Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Teen Everest uit ter wille van Harry die hond
Elsie Bezuidenhout (links) se twee honde Nikita (op haar skoot) en Harry is genoeg inspirasie om namens Dogtown, waar sy vir Harry aangeneem het, die berg Everest te pak. Saam met hulle is Thursia Hardenberg. Foto: Verskaf

Toe sy Harry verlede week vir die eerste keer in haar arms vashou, het Elsie Bezuidenhout (54) van Eldoraigne in Centurion, geweet sy wil die berg Everest aanpak ten bate van ander honde soos hy.

Die brakkie kom van Dogtown naby Hartbeespoort, ’n rehabilitasiesentrum vir honde, en lê Bezuidenhout na aan die hart. “Ek het verlede week vir Harry hier aangeneem. Hy is die oulikste hond wat gedurig al my aandag soek,” sê Bezuidenhout.

Bezuidenhout, slegs die tweede Suid-Afrikaanse vrou wat die sogenaamde sewe spitse aandurf, sê Harry en Nikita is genoeg motivering om die hoogste bergpiek in die wêreld aan te pak.

“Die twee Jack Russels is my twee babas – die liefdes van my lewe. Ek het Nikita vyf jaar gelede langs die pad opgetel en vir hom lief geraak, en Dogtown, ’n plek waar mishandelde en verwaarloosde honde versorg word, het mooi na Harry omgesien.”

Haar ander groot liefde, bergklim, het in 2000 begin, sê Bezuidenhout. “Ek het altyd klimmers bewonder en daarvan gedroom om eendag Everest uit te klim.

’n Vriend het my eenkeer saamgenooi (op ’n bergklimuitstappie) en ek kon nie genoeg daarvan kry nie en geleidelik het ek begin bergklim.

“In 2010 het ek besluit om Everest te klim, maar ek kon dit nie bekostig nie.”

20 jaar later het sy genoeg geld gespaar en sien nou uit daarna om die kruin van Everest te bereik. “Met ses spitse agter die rug, het ek besluit dié keer wil ek dit nie vir myself doen nie. Ek wil graag bewusmaking doen vir die goeie werk wat Dogtown doen.”

Vir Bezuidenhout lê ’n harde pad voor. “Dit is ’n tegniese tog wat sowat 60 dae kan neem en met meer as 8 000 m (hoog) moet jy gefokus en goed voorbereid wees.

“Maar selfs die ysige koue, die erge wind en die sneeu het my nie voorheen gekeer nie.”

Bezuidenhout sê hoewel haar familie dink sy is gek, is daar geen keer aan haar passie nie. “Dit is erg om my honde agter te laat, maar met my klein teddiebeer, ’n geskenk van my ma voordat sy dood is en ’n foto van my honde, weet ek ek is nooit alleen nie – maak nie saak hoe ver ek die hoogtes klim nie.”

Bezuidenhout het reeds Kilimandjaro, die Everest-basiskamp, Aconcagua, Denali, die berg Vinson, Elbroes, die Carstensz-piramide, Damawand, Ararat en Cho Oyu geklim.

Meer oor:  Bergklim
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.