Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Taxiryers lag eers vir Samaritaan, bid toe saam

Almal in die taxi het vir Zenobia Jantjies gelag toe sy ’n bejaarde wit man daar inhelp en ondersteun.

Zenobia Jantjies Maandag in Klerksdorp. Foto: Susan Cilliers

“Ek het na hulle omgedraai en vriendelik gevra wat is die grap sodat ek ook kan saamlag,” vertel dié 25-jarige Klerksdorpse vrou. Almal was skielik tjoepstil.

Toe Jantjies kort daarna vir Henry Labuschagne en sy siek vrou bid, het almal in die taxi saam gebid.

“Die taxi-bestuurder het my in Afrikaans bedank vir die gebed en gesê sy taxi sal van nou af ook geseënd wees,” onthou Jantjies vandag, langer as ’n jaar ná die gebeure in Mei 2018. Haar liefdesdaad het intussen daartoe gelei dat sy nou ’n ambassadeur in Noordwes is vir die Leef Liefde-projek waarby verskeie mense in dié provinsie, Gauteng en die Wes-Kaap betrokke is.

Jantjies is ook die eerste ontvanger van die Zenobia-eerbewys wat die Leef Liefde-beweging jaarliks aan gewone mense wat ongewone dinge doen, wil gee. Die eerbewys is einde verlede maand aan haar oorhandig, nadat dit ook na haar genoem is.

Stefaans Coetzee van Klerksdorp, wat die beweging begin het, het Jantjies genader nadat sy haar taxi-ervaring op Facebook gedeel het en dit wyd versprei is. “Ons is op soek na mense soos Jantjies wat in hul gewone daaglikse gang spontaan liefdesdade verrig en wie se leefstyl van liefde spreek,” sê Coetzee.

Jantjies, ’n diep gelowige, vertel die betrokke oggend toe sy Labuschagne ontmoet het, het sy nie soos gewoonlike met haar eie voertuig werk toe gery nie, omdat dit stukkend was.

Zenobia Jantjies en Henry Labuschagne in Mei 2018 in die taxi waar sy vir hom gebid het. Foto: Verskaf

“Ek en my ma (Daizy) het saam na die taxi-staanplek langs die N12-hoofweg gestap. Ek sien toe die bejaarde man daar stap en sê so ewe vir my ma ek hoop nie hy gaan taxi ry nie, omdat dit ongewoon vir wit mense is. Ek was bekommerd oor sy veiligheid. My ma sê toe nee, ek moet hom net uitsort. ‘Wat bedoel Ma?’ wou ek weet. ‘Jy sal sien,’ is al wat sy gesê het.”

Zenobia Jantjies met die eerbewys wat na haar genoem is, en waarvan sy ook die eerste ontvanger is. Foto: Verskaf

Jantjies het die man gevra: “Waar gaat oompie nou?” Hy sê toe hy gaan met die taxi ry. Jantjies het saam met hom tot by die taxi gestap en hom ingehelp. Labuschagne het haar vertel sy vrou is al ses maande in die hospitaal ná ’n breinoperasie.

“Die Here het dit op my hart gedruk om vir hom te bid,” sê Jantjies. Ek het sy hande gevat en die Here gevra om sy vrou aan te raak en vir hom in te tree.”

Volgens Jantjies het die hospitaal Labuschagne kort daarna gebel met die nuus dat sy vrou haar bewussyn herwin het. Jantjies het uit die taxi geklim. Haar kollegas by Atlas Finansiële Dienste in Klerksdorp, waar Jantjies ’n bestuurder is, het vir haar gesê die gebeure “klink soos iets uit die movies”.

Jantjies het toe besluit om ander te inspireer deur haar ervaring op Facebook te deel. Die plaaslike koerant het hieroor berig en Jantjies kon Labuschagne drie maande later met die koerant se hulp opspoor. “Ons het steeds kontak,” sê sy. “Sy vrou is intussen dood en hy woon in ’n tehuis in Klerksdorp. Ek besoek hom gereeld en help hom ook met goedjies, hy het nie juis kontak met sy eie kinders nie.”

Jantjies sê sy was oorstelp en in trane toe sy hoor ’n eerbewys vir liefdesdade word na haar genoem en dat sy die eerste ontvanger daarvan is. As ambassadeur vir die Leef Liefde-projek hoop sy om ander ook te inspireer met verhale van omgee oor kleur-, generasie- en kultuurgrense heen.

Meer oor:  Zenobia Jantjies  |  Klerksdorp  |  Taxi  |  Samaritaan  |  Bid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.