Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Tingkel II bring groot blydskap
Herman Groenewald sit die budjie op die skouer van Johan Coetzer, wat straal van vreugde. Foto: Marita Herselman

Oneindig baie soene en blydskap in oorvloed.

Dit was Donderdagoggend die toneel in Bloemfontein toe Johan Coetzer (40) verras is met ’n budjie, soortgelyk aan sy geliefde Tingkel, wat onlangs weggevlieg het.

Johan Coetzer vroeër met die oorspronklike Tingkel. Foto: Verskaf

Daar was baie trane, maar uiteindelik het Johan Donderdag weer van oor tot oor geglimlag.

Hy het die budjie verlede Desember op sy verjaardag gekry. In April het hy egter een dag die deur van hul blyplek oop vergeet en Tingkel het weggevlieg.

Hy woon saam met sy ma, Dollie, in die Aandrus-aftreeoord.

Oor die hartseer dag sê Dollie sy was oorbluf en het net begin huil toe sy die leë koutjie sien.

Jeannette Geldenhuys-Smit, ’n voormalige omroeper en Johan se goeie fee, het gereël om hom met die nuwe budjie te verras.

“Tingkel!” het Johan uitgeroep toe hy die nuwe voëltjie sien. En hy het hom dadelik begin soen.

Herman Groenewald hou Tingkel (die tweede) uit vir Johan Coetzer om te bekyk. Johan is baie ingenome met sy nuwe budjie. Foto: Marita Herselman

“Jy gaan nie wegvlieg nie,” het hy vir Tingkel (die tweede) gesê nadat Geldenhuys-Smit en Dollie hom die leviete voorgelees het om nie dié budjie ook te laat wegvlieg nie.

Geldenhuys-Smit ken die twee al jare en ná die hartseer oor die budjie wat weggevlieg het, het sy dit haar taak gemaak om ’n voëltjie op te spoor om Tingkel te vervang. Hy moes mak wees en darem na Tingkel lyk.

Die Coetzers het hoeka nog een van Tingkel se veertjies in die huis.

Johan Coetzer met die nuwe Tingkel op sy skouer. By hom is sy ma, Dollie. Foto: Marita Herselman

Sy het haar na Facebook gewend en só het Herman Groenewald, nooddienswerker van die Rosepark-hospitaal, betrokke geraak toe hy hoor van ’n budjie wat in Kroonstad gevang is.

Thomas Bridges, ’n gevangenisbeampte, het dié voëltjie by Kroonstad se gevangenis gevang. Die budjie was ’n ruk deel van die Bridges-huishouding terwyl hulle gewag het op sy eienaar om hom op te eis. Niemand het egter na vore gekom nie.

En só het Tingkel (die tweede) die naweek met ’n saamrygeleentheid in die Rosestad by die Groenewalds aangekom.

Herman Groenewald hou die nuwe Tingkel vas, terwyl Johan Coetzer sy nuwe geveerde vriend ’n soen gee. Foto: Marita Herselman

Geldenhuys-Smit en Groenewald was self verras toe hulle afkom op ’n vink in die hok waarin die nuwe budjie moes gaan. Dié geringde vink was egter net ’n besoeker terwyl hulle sy eienaar probeer opspoor het.

Groenewald, wie se pa met voëls boer, is toe met die vink daar weg om die eienaar op te spoor en plek vir Tingkel (die tweede) te maak.

Johan het een kyk na die nuwe Tingkel in die hok gegee en toe vir hom “lekker vrytjie” gesê. Dit was een van die oorspronklike Tingkel se sêgoed.

Geldenhuys-Smit sê dit was ’n heuglike dag en sy is dankbaar vir elkeen wat saamgespan het om dit moontlik te maak.

“Ek glo as ek een mens per jaar gelukkig kan maak, kan ek maar doodgaan. Dis presies wat vandag hier gebeur het.

“Dit was soos die dood van ’n kind in die huis. Daar was net trane. En vandag het ons alles reggemaak.”

Meer oor:  Liefde  |  Troeteldier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.