Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Stomende ysterreus betower student in toerisme

Die “donderende gestoom” van ’n stoomlokomotief wat Bakang Seinolo (25), ’n toerismestudent, vir die eerste keer ooit die afgelope naweek met ’n breë glimlag beleef het, was sy beloning nadat hy as vrywilliger gehelp het om dié ou ysterreus in Kimberley op te knap.

Hy het die afgelope twee maande elke tydjie wat hy tussen klasse kon afknyp, gebruik om saam met ander vrywilligers en Peter Odell, voorsitter van die Steamnet 2000-klub, ’n organisasie sonder winsbejag, in die depot in Beaconsfield aan die lokomotief te werskaf om dit aan die stoom te kry.

Daar stoom hy! Peter Odell (links), voorsitter van die Steamnet 2000-klub, en Bakang Seinolo, een van die jong vrywilligers wat help om die lokomotief gereed te kry vir toeriste wat ’n stoomtrein wil afneem. Foto: Verskaf

Seinolo was een van ’n klompie vrywilligers wat die afgelope naweek gehelp het om nog foute met die stomende lokomotief uit te stryk sodat dit ’n veiligheidsertifikaat kan kry.

Odell en die span vrywilligers sou verlede jaar die lokomotief gereed gekry het vir ’n Duitse toeroperateur wat entoesiastiese stoomtrein-fotograwe van Europa sou bring. Die Covid-19-pandemie het dié planne in die wiele gery. Die plan is steeds om volgende jaar twee lokomotiewe te koppel wat ’n vragtrein van Kimberley na die Vrystaat sal sleep sodat toeriste se kameras die glorie van dié stomende ysterreuse op geheuekaarte kan vaslê.

Odell het Seinolo op Facebook ontdek toe hy gesien het dat hy gereeld foto’s van treine plaas.

“Sou jy belangstel om meer van stoomtreine te leer?” het hy aan hom gevra.

“Ek het dadelik ja gesê,” vertel Seinolo. “Ek is heeltemal behep met treine, enige treine. Ek het nie eens geweet daar is stoomlokomotiewe in Kimberley nie. Hoewel my vriende dink ek is mal om op stoomtreine te werk, ondersteun my ma en my vriendin my. My pa het jare lank op treine gewerk.”

Ek is heeltemal behep met treine, enige treine. Ek het nie eens geweet daar is stoomlokomotiewe in Kimberley nie.

Dit was ’n groot oomblik vir hom in 2017 toe hy die Red Devil-stoomlokomotief in Krugersdorp in aksie gesien het.

“Hulle kan baie vinniger as vandag se diesel- of elektriese lokomotiewe ry. Die donderende geluid van die stoom, die enjin wat kraak, dit was alles wonderlik om te beleef. Die enorme wiele, die kajuit se kontroles, die meganiese stoker wat steenkool in die vuurkis spoeg, alles fassineer my. Ek het die afgelope naweek selfs met ’n graaf kole in die vuur gegooi.”

Hy studeer toerisme by ’n kollege in Kimberley.

“Ek laat Peter gereeld weet wanneer ek tyd het om op die lokomotiewe te werk om foute herstel. Die trurat-probleem is voorverlede week uitgestryk, waarna Peter gesê het ons moet die lokomotief in stoom sit om ander foute uit te stryk.”

Seinolo sê dit sal vir hom fantasties wees om eendag toeriste op ’n stoomtrein te begelei.

Volgens Odell probeer hy reeds jare om die Noord-Kaapse regering te betrek en is premiers gereeld genooi om self na die stoomlokomotiewe te kyk.

“Daar is soveel potensiaal om stoomtreine as ’n toeriste-attraksie in ons provinsie te gebruik wat werk en ander geleenthede sal skep.”

Die klub het die lokomotiewe en rytuie om passasiers te vervoer, maar benodig regeringshulp en beleggings om dié droom te verwesenlik.

Meer oor:  Stoomlokomotief  |  Toerisme  |  Restourasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.