Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Splinternuwe beroep lê voor vir 69-jarige

Hy is die pa van vyf kinders van tussen 30 en 43 jaar en oupa van vier, maar op 69 sien Phillip Dhlamini kans vir ’n splinternuwe beroep, al moet hy heel onder begin.

Phillip Dhlamini van Roodepoort het nou ’n regsgraad in sy sak. Foto: Verskaf

Dié oudweermagkolonel van Roodepoort kon Maandag gedurende ’n virtuele gradeplegtigheid in sy toga pronk nadat hy sy LLB-graad aan die Universiteit van Limpopo behaal het.

“Ek het struikelblokke gehad, maar ek het dit suksesvol oorwin,” sê hy trots.

Dhlamini, wat in gr. 9 uit die skool is, het aanvanklik loswerkies gedoen om geld te verdien. In 1977 het hy sy rybewys gekry en as busbestuurder begin werk. Hy het opgang gemaak in die vakbondwese en was sekretaris van die Federal Municipal and Allied Workers Union.

Phillip Dhlamini (69) Foto: Verskaf

Uit hoofde van sy vakbondwerk, het sy droom om regte te studeer weer vlak in sy bors kom lê. Dié droom het hy al van die 1960’s af gekoester toe van sy broers vir oortredings van die paswette in hegtenis geneem is. Maar hy het sy droom weer op die agtergrond geskuif toe hy in 1996 by die weermag aangesluit het. Hy het 13 jaar later in 2009 as kolonel uitgetree.

En toe vat sy droom weer vlam, veral nadat regter Frans Kgomo van die hooggeregshof in Pretoria hom daaraan herinner het dat dit nooit te laat is om te studeer nie. Vuur en vlam het hy by die Universiteit van Limpopo aansoek gedoen om heeltyds daar te studeer. Toe hulle in 2014 sy aansoek afkeur omdat hy nie matriek het nie, het hy hom tot die reg gewend en die universiteit gedagvaar.

In 2016 kon hy uiteindelik sy sakke pak en met sy heeltydse studies begin. Ondanks die gerinkink van studente baie jare sy junior het Dhlamini die beste van sy studentejare gemaak. Hy het sy ouderdom nooit as ’n hindernis beskou nie. “Ouderdom is net ’n nommer. Ek het geweet wanneer om teenwoordig en afwesig te wees tussen studente. As daar partytjies was, het ek weggebly, maar as ons leer, was ek daar. Ek het vinnig al die moets en moenies geleer,” sê hy.

Hy kon ook sy lewenswysheid met die rinkinkers deel. “Ek was nederig en kon by tye selfs as ’n vaderfiguur vir sommige van die studente optree. Wanneer hulle misluk, kon ek hulle herinner dis nie die einde van die pad nie,” sê Dhlamini. Hy beskou sy studentejare as ’n interessante reis en van die beste tye van sy lewe. Dhlamini doen nou sy artikelskap by Sekati Monyane-prokureurs in Pretoria en is “oop vir geleenthede” as dit afgehandel is.

Meer oor:  Student
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.