Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Swaar dra al aan die een kant!

Wie was Jannie met die hoepelbeen, en wat het hy met Slagtersnek, Gracie Fields en Suid-Afrika se eerste vroulike posmeester uit te waai? Deonette Haggard vertel oor die herkoms van een van die mees bekende Afrikaanse volkswysies.

’n Poskaart met die Britse aktrise Gracie Fields. Sy het ’n treffer gehad met ‘The Trek Song’, ’n sameflansing van ‘Sarie Marias’ en ‘Vat jou goed en trek, Ferreira’. Foto: GALLO

Annie Molony was die dogter van ’n landheer van Witney, Oxfordshire, in Engeland. Sy het in 1858 saam met haar suster op die skip Skerrywaugh na Suid-Afrika gereis. Die susters het in Port Elizabeth aangeland, waarna hulle by ’n groep Britse setlaars in Grahamstad aangesluit het. Hier het sy haar Ierse man, Tom Molony, ontmoet en hulle het verhuis na Somerset-Oos waar hulle op die vooraanstaande Willem van Aardt se plaas, Goedehoop, gaan woon het. Tom was ’n reisende handelaar en Annie het vir Willem se dogter, Ada, musieklesse gegee terwyl haar man vir lang tye afwesig was. Annie het geleer om Afrikaans vlot te praat en is as ’n direkte gevolg hiervan later as posmeester op Maclear aangestel. Sy was die eerste en bes moontlik enigste vrou wat in daardie tyd so ’n pos in Suid-Afrika beklee het.

Ná die ontdekking van goud aan die Rand het die Molony-egpaar besluit om hulle heil by dié noordelike El Dorado te gaan soek. Nadat hulle in die ruwe tentedorp nesgeskop het en toe Annie se musiekvaardighede aan die lig kom, het sy aand vir aand klavier gespeel terwyl die goudsoekers vrolik saam dans. Sy het glo die meeste van haar musiek self gekomponeer. Sy is tussen £5 en £10 per aand betaal en hulle het dit baie nodig gehad, want hulle moes op daardie tydstip reeds 12 kinders onderhou. Sy was die eerste orrelis by die Weslyan Church wat toe net ’n hout-en-ysterstruktuur was.

Die plakkaat vir die rolprent ‘We’re Going to be Rich’.

Twintig jaar later begin hulle twee hotelle – die een by Luipaardsvlei en die ander op Vogelstruisfontein. In hierdie pioniersdae het Annie self saam met die manne gewerk om die geboue op te rig. Al die harde werk het goeie geld ingebring en hulle kon hul 20 kinders grootmaak. Al hierdie kinders het oorleef en baie het oud geword. Die Molonys het 116 kleinkinders en ook heel party agterkleinkinders nagelaat.

Annie is op 84-jarige ouderdom oorlede, maar selfs tot op 80 het sy steeds die klawers laat sing. Sy is op Roodepoort ter ruste gelê.

Die tweelingbroers Carel (Carolus, Johannes) en Willem van Aardt het tydens die Slachtersnek-opstand in 1815 op hul plaas, Verkeerdewater (of ook Van Aardts­pos), naby Somerset-Oos geboer. Dit was op dié einste plaas waar onderhandelinge tussen die strydende partye asook die uiteindelike tragiese teregstelling plaasgevind het. Tydens hierdie geskiedkundige gebeure was die twee broers sestien jaar oud en was hulle onder die mense wat die teregstelling aanskou het.

Vir baie jare het die skavot op die plek van teregstelling bly staan. Toe Carel later ’n nuwe huis vir sy toekomstige bruid bou, het hy verlof gekry om die balk te verwyder en dit toe in ’n buitemuur van een van die nuwe huis se vertrekke ingebou. Carel se seun Willem was Ada van Aardt, die liedjieskryfster, se pa.

Willem se plaas Goedehoop is ’n paar jaar gelede verkoop en in ’n wildplaas omskep.

Daar is egter steeds direkte afstammelinge van die Van Aardts op Somerset-Oos en in die distrik woonagtig.

Die frase “Vat jou goed en trek, Ferreira”, is al gebruik vir alles van TV-programme tot boektitels en sommer enige tyd wanneer iemand ’n laspos die trekpas wil gee. Dis ’n bekende sêding en feitlik elke Afrikaanssprekende persoon het al eens op ’n tyd dié liedjie teëgekom, maar oor die herkoms daarvan is daar al baie bespiegel.

Party mense beweer dit is van Maleise afkoms. Ander meen dit verwys na ’n Portugese smous, Pereira, wat met ’n houtbeen en ’n donkiekarretjie vol smousware welbekend was onder die boere. Volgens een storie het sy verkoopspraatjies net te dik geword vir ’n daalder en het die boere vir hom die pad gewys met “Vat jou goed en trek, Pereira”.

Nog ’n ander gerug wil dit hê dat die liedjie deur ene Ben Ferreira geskryf is. Hy het glo in 1876 saam met sy oupa, Ignatius Ferreira, oor die Drakensberge Transvaal toe getrek. Ben se been is tydens die reis gebreek, maar hy het op die gebreekte been aangesukkel. Sodoende het die been skeef aangegroei en vandaar die verwysing na die ‘hoepelbeen” in die liedjie.

Die plaatomslag van Gracie Fields se ‘The Trek Song’.

