Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Steve en makkers vier erfenis

Steve Hofmeyr en ’n paar van sy musiekvriende het besluit om Erfenisdag in September met ’n massiewe aanlyn konsert te vier, juis om die mistroostigheid wat deesdae in die land heers te besweer; derhalwe die geboorte van Monumentaal – Die konsert.

Hierdie eenmalige aanlyn konsert, wat op 24 September van 17:00 tot 19:00 regstreeks plaasvind, is ’n splinternuwe konsep en nie ’n plaasvervanging vir konserte soos Afrikaans is Groot nie. Tien mansangers sluit hulle by Hofmeyr aan om Afrikaner-trots opnuut met hul musiek aan te wakker. Hulle is Bok van Blerk, Ricus Nel, Gerhard Steyn, Ruhan du Toit, Jay, Dewald Wasserfall, Adam Tas, Ghapi, Ivan Roux en Riaan Benade.

“Afrikaner-mense se herkoms en erfenis ervaar daagliks druk, maar selfs dit sal Afrikaanse mense nie keer om saam fees te vier nie.

Steve Hofmeyr en tien van sy vriende hou op 24 September ’n monumentale konsert om Erfenisdag te vier.

“Baie Afrikaanse kunstenaars is dit eens dat ons trots op ons erfenis moet wees. Afrikaners het ’n ryk geskiedenis, gevul met monumentale oomblikke wat gevier moet word,” sê Barry Pretorius, wat verantwoordelik is vir die vervaardiging van groot konserte soos die Innibos-hoofverhoog en Lexus­ Classics, en ook regisseur is van Monumentaal.

Hofmeyr, wat ’n kampvegter vir Afrikaners is, beaam dit en sê: “In hierdie jaar waarin ons monumente, taal, erfenis en ons oorlewing seker minder aandag as ooit kry, moet ons monumentale dinge doen.”

Du Toit, wat die snit getitel “Monumentaal” vroeër vandeesmaand uitgereik het, stem saam.

“Dis belangrik dat ons die verlede onthou en met trots ons erfenis vier! Só kan ons met geloof aan ’n toekoms bou,” sê hy.

Konsertgangers kan hulle regmaak om van die heel lekkerste Afrikaanse gunstelinge te hoor soos Hofmeyr se “Pampoen” en Van Blerk se “Die kaplyn”.

Monumentaal is ’n viering van ons erfenis en ’n groot kuier in Afrikaans.

“Ons doel met die konsert is om in hierdie uitdagende tye net vir ’n slag weer te ontspan, te ontvlug en ook om te onthou dat daar altyd hoop is. Om dít te kan doen met die viering van musiek, huldeblyke aan ons monumente en boonop ook nog in die mooiste taal ter wêreld maak hierdie konsert besonder spesiaal,” sê Barry.

Volgens hom gaan dit die grootste aanlyn konsert wees wat tot nog toe in Afrikaans aangebied is.

“Ek kan nie wag dat Afrikaanse mense oor die wêreld heen die geleentheid saam met ons geniet en hul erfenis vier nie. Ek doen ’n beroep op mense om kaartjies te koop – hulle het net een kans om hierdie konsert te sien,” sê Barry.

Kaartjies kan slegs by Computicket teen R120 stuk gekoop word en konsertgangers moet seker maak hulle skakel in soos die tye aandui, anders gaan hulle die konsert misloop.

Koop dit by inbly.compu­ticket.com.

Meer oor:  Steve Hofmeyr  |  Erfenisdag  |  Vriende  |  Aanlynkonsert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.