Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Speel weg van skerms

Die vakansie is hier en ouers moet weer hul baadjies as skermpolisie aantrek om te keer dat die kleinspan die dae vasgenael sit agter ’n foon-, tablet- of TV-skerm. Karla Janse van Vuuren beraam ’n plan van aksie.

Maak ’n plan van aksie om jou kroos se skermtyd dié vakansie effektief te bestuur. Foto: iSTOCK

‘Miljoene jong Suid-Afrikaners het nou skoolvakansie en dus baie vrye tyd om te geniet. ’n Skerm van een of ander grootte is dikwels hul eerste keuse wanneer dit kom by vermaak. Onlangse navorsing deur die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) het gewys dat daar meer as een slimtoestel in baie Suid-Afrikaanse huishoudings is,” sê André van der Walt van die Internetdiensverskaffersvereniging (Ispa).

Marene Jooste, ’n geregistreerde kinderkinetikus van Johannesburg, sê uit ’n bewegingsoogpunt is skermtyd sleg vir kinders omdat dit ’n onaktiewe tydverdryf is.

“Ons kry baie keer kinders wat tot agt uur agter skerms deurbring. Hulle kyk voor skool TV, hulle kyk ná skool TV, hulle eet voor die TV en dan kyk hulle TV voordat hulle gaan slaap ook.”

Die blou lig en impulse wat skerms uitstraal, het ’n nadelige uitwerking op kinders se breingolwe wanneer hulle moet gaan slaap, beklemtoon Marene.

“Hulle sal aan die slaap raak, maar dit is dikwels nie ’n diep slaap nie, eerder baie onrustig. Dit het weer ’n rimpeleffek op hul ontwikkeling, groei en kognitiewe vaardighede.”

Gemorskos gaan dikwels saam met die onaktiwiteit van skermtyd. “Veral in die vakansietyd kan ouers hul skouers ophaal en kinders toelaat om te eet net wat hulle wil en ure agter hul tablet deur te bring. Ná ’n vakansie van ses weke kan ’n kind maklik totaal verslaaf wees aan die skerm en sal ouers al hul dae hê om hulle daarvan te speen,” waarsku Marene.

Deur hul aandag af te lei, sal hulle nie eens dink aan skerms nie!
Wenke vir die skermpolisie

Jaco Joubert, die tegnologiemaatskappy Skyworth se handelsnaambestuurder, sê meer skermtyd gedurende die vakansie is ’n realiteit, maar ouers moet ’n stelsel gereed hê om dit te bestuur. Marene voeg by dit moet ’n stelsel wees wat maklik implementeerbaar is vir jou gesin.

Hier is Jaco en Marene se wenke:

Dis nou genoeg: Gee aan kinders ’n presiese hoeveelheid tyd en duidelike afsnytye, sê Jaco. “Sê iets soos, ‘jy kan twee episodes van Peppa Pig kyk op Netflix’.”

“Dit is goed vir kinders om nou en dan verveeld te wees. Dit kan hul kreatiwiteit aanwakker. Jy as ouer hoef hulle ook nie die heeltyd te vermaak nie, gee hulle leiding oor ’n paar aktiwiteite en laat hul eie verbeelding oorneem,” sê Marene.

Geskikte apps: Daar is baie prettige, opvoedkundige apps, maar jy as ouer moet hulle help om goeie keuses te maak, beklemtoon Jaco. Natuurlik moet daar ook afsnytye wees vir die gebruik van dié apps.

Buite toe: Maak seker daar is speletjies waarmee kinders hulle op groot motoriese vlak kan besig hou. “As jou finansies dit toelaat, gaan koop items soos ’n bal, springtou, boontjiesakkies, hoelahoepel of Swingball. Dit help nie jy jaag die kinders buite toe, maar daar is niks om hulself mee besig te hou nie,” sê Marene.

Daar is maklike, goedkoop opsies beskikbaar, soos pret met borrels, handjie-tennis, trom speel op jou plastiekbakke en selfs wegkruipertjie en ander speletjies saam met hul ouers. Gaan ook saam op avonture as ’n gesin, al ry julle met Jan Tuisbly se karretjie. Besoek gunstelingplekke saam, soos parke, of gaan kyk na die Kersliggies in winkelsentrums. “Deur hul aandag af te lei, sal hulle nie eens dink aan skerms nie!” meen Jaco.

