Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Tienie Holloway vereer met blomme op graf

Die FAK het Donderdag saam met kleinkinders van die gevierde Afrikaanse kinderversskrywer Tienie Holloway blomme op haar graf in Pretoria gelê. Sy is 54 jaar gelede oorlede.

Barry Müller (links), projekorganiseerder van die FAK-kultuurnetwerke in Gauteng, saam met (van links) Elize en dr. Jackie Grobler en Hettie en Neels Botes by Tienie Holloway se graf by die Rebeccastraat-begraafplaas in Pretoria.
Hettie Botes (81), Tienie Holloway se oudste kleinkind, lê ’n blou krismisroos op haar ouma se graf neer.

Dr. Jackie Grobler en sy suster, Hettie Botes (81), het elk ’n blou krismisroos op hul ouma se graf in die Rebeccastraat-begraafplaas neergelê.

Grobler sê hul ouma kon wonderlike stories vertel. “Sy het altyd gesê ’n mens moet nooit dat die waarheid tussen jou en ’n goeie storie staan nie.”

Tienie Holloway (heel links) op die friespaneel in die Voortrekkermonument. Sy kyk hoe Piet Retief as goewerneur ingelyf word.

Grobler sê hy onthou dat Holloway kort voor haar dood aan sy ma gesê het dat sy soos ’n “papgetrapte kakkerlak voel. Nou dít was ouma Tienie. Dis hoe sy ’n ding kon beskryf.”

Die bekroonde skrywer Irma Joubert, ook ’n kleinkind van Holloway, sê haar ouma het gereeld vir haar stories vertel.

Tienie Holloway (heel links) saam met (van links) prins Philip, koningin Elizabeth en haar man, Jack Holloway, wat in 1957 Suid-Afrika se ambassadeur in Londen was.

Die FAK skryf in ’n verklaring Holloway (gebore Christina Maria Purchase) het ’n baie belangrike bydrae tot Afrikaanse kinderverse gelewer in ’n tyd toe daar ’n skaarste aan goeie leesstof vir kinders was.

Barry Müller, projekorganiseerder van die FAK-kultuurnetwerke in Gauteng, sê: “Dit is ’n voorreg en eer om hulde te bring en erkenning te gee aan ’n legende soos Tienie Holloway, wat die pad gebaan het vir die vorming van ons taal en kultuur soos wat dit vandag nog bestaan. Dit is wonderlik dat daar 54 jaar ná haar afsterwe weer ’n boek van haar uitgereik is.”

Netwerk24 het vroeër berig dat Protea onlangs die bloemlesing Die beste kinderverse van Tienie Holloway, met illustrasies van Wendy Maartens, uitgereik het.

Holloway se geskiedenis

Holloway is op 5 Desember 1888 in die distrik Lindley in die Vrystaat gebore.

Sy het aanvanklik by ’n plaasskool in die omgewing skoolgegaan, maar net voordat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het, het die gesin na Johannesburg verhuis. Ná die oorlog het die gesin teruggekeer na Lindley.

Holloway het aan The Seminary in Bloemfontein gematrikuleer en later aan die Normaalkollege in Bloemfontein onderwys studeer. Daarna het sy ’n pos as kleuteronderwyseres in Bloemfontein aanvaar.

Sy en John Edward Holloway het op 17 Desember 1913 getrou, waarna hulle dadelik na Gent in België, waar hy geskiedenis gestudeer het, vertrek het. Vyf kinders is uit die huwelik gebore. Die paartjie het in 1957 vir koningin Elizabeth en prins Philip op ’n amptelike geleentheid ontmoet.

Holloway het aanvanklik bekende kinderverse vir Die Volkstem vertaal, maar later oorspronklike Afrikaanse verse onder die skuilnaam Madeliefie begin skryf. Toe daar spottenderwys na haar man as Padeliefie verwys is, het sy besluit om eerder onder haar eie naam te skryf. Haar verse is gepubliseer in bundels soos Hasie kalbassie, Die haasbekkies, Nuwe kleuterversies, Doempie Domkop, Martha-hulle en Nuwe kinderversies. Haar verse is ook vanaf 1944 in die Lentedae-skoolleesboekreeks opgeneem.

Sy het tot voor haar dood op ’n kleinhoewe in Pretoria gewoon. Sy is op 17 Junie 1967 op 78-jarige ouderdom oorlede. – Wikipedia


Meer oor:  Blomme  |  Oorlede  |  Vereer  |  Graf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.