Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Stevie die blinde ‘Wonder’-hond steel harte
Stevie saam met sy nuwe gesin, Salome Bruyns, haar man, Nicolaas, en hul seun, Duncan (12).

Die verhaal van Stevie, ’n hondjie wat sonder oë gebore is en wie se eienaar hom nie meer wou hê nie, het ’n gelukkige einde.

Stevie, vernoem na die blinde Amerikaanse gelyknamige sanger, se eienaar van George in die Suid-Kaap het op 1 November die Tuinroete-Dierebeskermingsvereniging (DBV) gebel om die ongewenste brakkie te kom haal.

Stevie is vermoedelik blind gebore.

“Daar is geen oogballe in sy oogkaste nie,” sê Salome Bruyns, bestuurder van DBV, by wie Stevie ’n heenkome gevind het.

Stevie het nou ook sy eie Facebookblad.

Bruyns sou Stevie aanvanklik net die naweek oppas.

“Hy het die Vrydagmiddag om 16:45 ingekom. Ek het nie kans gesien om hom in ’n hok in ’n vreemde plek te los nie.”

Sy het hom geadverteer.

“Toe daar teen die Dinsdag nog nie belangstelling was nie, het ek besluit hy gaan nêrens heen nie. Hy het so gou in my hart ingekruip. Ek het besef hy het my nodig.”

Sy sê sy wil Stevie se verhaal gebruik om aannemings by die DBV te bevorder. Verlede maand is 55 diere, ’n rekordgetal, by die DBV aangeneem.

“Enige hond met ’n gebrek kan aangeneem word. Hulle verdien ook ’n goeie lewe soos enige ander normale hond – inteendeel, ’n beter een.”

Haar hele gesin help met Stevie.

“My man het die swembad met ’n net toegemaak. Ons neem beurte om by hom in die sitkamer te slaap, want my bed is te hoog. As hy sou afval, gaan hy seerkry. Stevie moet ook leer wanneer dit dag en nag is. Ons probeer om nie snags te veel aandag aan hom te gee nie.”

Stevie se sintuie is baie goed, sê sy.

“Ek wou ’n klokkie om my enkel bind sodat hy kan weet waar ek is, maar dit is glad nie nodig nie. Hy loop agter my voetstappe aan. Ek kan net nie kaalvoet loop nie, want dan hoor hy my nie.”

Die gesin se ander honde het Stevie eers uitgekyk, maar nou steur hulle hul nie te veel aan hom nie.

“Wat cute is, is as my seun, Duncan, vir Stevie blaf, dan blaf hy terug.”

Sy sê geskenkpakkies met lekkernye vir diere of kontantskenkings vir die Kerstyd is welkom. Skakel die DBV by 044 878 1990.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.