Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Son skyn weer ná groot donkerte

Dit voel soms asof niks sin maak in die lewe nie, maar moet nooit moed opgee nie, sê Karen Swanepoel, ná die grootste tragedie kan jy weer geluk vind. Deur Maretta Bellingan.

Desiré sit op ma Karen se heup wanneer sy die voordeur vir my oopmaak. Die kleinding kyk onseker na die vreemde tannie en glimlag skamerig.

Op die bank in die sitkamer kraai haar tweelingboetie Reynard van die lag wanneer oupa Gerrit soentjies in sy nek blaas. Dis ’n gelukkige prentjie.

Karen maak tee en ons gaan sit in die gesin se braaikamer. Agter my stoel hang ’n muurbehangsel met die woorde: Cherish yesterday, Live today, Dream tomorrow.

Ek wonder hoe sy gevoel het toe sy gehoor het van die brandtragedie in die Kalahari ’n paar maande gelede waarin byna drie gesinne uitgewis het.

“Dis baie hartseer. Ek het ongelooflike empatie met die twee ma’s wat die tragedie oorleef het,” sê Karen wat agt jaar gelede haar man Sckalk (39) en twee kinders, die vyfjarige Jeanelle en tweejarige Juan, in ’n motorongeluk verloor het.

“Die raad wat ek vir hulle sal gee, is vat een dag op ’n slag. Die Here sal vir jou die krag gee om daardeur te kom. Jy’s gespaar vir ’n rede, dit lyk nou baie donker om jou, maar die son sal weer skyn.”

Niks kan jou daarop voorberei nie

Karen en haar gesin het destyds in die myndorpie Kathu gewoon. Sckalk was ’n projekingenieur op die myn en die gesin het baie getrek, hulle was maar net duskant ’n jaar in Kathu. Op 10 Januarie 2012 was die gesin op pad terug huis toe ná ’n besoek aan familie in Gauteng.

“Sckalk was ’n perfeksionis, dit het hom altyd gepla dat sy pa sy naam verkeerd gespel het toe hy dit geregistreer het,” onthou Karen laggend.

“Ons het mekaar in 1999 in Koffiefontein ontmoet waar ek as ’n dieetkundige werksaam was.

“Jeanelle is in 2006 gebore. Sy was pa se kind, ’n perfeksionis, saggeaard, lief vir lees en baie kunstig. Juan het drie jaar later sy opwagting gemaak, ’n ware sonstraal. Baie lief vir buite speel en vir musiek, hy wou net heeltyd dans. ’n Dierbare kind, hy het byna nooit gehuil nie.”

Van die ongeluk wat haar hele gesin uitgewis het, kan sy niks onthou nie.

“Ek onthou dat ons op Kroonstad by vriende gestop het vir ’n teetjie en daarna het ons petrol ingegooi op Ventersburg. Alles was normaal, die twee kinders het rustig in hul karstoeltjies gesit, elkeen besig met hul stories op ’n mini-DVD-speler.”

’n Entjie buite Ventersburg het ’n voertuig hulle reg van voor getref. Sckalk en Jeanelle is op slag dood, Juan is later in die teater oorlede. Karen is baie ernstig beseer en was vir tien dae in ’n geïnduseerde koma.

“Daar is geen manier waarop jy jou kan voorberei op so iets nie. Dis ondenkbaar en onwerklik. Maar dis vreemd hoe jy eers fokus op jou liggaamlike pyn, jy is emosioneel, maar jou liggaam is stukkend en dit help jou op ’n manier om nie heeltemal in duie te stort nie.”

Karen Swanepoel saam met haar gesin.

Karen was vir drie weke in die hospitaal en twee weke ná haar ontslag was die roudiens.

“Die ergste was om by my kinders se kamers in te stap. En daai stilte . . . En om elkeen se goedjies aan te raak en te besef dis al wat jy nou van hulle oorhet. En dan natuurlik die roudiens. Ek was nog in ’n rystoel en toe ons by die kerk instap en ek sien die drie kissies as van my gesin daar staan. Ek het daai dag vir die eerste keer verskriklik gehuil.

Hoekom?

