Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Spikkels is spiekeries!

Schalk van der Walt hou van ’n bontspul as dit by sy diere kom. Dis dié dat hy so lief is vir sy nguni-beeste, gespikkelde perde, en bont gevlekte boerbokke skryf Julienne Du Toit. Chris Marais het die foto’s geneem.

Schalk loop nie sommer sonder sy kierie op die plaas rond nie en die beeste is gek daaroor as hy hulle daarmee agter die ore en in die nek krap.

Dit is dagbreek op Gelykfontein en daar onder by die stalle draf Copper opgewonde rond. Hy weet vandag is dalk net sy gelukkige dag.

Copper is om meer as een rede ’n gelukkige palomino-hings, en die grootste rede vir sy opgewondenheid vandag is omdat hy gaan help om merries wat op hitte is te identifiseer. Soos wat hulle verby sy stal stap, sal hulle vir hom wys dat hulle gereed is deur hul stert op te lig. Sou hulle nie in die bui wees nie, sal hulle egter probeer om hom in die bek te skop terwyl hulle verbyparadeer.

Dis ook weens dié moontlikheid van geskop te word dat Copper se stal goed aan die binnekant gekussing is met ou bande. Ongelukkig bly Copper se plesiertjies net by kyk, want dié merries is belowe aan opregte teelhingste. Voor jy egter nou ’n traan pink vir liewe ou Copper en die onreg van die lewe, moet ons byvoeg dat hy elke nou en dan vrye teuels kry op die plaas. Dan kan hy vry gaan draf tussen die perde wat wei, en wie-weet-wat alles aanvang.

Die reën is die afgelope ruk nogal onreëlmatig en ondergemiddeld op die familieplaas net suid van die Gariepdam, tog lyk die lewe onverklaarbaar gelukkig hier op Gelykfontein. Die resiesperd-stoetmerries met hul langbeenhingste en mooi vulletjies in die kampies swaai hul sterte terwyl hulle rustig die skadu van die hoë bome volg. Dit is bome wat mede-eienaar en tuinier Christa van der Walt dekades terug hier aangeplant het. Haar man, Schalk, is die vierde generasie boer op die land en hy boer nou al ’n halfeeu lank.

Dit is Copper, die inskiklike palomino, se netelige taak om die “teaser” te wees vir die opreggeteelde stoetmerries. Hy toets of die merries op hitte is en is soms aan die ontvangkant van byte en skoppende hoewe.

Hul dogter, Marené, het in 2016 teruggekom huis toe nadat sy jare lank oorsee gereis en gewerk het, en sy werk ook nou aan haar pa se sy.

By die plaashuis is Poffie die papegaai op sy stukke. Hy roep vir Nonna die boerboel, net om vir haar te kan sê “voertsek” voor hy lostrek met ’n kakofonie van telefoongeluide.

Terwyl Latte die kat die gaste wys wie eintlik die baas van dié plaas is, is Lynette Henson, Marené se vriendin, besig om die nuwe reeks nisbier in die kroegyskas te pak. Die kroeg, Schalkie’s Place, is naby aan die ses Morning Glory-gastekothuise.

Wanneer ’n mens vroegoggend saam met Schalk deur die veld stap, besef jy die Van der Walt-familie is net so veerkragtig as die Karoo self.

“Selfs in dié verskriklike droogte sou ek nêrens anders wou bly nie,” vertel Schalk.

Die Van der Walts woon al van 1884 af op dié grond. Schalk se pa, JC “Boer” van der Walt, het in 1935, getrou aan die eeu-oue tradisie van die omgewing, begin om stoetperde hier te teel.

Een van die plaaswerkers se kinders stap verby die veselglas-resiesperd deur die hek na die Gelykfontein-plaas op pad skool toe.

In die 1950’s het omtrent 70% van die land se opregte stoetmerries uit die driehoek tussen Venterstad, Middelburg, Colesberg en die suidelike Vrystaat gekom. Die klimaat was droog en gesond, maar die grootste rede was waarskynlik die Karoogrond. Die hoë vlakke van kalsium, fosfor en ander minerale het ’n groot bydrae gelewer tot die perde se sterk bene.

Tot so onlangs as in die 1970’s was daar nog sowat 40 perdeplase in dié toweragtige perd-vriendelike driehoek in die Karoo. Toe die vervaardigde voerbedryf egter in die laat 1980’s begin ontwikkel het en al die spoorminerale wat die diere benodig in die voer begin verseker het, het die Karoo sy geografiese voordeel verloor. Suid-Afrika se resiesperde het ál nader en nader aan die groter stede begin skuif, en daar is op die oomblik maar net vier resiesperd-telers in die Karoo oor. Schalk van der Walt is een van hulle.

Van bo van ’n heuwel af, met ’n uitsig op Schalk se trop mooi Nguni-beeste, besef ’n mens hy is ’n man met ’n voorliefde vir gespikkelde diere. Schalk was die nguni-pionier van die Karoo, en het hulle in 1983 hier aangebring. Die mense in die omgewing het sommer reguit vir hom gesê hy is eenvoudig net laf. In daardie tyd het die meeste beesboere dié geharde beesras afgemaak as “onkruid” . . . nie juis iets waarmee ’n mens wil boer of teel nie. Baie mense het na dié beeste verwys as “krummel koeie”, na aanleiding van die onreëlmatige kolle op hul vel.

Schalk het die bloedlyne van boerperde, Walliese ponies en appaloosas gekruis om sy Gelykfontein Specials te skep.

