlede maand in dié land gebeur het. Wie het dan krag om weer die hele pynlike geskiedenis van apartheid oop te krap, het ek voor my besoek aan die Apartheidsmuseum in Johannesburg gedink. Maar ons durf nie vergeet nie, het ek gou weer besef. Nie die helde óf die skurke van die verlede nie . . .

’n Goue draad van versoening

“To be free is not merely to cast off one’s chains, but to live in a way that enhances and respects the freedom of others.”

As deel van die uitstalling is daar vele bordjies uit die verlede wat aandui “slegs blankes” of “slegs abantsundu, kleurlinge en Asiërs” mag spesifieke deure of toilette gebruik. Foto: Terésa Coetzee

Dié aanhaling van Nelson Mandela begroet besoekers by die ingang van die museum reg langs Gold Reef City se pretpark.

Dit sou maklik gewees het, en streng gesproke nie verkeerd nie, om hierdie ’n woedende uitstalling te maak oor Suid-Afrika se apartheidsverlede. ’n Mens sou kon verstaan as die Apartheidsmuseum net ’n monument was van pyn en teregwysing. Maar dit is nie.

Verstaan my mooi, daar is baie ontstellende beelde van geweld en vernedering – amper te veel om te verduur.

Die tragedie van menseregteskendings en die onregte van die verlede word noukeurig uitgebeeld op foto’s, in koerantberigte en skrikwekkende video’s.

Maar deur dit alles loop ’n goue draad van versoening en hoop.

’n Mens hoor dit in die woorde van Nelson Mandela in sy eerste televisie-onderhoud ooit met die BBC in 1961. Toe hy gevra is of hy ’n toekoms sien vir wit mense in die land, sê hy sonder huiwering: “Ons het dit baie duidelik gemaak in ons beleid dat Suid-Afrika ’n land is van baie rasse. Daar is plek vir almal.”

Galgtoue wys ook na die tyd wat die doodstraf nog wettig was en toegepas is in Suid-Afrika. Foto: Lisa Hnatowicz

Steve Biko eggo dit in ’n onderhoud met ’n Duitse televisiekanaal: “Ons sien ’n totaal nierassige samelewing . . . Ons glo in ons land sal daar geen meerderheid wees nie en geen minderheid nie. Daar sal net mense wees.

“En daardie mense sal dieselfde status hê . . . Dit sal ’n gelyke, nierassige samelewing wees.”

Die versoening kry gestalte in die uitstalling oor die eerste demokratiese verkiesing in 1994 en veral in ’n video oor die dag wat Mandela een van die bestes van sy lewe genoem het: die dag in 1995 toe Francois Pienaar se Springbokke die Wêreldbeker-rugbytoernooi gewen het en alle Suid-Afrikaners saam in die strate feesgevier het.

Jy’s geklassifiseer

Jou toegangskaartjie by die museum klassifiseer jou lukraak as “blank” of “nie-blank”. Daar is twee ingange, een vir “blankes” en een vir “nie-blankes”.

Dis ’n baie treffende manier om die besoeker te herinner hoe apartheid met mense se lewens gemors het.

Dit sou gaaf gewees het as daar meer sulke interaktiewe elemente in die uitstalling was, veral om die geskiedenis aan jonger besoekers oor te dra.

Toe ons daar was, was daar ’n tydelike uitstalling oor Mandela se lewe, kompleet met die rooi Mercedes wat werkers van die Mercedes-Benz-fabriek ná sy vrylating as ’n geskenk vir hom gemaak het.

Nogal roerend is die besoekersboek waarin elkeen van die besoeke wat hy in die eerste dekade op Robbeneiland ontvang het, noukeurig genotuleer is. Die kuiertjies was elk maar tussen 30 en 60 minute lank en daar het maande verloop tussen elke besoek.

Die permanente uitstalling vertel die tragiese storie vanaf die vroeë Afrikaner-politiek tot die geboorte van apartheid, die teenkanting en uiteindelik die bloedige verset daarteen.

Vir jonger mense wat Suid-Afrika eers ná die oorgang leer ken het, is dit noodsaaklik om die moeilike stuk geskiedenis te leer, maar selfs as jy dáár was toe die land gebrand het, is ’n besoek aan die museum ’n belangrike herinnering aan dit wat was.

Want hoe kan ons dit wat nou verkeerd is, probeer regmaak as ons nie bereid is om te onthou hoe ons hier gekom het nie?

Soos die bekende aanhaling uit Milan Kundera se The Book of Laughter and Forgetting lui:

The struggle of man against power is the struggle of memory against forgetting.”

Tye en toegang

  • Die museum is elke dag oop van 09:00 tot 17:00.
  • Toegang kos R85 vir volwassenes en R70 vir kinders en pensioentrekkers.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.