“Aan die begin het ek gevra hoekom is ek nog hier, veral wanneer die hartseer jou wil versmoor. Tog glo ek, nee ek weet, my geloof het my staande gehou, en daar’s ’n rede hoekom die Here my gespaar het. En al die boodskappe wat wildvreemde mense vir my gestuur het. Dis vreemd hoeveel krag jy daaruit put.”

’n Paar dae ná haar 37ste verjaardag het Karen Mosselbaai toe verhuis waar haar ouers, Gerrit en Elsa, woon. “My ouers was my rots, hulle ken self die pyn om ’n kind te verloor. My ouer sussie is in 1995 in ’n motorongeluk oorlede.”

’n Wyle later stap Karen verby die spreekkamer van ’n dieetkundige en besluit terstond om in te stap. “Toevallig emigreer sy ’n paar weke later Kanada toe en het juis gewonder wat van haar praktyk gaan word.

“Om te werk het beslis bygedra tot my genesing. Dit het vir my ’n rede gegee om elke oggend op te staan en jy sit nie by die huis en bejammer jouself nie. Ek het ook by ’n selgroep aangesluit waar ons Bybelstudie gedoen het met die tema ‘Celebrate Recover­y’.

“Ek was nooit regtig kwaad oor wat gebeur het nie, maar ek het baie vrae gehad. Ek het baie boeke gelees oor die dood en op Facebook by ’n groep aangesluit wat almal kinders verloor het. Jy kry nooit ’n klinkklare antwoord oor hoekom so iets moes gebeur het nie, maar jy leer om met die verlies saam te leef.”

Sowat twee jaar later het sy vir ’n vriendin in ’n koffiewinkel naby haar praktyk sit en wag. Die 49-jarige André Swanepoel, ’n skuldinvorderaar van George, het by die tafel oorkant haar gesit en die twee het begin gesels. Die paartjie is op die 19 Desember 2015 getroud.

“Ons het baie dieselfde waardes en belangstellings. André is ’n baie lojale mens, ’n gemaklike ou wat sy rugby en braaivleis geniet,” lag sy. “Ons het gesukkel om swanger te raak weens my ouderdom en ek het drie keer in vitro-behandeling gekry. Maar hoe sê hulle, third time lucky.”

Reynard en Desiré is op 14 September 2018 gebore. Hulle is vir drie weke in die hospitaal gehou omdat hul suigreflekse nog nie behoorlik ontwikkel het nie, maar is vandag fris en gesond.

“Ek het gedroom van ’n gesin, maar was amper te bang om te glo dat dit kan gebeur. Die tweeling is ’n absolute seëning. Soms is hulle ’n handvol en soms is hulle ware engeltjies.

“Boeta is die oudste. Hy’s ’n klein denker en kan dwarsdeur jou kyk, baie nuuskierig en ondersoek alles. Sussa is ’n klein vlinder. Mal oor musiek, dans selfs op die wasmasjien se deuntjie. Sy’s ook waaghalsiger as haar boetie.

“Daar is sekere dae, veral op herdenkings en vakansiedae, dat die seer baie tasbaarder is. Maar ek voel nooit skuldig dat ek gelukkig is nie, inteendeel ek is net dankbaar dat ek ’n tweede kans gegun is.

“Ons praat baie van hulle en daar’s foto’s van Jeanelle en Juan in die huis. Eendag wanneer die tweeling groter is, sal ek hulle beslis vertel van hulle boetie en sussie. My verlies is nie meer iets waaraan ek heel eerste dink wanneer ek soggens wakker word nie. Die roof het afgeval en nou is daar net ’n litteken.”

Wat met haar gebeur het, beaam Karen, is nie ’n ervaring wat sy enigiemand toewens nie; tog erken sy dat dit haar as mens verryk het. “Ek is vandag net soveel meer bewus van die verganklikheid van die mens en wat regtig belangrik is in die lewe.”

Karen se reis na heelwording het onlangs in boekvorm verskyn. Ek sal weer ’n loflied sing – my pad van verlies tot dubbele vreugde kan bestel word by www.marleo.co.za.

Meer oor:  Kalahari  |  Hartseer  |  Tragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.