Nog een is dat die liedjieskrywer se vader ’n plaas by ’n Ferreira gekoop het. Dié het glo ’n mank been gehad en hy kon nie van die plaas afskeid neem nie en weier toe volstrek om te trek. Elke keer wanneer hy gekonfronteer is om die plaas wat nou nie meer syne was nie, te verlaat, het hy altyd die een of ander swak verskoning voorgehou. Toe hy een aand egter die liedjieskrywer die lied hoor sing, het hy gou daarna spore gemaak.

Laasgenoemde is nader aan die waarheid en word dikwels vermeng met die werklike verhaal van waar dié liedjie ontstaan het. Dit was egter eerder oor ’n vrypostige vryer as ’n teësinnige verkoper.

Sy laat mans se koppe draaiAdriana Christina van Aardt (Ada) is op 28 Maart 1856 op die plaas Goedehoop in die Somerset-Oos distrik gebore. Sy was die oudste dogter van Willem Adriaan van Aardt, ’n welgestelde boer en gesiene man in die distrik. Ná haar skoolopleiding in Grahamstad het sy na die plaas teruggekeer waar sy haar musiekstudies voortgesit het. Sy was beeldskoon, jonk en lewenslustig met ’n fyn humorsin.

Haar musiekonderwyseres was Mev. Annie (Tom) Molony wat by hulle op die plaas ingewoon het. Van “onderwyseres en leerling” was daar min sprake, want Ada en Annie het hegte vriendinne geword. Op 17-jarige ouderdom het die lewenslustige Ada vele jong mans se koppe laat draai en het menige vryer in die omtrek om haar hand meegeding. Vir die jong klomp was daar baie geleenthede om oor en weer te kuier en Ada se ouerhuis was ’n gewilde bymekaarkomplek vir pret en plesier. Allerhande binnenshuise speletjies is gespeel, daar is musiek gemaak en ook tot laat gedans. Met klavierbegeleiding van Mev. Molony het Ada by talle geleenthede die kuiergaste met haar sangstem bekoor.

Louis Trichardt was ’n gereelde besoeker op Goedehoop en hy was so beïndruk met die liedjie dat hy dit tot op die grens van Matabeleland saamgedra het.

Ada van Aardt was jonk en mooi en die kêrels het gekom en gegaan. Jan Ferreira was die ryk buurman se seun en was bekend as “Jannie met die hoepelbeen” vanweë die feit dat sy een been korter as die ander een was. Jan was ’n groot bewonderaar van Ada, maar sy was nie te vinde vir sy vlerkslepery nie. Hy het egter volhard en uiteindelik het ’n moedelose Ada haar gevoelens teenoor Jan in die vorm van ’n gediggie neergeskryf. Die woorde van “Vat jou goed en trek, Ferreira” het die lig gesien. Toe Ada die gediggie vir Mev. Molony wys, was dié se vingers onmiddellik op die klawers en het sy ’n vrolike polkawysie daarvoor getoonset. By die volgende plaasdans op Goedehoop en waar Jan teenwoordig was, het Mev. Molony die liedjie gesing. Al die gaste het later saam gesing en so het Jannie wel die boodskap gekry en bedroë die aftog geblaas.

Dié aansteeklike, lekkersing­liedjie het vinnig bekend geword en konsertinaspelers het die vrolike polka op danse gespeel en só het dit vinnig reg deur die land versprei. Selfs so ver as op die diamantvelde waarheen so baie mense met groot hoop en verwagting opgetrek het, is die liedjie gesing.

Louis Trichardt was ’n gereelde besoeker op Goedehoop en hy was so beïndruk met die liedjie dat hy dit tot op die grens van Matabeleland saamgedra het.

Ada is later in haar lewe twee keer getroud. Eers met Mias de Klerk van Somerset-Oos en later met Johan Wagner van Graaff-Reinet. Sy is op 13 Julie 1933 aan huis van haar dogter, Ada Bouwer, in die ouderdom van 77 in Braamfontein oorlede en in Brixton se begraafplaas ter ruste gelê.

In 1967 het Bill Bosch, ’n destydse joernalis van Die Vaderland, navorsing gedoen oor die oorsprong van die liedjie en by Ada se dogter, Ada Bouwer, afgetrede onderwyseres, vir inligting aangeklop. Sy (Bouwer) was toe reeds ’n afgetrede onderwyseres van 70 jaar oud, maar het onteenseglike bewyse, briewe en ander dokumentasie gehad wat die feit dat haar ma die skryfster van die liedjie was, duidelik en onomstootlik gestaaf het.

Deonette Haggard

Tussen die briewe was ook ’n brief waarin mevrou Molony, Ada se musiekonderwyseres, dieselfde storie van die lied vertel. Sy skryf onder andere dat sy by die klavier gaan sit het en ’n “dainty polka” vir die woorde geskryf het.

In ’n ander brief van Bouwer se tante (dus Ada se suster), Mev. Daisy van Niekerk (92) van Bedford, onthou sy ook die storie van die gedig.

Bouwer se woorde aan Bosch was: “Ek wil graag dat almal vir eens en altyd moet weet dat dit my geliefde moeder was wat gesorg het dat Suid-Afrika een van sy gewilde liedjies bekom het.”

Bosch skryf ook: “Dit is jammer dat daar nie ander was wat die visie van Mev. Ada Bouwer gehad het nie.

“Dan sou daar nie so baie ander tradisionele, geskiedkundige en Africana-stukke verlore gegaan het nie.”

  • Die Vaderland, Saterdag, 14 Oktober 1967; Rootsweb: South Africa Eastern Cape Archives; Sunday Times, 12 September 1926.
Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.