Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Student sien uit na klanke

’n Kimberleyse student is opgewonde oor die nuwe klanke wat sy sal kan hoor nadat sy ná haar kogliêre inplanting herstel het.

As kleuter het Nadia Britz, nou 22, se lewenspad onherroeplik verander as gevolg van masels. Haar gehoor in albei ore is destyds as driejarige aangetas en sy het sedertdien gehoorapparate gebruik.

Nadia Britz, saam met Chrissie, ’n familielid se hond. Chrissie is ook doof. Foto: Verskaf

Sy het dadelik vir sowat vyf jaar spraakterapie ontvang, om haar te leer praat terwyl sy nog kon hoor.

Haar gehoor het oor die jare so verswak dat sy eindelik selfs met die beste gehoorapparate skaars kon hoor.

’n Kogliêre inplanting in die oor was die volgende stap in haar stryd met gehoorverlies.

Die inplanting is Donderdag in die Mediclinic Bloemfontein deur dr. Johannes Claassen, ’n oor-neus-en-keel-spesialis, gedoen.

Britz sal ná sowat ’n maand se herstel na die Deon Ceronio-gehoorsentrum in die stad gaan om die inplantaat met die prosesseerder te verbind, sodat sy daarmee kan hoor.

Britz is nou ’n gesoute lipleser en sê sy sal dit moet afleer wanneer sy beter kan hoor.

“Die Here het my spesiaal gemaak. Hy het my deurgedra, ook deur die operasie. Ek hoor die dokter sê ook die operasie was ’n groot sukses. Daar is baie vir my gebid en ek glo Hy self het die operasie gedoen.”

Nadia Britz van Kimberley saam met haar hond, Ziva. Foto: Verskaf

Sy het ’n passie vir diere en sal binnekort met haar tweedejaarstudies vir veeartstegnikus aan die Universiteit van Suid-Afrika begin.

“Dit is net maklik om met diere te werk. Diere weet nie ek kan nie mooi hoor nie en hul oordeel nie.”

Sy was haar hele skoolloopbaan in ’n hoofstroomskool, maar as ’n kind met gehoorgestremdheid was veral haar laerskoolloopbaan uitdagend.

“Kinders wat jou spot, was vir my moeilik. In die hoërskool het dit baie makliker gegaan, kinders het my begin aanvaar vir wie ek is. Later het hulle nie meer agtergekom ek dra gehoorstukkies nie.

“Op skool moes ek harder konsentreer – eers om te hoor en dan om te verstaan waaroor die klas gaan.”

Sy sonder veral Jeremy Hendrikse, die destydse hoof van die Hoërskool Adamantia in Kimberley, uit vir sy ondersteuning.

Ná skool het haar gehoor so verswak dat sy selfbewus was om met mense te kommunikeer. Maar haar vriende en familie het haar aanvaar.

“Dít het dit op ’n manier vir my draagliker gemaak.”

Die Britz-gesin. Van links is Nadia, Gerhard, Ina en Niël. Foto: Verskaf

Gerhard, haar pa, sê hul gesin het al die jare hul eie manier van kommunikeer.

Dit was ’n groot skok vir hom en sy vrou, Ina, toe hul dogter se gehoor begin verswak. Die egpaar het ook ’n ouer seun, Niël.

“Ons kon dit nie aanvaar dat hierdie kind totaal en al gaan wegsink in ’n dowe, klanklose lewe nie.

“Die apparate wat sy gebruik het, kon nie meer by die verswakking van haar gehoor aanpas nie. Dit het met tyd so verswak dat sy net 2%, met die apparate, kon hoor,” sê Gerhard.

“Ons is uit ons harte aan die liewe Vader dank verskuldig vir alles wat net mooi uitgewerk het. Dit lyk vir my asof die liewe Heer sy hand oor haar het en haar beskerm oral waar sy gaan.”

Hy het al die betrokkenes vir hul goeie diens geprys en is ook dankbaar dat hul mediese fonds al die koste verbonde aan die operasie dek.

  • Claassen sê Britz se prosedure was relatief standaard.

Hy sê die inplanting behels twee dele. Eerstens die toerusting wat onder die vel agter die oor ingeplant word, wat hy gedoen het. Tweedens die prosesseerder, wat soos ’n gehoorapparaat lyk, wat “aangeskakel” word nadat die wond herstel het. Dié deel sit buite, agter die oor.

Die prosesseerder kommunikeer dan met die inplantaat.

“Die pasiënt hoor eers as die buitenste deel gekoppel word, of waarna ons as die aanskakeling verwys.”

Claassen sê Britz is ook ’n kandidaat om dié inplanting in die ander oor te kry, maar eers nadat bepaal is hoe sy by die eerste inplanting baat vind.

Meer oor:  Kimberley  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.