
Vlok Cilliers en Morné Steyn Foto: Verskaf
Die oud-Bloemfonteiner en -Springbok Morné Steyn, die skopafrigter Vlok Cilliers en Solidariteit Helpende Hand skrum nou saam met die oog daarop om landwyd 1 000 hoërskool-sportleerlinge van sportbenodigdhede te voorsien.
Die Tekkies & Toks-projek is vandeesweek van stapel gestuur met die doel om hulpbehoewende leerlinge volgende jaar met noodsaaklike sportitems by te staan.
Vlokskop, die skopakademie van Cilliers, wat tans die Franse Hane se skopafrigter is, is ook by die projek betrokke, en die Springbok- en Blou Bulspeler Steyn is die projek-ambassadeur.
Die projek maak onder meer op skenkings en geldinsamelings staat.
Margole Riekert, Helpende Hand se projekorganiseerder van Tekkies & Toks, sê dié hulpleningsorganisasie besef die belangrike rol wat sport in kinders se ontwikkeling speel.
“Geld moet nooit die rede wees dat kinders nie aan sport deelneem nie,” sê Riekert.
Die uitdagings wat die Covid-19-pandemie vanjaar meegebring het, was die inisiatief vir die projek, sê Cilliers.
“Ons wil ’n verskil maak deur hulle selfvertroue te gee en menswaardig te laat voel,” sê hy.
Steyn sê talle mense aanvaar dié items as vanselfsprekend, terwyl daar in werklikheid baie mense is wat dit nie kan bekostig nie. Hy is trots en opgewonde om deel van die projek te wees.
Helpende Hand het reeds skole met ’n behoefte geïdentifiseer, na aanleiding van ander projekte wat aangebied word. Leerlinge en skole kan egter ook aansoek doen deur Riekert by margole@helpendehand.co.za
te kontak.
* Besoek www.tekkiesentoks.co.za om die Tekkies & Toks-projek te ondersteun.
EMBED ASB
https://youtu.be/9Ah6FD3CC8k