Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Student wil ander help met sy boek oor lewenslesse

Die grootste lewensles wat hy geleer het, is dat indien jy op ’n goeie manier vooruit wil gaan, jy saam met ander mense moet gaan, want as jy vinnig vooruit wil gaan, is jy alleen.

So sê Thembalethu Seyisi, ’n derdejaarstudent in die regte aan die Universiteit Stellenbosch, by navraag oor ’n boek met lewenslesse wat hy vir sy 21ste verjaarsdag gepubliseer het.

Hy het die boek saamgestel om Natasha Chigamba (21), ’n vriendin van hom, te help met haar uitstaande studieskuld, om die #Action4Inclusion-inisiatief te ondersteun wat poog om akademiese inklusiwiteit te bevorder en verdienstelike studente te help om hul studieskuld te vereffen, asook die ALSgaanOKwees-fonds ten bate van ’n goeie vriendin en mentor, Hannelie Booyens, ’n voormalige Huisgenoot-joernalis by wie motorneuronsiekte in 2019 gediagnoseer is, luidens ’n verklaring.

Die boek, 21 Life Lessons @ 21, bevat ’n versameling lewenslesse deur Suid-Afrikaners soos Sandra Prinsloo, regter Edwin Cameron, prof. Thuli Madonsela, prof. Kgethi Phakeng, Khaya Sithole, Zelda la Grange en nog ander.

Thembalethu Seyisi met sy boek, ‘21 Life Lessons @ 21’. Foto: Verskaf

Volgens hom is hy oorweldig deur mense se reaksie op die boek. “Mense wys ongelooflik baie liefde en warmte,” sê hy.

Chigamba, oorspronklik van Zimbabwe, het uitstaande studieskuld nadat sy afgestudeer het as mondhigiënis aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Sy het tussendeur gewerk om haar studie te kan volhou.

Volgens haar beloop haar uitstaande studiegeld R60 000 en kan sy eers haar graad kry nadat dit afbetaal is.

“Ek is ongelooflik dankbaar vir die hulp,” sê sy.

“Dit is soms baie moeilik, maar jong mense moet hul drome navolg en dit ’n werklikheid maak. As jy stop, laat jy jou droom sterf.”

Luidens die verklaring samel Booyens se vriende vir haar geld in om toerusting te kan bekostig soos ’n elektriese rolstoel en kommunikasietoerusting vir wanneer sy nie meer onafhanklik kan lewe of praat nie.

Seyisi het die idee vir ’n bundel met lewenslesse gekry toe hy vier maande gelede begin wonder het hoe om sy 21ste verjaardag in Desember te vier. Volgens hom sou ’n gewone verjaarsdagpartytjie nie deug ná die moeilike jaar wat almal beleef het nie. Hy het toe besluit om 21 suksesvolle mense te nader om ’n les of insig te deel wat hulle wens hulle self op 21 jaar oud geweet het.

Besoek www.21lifelessons.co.za vir meer inligting.

Meer oor:  Student  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.