Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Stap Boesmanland se Camino en kry weer hoop – Amore

Voordat enigiemand, veral stedelinge, emigrasie oorweeg moet hulle eers stapskoene vir die droogtegeteisterde Boesmanland of Namakwaland koop waar hulle ruimte, stilte en gulhartigheid kan beleef terwyl hulle aan ’n skaaptjop smul.

Só sê Amore Bekker, RSG-aanbieder wat in haar private hoedanigheid vir ’n week lank saam met Esté van der Merwe, Caritas-bemarkingsbestuurder en die Caritas-vrywilligers die nuwe Boesmanland Camino-staproete van 315 km van Calvinia tot Garies aangedurf het. Die oogmerk was om geld vir die droogtehulpfonds in te samel vir boeregemeenskappe in die droogtegeteisterde gebiede en om ’n bewustheid van die menslike trauma hier te verhoog.

Esté van der Merwe en Amore Bekker is dit eens dat die Boesmanlandse en Namakwalandse mense ten spyte van droogte en swaarkry, steeds dankbaar en hoopvol is.

Bekker, wat op 16 Mei by die groep aangesluit het, het sommer op die eerste aand reën van 5 mm beleef. “Ons was net so dankbaar, want ons bid mos vir reën. Gelukkig het ek ’n reënjas byderhand gehad.”

Die staptog is deel van ’n groter veldtog. Die NG Kerk Noordkaapland het in 2019 in samewerking met Caritas Gemeenskapsfokus NPC, Agri NK en Kerk Sonder Mure ’n taakspan gestig om ’n bewustheid te skep oor die humanitêre en geestelike nood in die Noord-Kaap en omliggende gebiede. Die Sinode in die Wes-Kaapland het ook betrokke geraak.

Bekker, wat die Red ’n Plaas-veldtog geïnisieer het, se staptog het haar tot nadenke gedwing. “Elke skaaptjop waaraan ek gesmul het, het my hoop gegee. Al knel die droogte dié Noord-Kapenaars, wil hulle net gee en gee. Ek het net soggens gestap en bedags by mense aan huis gekuier. Ek het my batterye herlaai, soos wat stedelike toeriste ook moet doen. Die stapgogga het my gebyt; dit moet eintlik ’n nasionale sportsoort word.

Die vrywilligers is, van links: Johan van der Merwe, Esté van der Merwe, Pia Nanny, Hanna Erasmus, ds. Hannes Theron, Melany Meyer, Tharina van Tonder en Anri Holder.

“Stedelinge en mense wat wil emigreer, moet eers hierheen kom en die stilte en ruimte geniet. Kom praat met hierdie mense, beleef hul gasvryheid en dankbaarheid. Al gaan dit moeilik, bly hulle heeltyd dankbaar en hoopvol.

“Toerisme is dalk ’n oplossing vir die finansiële kwellings. Ons moet meer plaaslik reis. Toeriste wat geld aan verblyf, kos en brandstof bestee, kan ’n ekonomiese inspuiting meebring.”

Die Caritas-vrywilligers het van 8 tot 22 Mei gestap, blase, stywe spiere en moeë lywe ten spyt. Snags het hulle in tente geslaap wat hulle soggens en saans af- en opgeslaan het. Elke stapper het sy eie ontbyt en middagete voorsien.

Van der Merwe sê hul lywe is moeg, maar die ervaring was onvergeetlik.

Van die dapper vrywilligers wat bedags gestap en saans langs die pad in tente geslaap het, is van links: Melany Meyer, Anri Holder, Hanna Erasmus, Tharina van Tonder, Amore Bekker en Esté van der Merwe.

“Ons het eendag ’n verskriklike storm beleef, so erg dat jy vorentoe teen die wind moes lê. Almal was deurdrenk van reën. Gelukkig het ons daardie aand in ’n leë plaashuis oornag. Ons het elke vyf of so kilometer gerus. Smiddae het die Boesmanland Camino-organiseerders vir ons koffie, skuinskoek of oliebolle gegee en aandete gemaak. Langs die pad het mense ons vir koffie en geselskap genooi, of dadels laat proe. Dit is ’n uitgestrekte eensame wêreld, op plekke ’n maanlandskap waar niks meer groei nie. Die dankbaarheid tref ’n mens, veral die afgelope Saterdag toe Agri-Noord-Kaap veevoer afgelaai het. Niemand kla nie, al gaan dit hoe swaar.”

Die reënboog wat die stappers op 20 Mei teengekom het, het hulle laat “jubel en juig”. Foto: Amore Bekker/Facebook

Caritas wil met hul droogtehulpfonds boere en werkers in hul emosionele en huishoudelike behoeftes ondersteun. Behoeftes soos brandstof, onderhoud, toerusting, mediese fondse, of skool- of universiteitsgeld. Boere kan aansoek vir hulp doen deur aansoekvorms by die NG Kerk en landbouorganisasies te voltooi.

Geldelike skenkings kan in die NG Kerk Noordkaapland se rekening gedeponeer word: Absa-tjekrekeningnommer 940580684, takkode 500902 met verwysing “Droogte” met die naam en van van die skenker.

Caritas se 24-uur noodnommer en beradingsentrum vir landelike gemeentes is 083 415 1484 en is 24 uur in werking.

Meer oor:  Amore Bekker  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.