Tyd vir saamwees: “ ’n Mens hoef nie net buite te speel nie. Outydse bordspeletjies soos skaak, Ludo, slangetjies-en-leertjies en om saam koekies te bak of met klei te speel, kan ook groot pret verskaf en ouers en kinders se verhouding versterk,” meen Marene. Maak ook ’n punt daarvan om saam aan te sit aan tafel en maaltye saam te geniet, voeg Jaco by.

’n Goeie voorbeeld: “As jy as ouer heeldag voor die TV of vasgenael aan jou skerm sit, gaan al die wenke niks help nie. Dit is goed vir ouers om ook aktief te wees. Speel met jou kinders, leer hulle die speletjies waarmee ons grootgeword het. Dit is kosbare gehaltetyd,” sê Marene.

Ouers gee raad: Wees kreatief – en sien resultate

Carien Grobler (ma van twee seuns, vyf en tien): “Ons het ’n app. As hul skermtyd verby is, disable ons alles. Ons straf ook met skermtyd: As hulle nie hulle werkies doen nie, vat ons dit weg. Joah se juffrou vat ook skermtyd en laat weet my net wat is oor! Dis ’n nuttige hulpmiddel.”

Michiel Snyman (pa van ’n dogtertjie van vier en ’n half): “Ons stel geen limiet op ons kind se skermtyd nie. Sy kan kyk soveel sy wil. Snaaks genoeg is die uitkoms dat sy waarskynlik so twee uur per dag kyk. Ek dink omdat dit vrylik beskikbaar is, is dit nie ’n kwessie nie. Verder verkies sy om buite te speel. Ons siening is, watter wêreld gaan ons kind in wees oor tien of 20 jaar – sy moet met alle tegnologie kan werk.”

Nicolette Klingenberg (ma van ’n driejarige): “Ek is baie streng met my driejarige met enige skermtyd. Ek is ’n optometris en sien daagliks die effekte daarvan. Kinders moet minstens drie uur van die dag buite wees. TV is in ’n mate beter as ’n tablet of foon omdat die afstand verder is. Animasie is ook nie regtig te wonderlik vir hulle nie, te veel kleure, beweging en geluide. Dit maak dat die brein nie kan afskakel in die aand nie. So, hy kan een of twee stories kyk laatmiddag, en as hy dan nog wil kyk, eerder iets soos Discovery of Travel Channel. Naweke gee ons maar bietjie toe, maar probeer steeds eerder dat hy baie buite speel en legkaart bou en inkleur. My persoonlike mening is dat hy te klein is vir ’n tablet of ’n foon, so hy speel glad nie met ons s’n nie. Vakansies is definitief moeilik, ek beplan maar baie uitstappies parkie toe!”


Marilie Theron (ma met ’n kroos wat wissel van nege tot 16 jaar): “Ek het verlede Desember ’n stelsel ontwikkel waar die kinders elke dag punte (omgeskakel in minute) kon verdien. Hulle moes takies om en in die huis verrig om per dag hul skermtyd te kon verdien. Tot ’n maksimum van twee uur (of 120 punte per dag), oordraagbaar, indien nie gebruik nie. Uitstekende resultate!

“Ek konfiskeer wel selfone van my tieners en is nie eens skaam om dit te erken nie. Hulle word regtig ingesuig in YouTube-video’s, Instagram en TikTok. Hulle gesels dan wel met mekaar en met my en hul pa. Ons speel bordspeletjies en kyk almal saam fliek, maak kos saam en gaan stap met die honde.

“Elke lang vakansie koop ek vir elkeen ’n lekker dik boek. Ek sit my boek opsy, en lees voor terwyl almal inkleur of legkaart bou. Om skermtyd te bestuur, het ek nodig om baie kreatief te dink, slim te veg en altyd gereed te wees met ’n alternatief. Dis ’n groot uitdaging, maar so bevredigend.”

Meer oor:  Kinders  |  Vakansie  |  Speel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.