Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
#TerugSkoolToe: Huiswerkwenke vir 2016

Een van die minder lekker dinge van terug skool toe gaan, is die baie huiswerk wat vir kinders lê en wag.

Met ’n bietjie beplanning en leiding hoef huiswerk nie ’n kopseer te wees nie. Foto: iStock

Ons het 'n paar onderwysers vir raad genader:

Marga Botha, - Afrikaans en Lewensoriëntering, HTS Pretoria Tuine gee die volgende raad vir hoërskoolleerlinge en hul ouers:

1. ’n Gesonde dieet is die basis van akademiese sukses.

2. Stel ’n tydsbeplanning-rooster op en maak daagliks tyd om huiswerk te doen en te studeer. Een van die grootste flaters wat talle hoërskoolleerlinge maak, is om te wag vir ’n toets of eksamen voordat hulle begin leer.

3. Leerlinge moet ’n huiswerkboek gebruik waarin elke dag se huiswerk geskryf word. Dit gee ouers ook geleentheid om die huiswerk te kontroleer.

4. Ouers moet ook af en toe deur hul kinders se boeke blaai. Om onbetrokke te raak sodra ’n kind “onafhanklikheid” begin toon, is ’n groot fout wat baie ouers soms maak.

5. Voor jy met huiswerk begin, maak seker dat jy alles het wat jy benodig. Dit breek jou spoed as jy kort-kort moet opstaan om iets soos skryfbehoeftes of ’n glas water te gaan haal.

6. Bêre jou selfoon weg wanneer jy huiswerk doen. Die foon moet glad nie sigbaar wees nie omdat ’n foon wat net op “silent” geplaas word, jou steeds kan steur.

7. Kinders moet by ’n tafel, verkieslik op ’n stil plek sit en nie op ’n bed of in ’n leefvertrek waar hulle aandag maklik afgetrek kan word nie.

Judith Sevenster, sosiale wetenskap onderwyser by Hoërskool Nelspruit gee die volgende wenke vir leerders, onderwysers en ouers:

1. Maak sodra jy by die huis kom dadelik jou huiswerk klaar, terwyl jy nog in ‘work mode’ is en begin altyd met die vak se huiswerk wat vir jou die moeilikste is.

2. Leerlinge word gemotiveer as ’n onderwyser die laaste vyf minute van ’n periode vir hulle huiswerk gee, dit prikkel die leerders en motiveer hulle om die werk by die huis klaar te maak.

3. Leerlinge moet aan meer buitemuurse aktiwiteite deelneem, want ’n besige kind is gewoonlik ’n gebalanseerde kind en wil oor die algemeen in alles so goed as moontlik presteer.

Mirna van Wyk, opvoedkundige sielkundige en voormalige onderwyser by onder meer Hoërskool Stellenbosch, Hoër Meisieskool Bloemhof en Jan Krielskool gee die volgende wenke vir ouers:

1. Help jou kind om te prioritiseer deur saam ’n lys op te stel van die moontlike aktiwiteite vir die week. Lys ook elke aktiwiteit volgens sperdatum, belangrikheid en hoe lank dit sal neem om te voltooi.

2. Onthou, die vaardighede wat jou kind gebruik om suksesvol te studeer is belangrik en hulle gaan in die toekoms dit in verskeie aspekte van hul lewe moet toepas. Dit sluit in gefokusde verstandelike inspanning, strategiese beplanning, tydsbestuur en selfdissipline en is belangrik om sukses te behaal.

3. Wees simpatiek en moenie veroordeel nie, maar moenie toelaat dat studietyd ’n aanhoudende geveg raak nie.

4. Moedig jou kind aan om langtermyndoelwitte (gebind aan graad verwagtinge) op ’n kalender neer te skryf, korttermyndoelwitte (gebind aan weeklikse take en projekte) op ’n weeklikse skedule te lys en daaglikse doelwitte (gebind aan wat vandag afgehandel moet word) op ’n “te doen”-lysie te plaas.

5. Leer jou kinders om hul werkstasie of lessenaar skoon te hou.

6. Sukses begin gewoonlik deur die regte keuses te maak. Lei jou kind om ’n dinkskrum te hou oor onderwerpe vir take en leer hulle vaardighede oor navorsings en opsommings. Moedig hulle ook aan om dit deurlopend te oefen totdat hulle dit op hul eie kan doen.

7. Beloon harde werk en deursettingsvermoë en nie slegs punte nie. ’n Kind behoort erkenning te kry vir die manier waarop hy werk, bv. om doelwitte te bereik, by sperdatums te hou en wanneer hy iets sonder jou hulp kan doen.

Het jy enige huiswerkwenke wat werk? Deel dit met ander lesers in die kommentaar hieronder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.