Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Tiener kan weer hoop

’n Skoot uit die geweer van ’n Israeliese soldaat het die lewe van ’n Palestynse tiener vir altyd verander, maar danksy mediese ingryping in Suid-Afrika is hy weer vol hoop. Suraya Dadoo vertel.

Muhammad voor sy operasie. Hy het bykans ’n derde van sy skedel verloor nadat hy deur ’n Israeliese soldaat in die gesig geskiet is. Foto: Abbas Momani

‘Moenie vergeet om te wens voordat jy jou kerse uitblaas nie,” het ’n groep uitgelate tieners die 16-jarige Muhammad Tamimi herinner toe hulle in November sy verjaardagpartytjie by die Johannesburgse Windybrow-teater gevier het.

Een van sy wense is reeds ’n maand tevore bewaarheid danksy ’n groep bekwame Suid-Afrikaanse dokters.

Muhammad se pad na ’n Johannesburgse hospitaal het ’n jaar gelede begin toe hy en sy vriende sokker gespeel het in ’n straat in die Palestynse dorpie Nabi Saleh in die Wesoewer, wat deur Israel beset word.

Israeliese soldate het ’n aanval op die dorp van stapel gestuur en Muhammad is met ’n rubberbedekte metaalkoeël in die kop getref.

Ridwan Mia, wat die rekonstruksiewerk aan Muhammad Tamimi se gesig gedoen het, opereer hier aan die brandslagoffertjie Pippie Kruger. Foto: Oz Healthcare Communications

“Talle geweerskote het reg langs die sokkerveld geklap. En toe, skielik, het dit stil geword. Wanneer dit gebeur, beteken dit gewoonlik die Israeliese weermag het óf iemand in hegtenis geneem óf iemand doodgeskiet,” verduidelik Muhammad.

Omdat hy nuuskierig was om te sien wat gebeur het, het hy ’n leer uitgeklim vir ’n beter uitsig oor ’n 4 meter hoë muur wat aan die sokkerveld grens. Hy sê ’n Israeliese soldaat het hom gewaar en ’n skoot afgevuur. Hy het van die leer afgeval, op sy rug geland en sy bewussyn verloor.

Die koeël het sy neus deurboor en in sy brein vasgeslaan. ’n Groot deel van sy skedel moes verwyder word, wat veroorsaak het dat sy linkeroog gesak het. Hy het die sig in dié oog verloor en kon ook nie sy mond heeltemal oopmaak nie.

Die Israeliese owerhede het beweer dat die tiener sy beserings opgedoen het deur van sy fiets af te val – al het ’n chirurg die koeë­l uit sy skedel verwyder. Tot vandag toe is nie teen die Israeliese soldaat opgetree nie.

Dokters het nie die nodige toerusting vir rekonstruktiewe chirurgie gehad nie, wat beteken het Muhammad het maande lank gesukkel om te sien, praat en eet.

Nadia Meer van die Durbanse nieregeringsorganisasie Sham­saan (wat in Arabies “twee sonne” beteken), het besluit om te help nadat sy ’n teksboodskap op Facebook gesien het waarin Muhammad mense vir hulp vra sodat hy rekonstruktiewe chirurgie kon ondergaan.

’n Operasie van langer as vyf uur was nodig om Muhammad se gesig te herbou. Foto: Oz Healthcare Communications

Pippie se dokter help

Ridwan Mia – bekend vir sy baanbrekerswerk met veloorplantings op die brandslagoffertjie Pippie Kruger – is om hulp genader. Mia het weer twee kakebeen-chirurge, Collette Smit en Jameel Desai, gekontak. Die narkotiseur was Hizir Mukaddam.

In Oktober het die span in ’n teater in Johannesburg begin met ’n operasie wat langer as vyf uur geduur het. ’n Groot deel van Muhammad se oog en ’n deel van sy mond is gerekonstrueer. Die operasie was ’n volslae sukses en Muhammad het goed genees.

Mandla se besoek

Nelson Mandela se kleinseun Mandla Mandela het Muhammad in die hospitaal besoek en almal wat by sy operasie betrokke was, geloof. “Hulle is trotse voorbeelde van Suid-Afrikaners wat Madiba se gees van opoffering en omgee vir jou medemens, veral vir die kwesbaarste onder ons, uitleef,” het hy gesê.

Die span dokters sê hulle voel bevoorreg dat hulle in staat was om Muhammad te help.

“Hy was erg beseer en daar is ’n groot tekort aan hulpbronne in die besette Palestina. Ek kan met sy situasie identifiseer, synde afkomstig van ’n land soos Suid-Afrika met sy eie geskiedenis van verdrukking,” het Desai gesê.

“Ons probeer doen wat ons kan om die behoeftiges in ons eie land te help, maar soms is dit nodig om ook uit te reik na mense van ander lande.”

’n Verjaardagwens word waar. Suid-Afrikaanse chirurge het verseker dat Muhammad weer kan glimlag. Foto: Leyyah Patel
Laat ons dans! Muhammad Tamimi leer ’n groep Suid-Afrikaanse jong mense die Palestynse dabke dans, terwyl hulle hom geleer het om te vosho! Foto: Leyyah Patel

Om op die strand te loop . . .

Weens die aard van sy gesigbeserings kon Muhammad nie te veel tyd in die son deurbring nie en hy het die eenvoudige dingetjies gemis, soos om saam met sy vriende sokker te speel.

Shamsaan en die span mediese spesialiste kon die sonskyn terugbring in sy lewe, maar hy het nog ’n onvervulde wens.

“My wens is dat die besetting beëindig word en dat vryheid van beweging aan ons toegestaan word sodat ons ons lewe soos ander mense kan lei,” sê hy.

“Die see is 25 km van ons dorpie af, maar ek was nog nooit daar nie. Ek sien die see elke dag van die balkon van my huis af, maar ek was weens die Israeliese beheerpunte nog nooit daar nie. Ek het nog nooit toestemming gekry om see toe te gaan nie,” verduidelik hy.

Daar is meer as 50 Israeliese beheerpunte in die besette Palestynse gebiede en Palestyne moet toestemming van die Israeliese weermag verkry om dit oor te steek. Dit beheer elke aspek van hul lewe, wat insluit om strand toe te gaan, familielede in aangrensende dorpe te besoek of skool in ’n naburige stad by te woon.

Suraya Dadoo

Hoop beskaam nie

Volgens die dokters sal ’n klein gedeelte van Mohammed se skedel altyd ontbreek en ’n effens misvormde kop sal ’n herinnering bly aan die brutaliteit van die Israeliese besetting.

Maar die tiener is weer vol energie ná die operasie en bly hoopvol dat hy en sy mense vryheid sal geniet.

“Ek sal nooit ophou glo in en veg vir ’n vry Palestina nie. Dit is die ondersteuning en liefde wat ons ontvang van lande soos Suid-Afrika wat ons gees sterk hou.”

Muhammad het sedertdien teruggekeer na sy dorp in die besette Palestina en sy studies hervat wat deur sy beserings ontwrig is.

Die toekoms lyk inderdaad belowend vir hierdie Palestynse tiener.

  • Dadoo is ’n onafhanklike skrywer van Johannesburg.
Meer oor:  Suraya Dadoo  |  Palestina  |  Operasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.