Die Nguni-Telersvereniging is in 1987 gestig, maar dit het dekades geneem voor die ras regtig gewild begin word het en meer boere dié beeste se waarde begin besef het. Hulle gebruik hul horings om hulself te beskerm en skrik daarmee self roofdiere af. Dit, gekombineer met hul natuurlike laertrek-instink as hulle nodig het om hul kalfies te beskerm, is nogal effektief. Hulle het geen veedip teen bosluise, antibiotika, steroïede of kraal nodig nie. Hulle kan takke ook net so goed soos gras verteer weens die hoë ammoniakvlakke in hul grootpens. Hulle is ook baie vrugbaar, kalf maklik én hulle het boonop ’n natuurlike weerstand teen droogte en siektes.

Schalk is so behep met nguni’s dat hy nooit ’n ander beesras sal oorweeg nie:

“Ek is nie geïnteresseerd in daardie reusebeeste wat net vir die klomp in die voerbedryf geteel word nie. Ek is nie een wat die heeltyd agter hulle aanhardloop nie.”

Gelykfontein se veewerker, Frans “Tokkie” Januarie, is ’n? ware Karoo-cowboy. Daar is Xhosa-hangoorbokke in die agtergrond.

Schalk het ’n groeiende mark ontdek vir vleis wat van beeste kom wat gras vreet en wat nie aldag en heeldag in voerkrale staan nie. Buitendien, het hy gebieg, is hy eenvoudig net lief vir hul temperament. Nguni’s het vir die laaste 8 000 jaar feitlik saam met mense in Afrika geleef, en dit het hulle ’n leibare en gehoorsame beesras gemaak – rustiger, maar ook meer op en wakker as die meeste ander beesrasse.

“Kyk net hoe kalm is hierdie bul,” sê Schalk terwyl hy een van die beeste agter die oor en in die nek krap met die kierie wat hy oral saam met hom dra. “Ek kan dink aan baie ander beesrasse wat ons nou al gelyk sou gemaak het met die grond as ek dit met hulle probeer doen het.” Hy is gek oor sy beeste en kyk na en praat oor hulle asof hulle ’n spul eksentrieke familielede is. Hy kan selfs van hulle voorvaders opnoem – Ingwavuma, Kip, Khalipe en Oryx Caprivi.

Die gespikkelde beeste en hul taaiheid het Schalk gedwing om ook met ander oë te kyk na ander diere wat vir die plaaslike omgewing aangepas is. Hy het belê in ’n trop parmantige Xhosa-hangoorbokke wat oortrek is met bont kolle so groot soos appels. Wanneer Schalk op hulle afkom waar hulle in die veld wei, peil ’n hansbok met die naam Marilyn reguit op hom af toe sy hom gewaar. Wat ’n gesig! Sy vryf haar kop in sy hande en kyk te dierbaar vir woorde in sy oë, terwyl sy hom met liefdevolle mêê-geluide groet.

Schalk teel deesdae ook met ’n nuwe soort perd, wat heel toevallig ook dikwels gespikkel is. Hulle is ideaal vir plaaswerk, veewerk en die Karoo se toestande. Dit is stewige en gehoorsame rydiere met mooi geaardhede, reguit hakskene en klein harde hoewe en het dus nie nodig het om gehoef te word nie – ’n aanwins op plase wat nie naby hoefsmede en veeartse is nie.

Hy noem hulle Gelykfontein Specials en neem ons saam om hulle te gaan wys.

Dit lyk soos ’n? hele klein wêreld van gespikkelde bokke en beeste op Gelykfontein.

Langs die pad steek grond-eekhorings parmantig oral hul koppe uit en waai met hulle spoggerige sterte. Schalk se Rubicon-merinoskape draf saam met ’n klomp springbokke op die horison.

Op ’n kol stap ’n Ludwigse pou oor die pad, maar besluit om weg te vlieg voor jy naby kan kom. Die korhaan roep met sy krakerige krrkrr-klanke en bloukraanvoëls staan twee-twee saam beskermend wag oor hul kleintjies. ’n Gemsbok betrag ’n mens vanuit die verte voordat hy heel galant weggalop.

Foto:

Net aan die anderkant van ’n heuwel gewaar ons die perde uiteindelik. Hulle is oor die hele veld versprei, maar lig hulle koppe soos nuuskierige agies toe hulle ons hoor naderstap. Met ’n kort galop kom hulle nader – ore regop, netjies gebou met klein hoewe. En hulle ís gespikkel en bont; nes die beeste en die bokke. Sommige is meer roesbruin, ander meer goudbruin, ’n paar is skimmelperde, ander gespikkel soos die appaloosas, en daar is ook ’n paar palomino’s soos Copper. Almal van hulle staan egter trots met hul koppe omhoog, met hul nuuskierige gesigte en vriendelike oë na ons gerig.

“Karoo-mustangs,” dink ’n mens.

Hulle trop saam totdat die veewerker, Frans “Tokkie” Januarie, hulle sagkens water toe aanjaag. Hier galop hulle gelukkig en tevrede in die dam rond en plas en pronk windmakerig.

Tokkie sit sommer ook rustig op een van dié Gelykfontein Specials – ’n witte met bruin sproete – se rug.

“Wat is sy naam?” vra Chris so ewe.

“Spotty,” antwoord Tokkie droogweg.

Wel, hoe dan nou anders, nè!

Die Morning Glory Cottages op Gelykfontein is saamgegroepeer onder die pragtige koeltebome. Daar is ook ’n? kroeg, eetsaal en ?plonspoel.
Een van die ses groot suites en kothuise op Gelykfontein
Christa se tuin lyk selfs in die droogtetyd welig danksy die sterk ondergrondse water in dié gebied.

Meer oor:  Boer  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.