Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Tjeers!

Die verbod op die verkoop van alkoholprodukte het min goeie gevolge as ’n mens na die geskiedenis kyk, skryf Tanya de Vente-Bijker.

My vriendin wink die kelner nader. Sy vra saggies of ons “wit tee” kan bestel. Die kelner maak eers asof sy nie hoor nie. Maar dan buig sy vorentoe en fluister verskillende wynvariëteite en wynplase se name.

My vriendin kies ’n bekende sauvignon blanc. ’n Rukkie later bedien die kelner ons met teekoppies op pragtige pierings met teelepels en elkeen kry sy eie teepotjie met wit tee.

Tanya de Vente-Bijker

Vir ’n buitestander lyk dit asof ons twee sit en tee drink, maar as jy fyn kyk, sal jy die koue kondensasie op die teepot opmerk.

Ek en my vriendin het mekaar by ’n gewilde restaurant in Gauteng ontmoet. Maar deur die loop van die week hoor ek hoe ’n restaurant in die Kaap ook met ’n oogknip hul gaste nooi om wyn in koffiebekers te bestel, dieselfde in die Vrystaat.

Terwyl sommige restaurante onder die dekmantel van koffie en tee iets sterkers bedien, is daar ander wat egter openlik drank bedien. Hulle verkies om die risiko te loop, ter wille van die inkomste.

Godsdienstige herlewing

Die Suid-Afrikaanse alkoholbedryf het na raming reeds R19 miljard in wins en R12 miljard in aksynsbelasting verloor sedert die eerste verbod op 26 Maart vanjaar in werking getree het. Die verlies aan aksynsbelasting is klaarblyklik weens die verkope van onwettige drankprodukte.

Die rede vir die herinstelling van die verbod is, volgens owerhede, dat dit help om die druk op hospitale te verlig te midde van die Covid-19-pandemie.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad het egter vroeër vandeesweek in ’n verklaring gesê dié aanname is verkeerd – en weer ’n beroep op die regering gedoen om die verbod op te hef om sodoende werkgeleenthede te red.

Maar hoekom klink dit alles so bekend? Het ons nie al hierdie fliek gesien nie?

Daar was vroeg in die 20ste eeu vir 13 jaar ’n verbod op die vervaardiging, vervoer en verkoop van “bedwelmende alkohol” in Amerika.

In 1919 is die 18de wysiging aan die Amerikaanse grondwet aangebring en in 1920 het dit wet geword.

Volgens history.com was daar in die twintiger- en dertigerjare van die 19de eeu ’n golf van godsdienstige herlewing in die VSA. Dit het verskeie uitvloeisels gehad, onder meer die “perfeksionistiese” bewegings.

Vroue het ’n sterk rol in dié beweging gespeel.

Hulle het alkohol gesien as ’n vernietigende faktor in huwelike en gesinne.

Die Anti-Saloon League is in 1898 gestig en in 1906 ná hernude versoeke om die verkoop van drank te verbied, het die beweging begin vlamvat. Dit is ook ondersteun deur evangeliese Protestante wat die kroegkultuur as goddeloos gesien het. Verder het fabriekseienaars dit ondersteun om sodoende hul werkers se doeltreffendheid te verhoog.

’n Totale verbod

Nog vroeër, in 1838, is ’n wet in die deelstaat Massachusetts ingestel wat ’n verbod geplaas het op die verkoop van drank in eenhede van minder as 15 gallon 56,8 liter). Dit is spesifiek gemik daarop om drank vir huishoudelike gebruik te stuit.

Die tekens van ons tyd . . . ’n koppie “wit tee” vir jou? Foto: GALLO

Die wet is ná twee jaar later herroep, maar Maine het in 1846 ’n soortgelyke wet ingestel. Met die uitbreek van die Amerikaanse Burgeroorlog in 1861 was daar in verskeie deelstate ’n verbod op die verkoop van alkohol.

In 1917 breek die Eerste Wêreldoorlog uit, wat wêreldwyd tot voedseltekorte lei. Pres. Woodrow Wilson stel die eerste tydelike landswye verbod op drank in, hoofsaaklik om graan te bespaar.

Later die jaar het die Amerikaanse Kongres die 18de wysiging op die Amerikaanse grondwet ingedien. Driekwart van die deelstate het hul steun binne elf maande aan die verbod toegesê en die wet is in 1920 bekragtig.

Die motivering? Die Amerikaanse regering wou korrupsie en misdaad verminder, sosiale probleme verminder en die belastinglas van skuilings en tronke verminder.

Hulle wou ook die gesondheid en higiëne in Amerika verbeter, skryf Mark Thornton in 1991 in ’n ontledingsartikel vir die Cato-instituut, wat fokus op navorsing oor openbare beleid.

Kodewoord?

Hoewel die verbod in sy begindae suksesvol toegepas is, het die publiek al hoe vindingryker geword in hul maniere om alkohol te bekom.

Drank is onwettig vervaardig en verkoop en die winkels of nagklubs, sogenaamde speakeasies, was tipiese verkoopspunte vir drank. Om toegang te verkry tot ’n speakeasy moes jy ’n spesiale kodewoord, handdruk, kaart of kode hê.

Wanneer jy die kodewoord gegee het, is jy na die geheime speakeasy-bestemming geneem, gewoonlik iewers in ’n kelder, of agter ’n geheime deur.

Een van die bekendste en berugste mense wat in dié tyd deel was van die smokkelbedryf, was die Chicago-bendeleier Al Capone.

Na wat berig word, het hy jaarliks sowat $60 miljoen verdien deur onwettige drankvervaardiging en -verkope.

Thornton skryf as ’n mens kyk na die resultate van die verbod, wat vir 13 jaar gegeld het, was dit duidelik dat die Amerikaanse regering op alle vlakke daarmee misluk het.

Hoewel die verbruik van alkohol weens die verbod in die VSA aanvanklik met sowat 30% gedaal het (dink aan Suid-Afrika se eerste drankverbod in Maart en April) het dit stelselmatig weer verhoog.

En toe begin die newe-effekte van die verbod . . .

Klink dit bekend?

Volgens Thornton het dit mettertyd al hoe gevaarliker geword om te drink, misdaad het toegeneem en daar was veral ’n skerp styging in georganiseerde misdaad.

Inkomste van belasting uit die bedryf het weggeval en dit het ’n negatiewe impak op die regering se begroting gehad.

Baie mense wat voorheen gedrink het, het oorgeskakel na sterker dwelmmiddels, waarmee hulle waarskynlik nié sou begin eksperimenteer het as daar nié ’n drankverbod was nie.

Thornton wys ook uit dat smokkelvervaardigers baie vinnig van eenvoudige biere oorgeskakel het na die stook van hardehout, bloot omdat dit makliker was om ’n sterker, kleiner produk te verkoop en omdat jy kleiner hoeveelhede hardehout vir meer geld van die hand kon sit.

Die verbod het ook veroorsaak dat Amerikaners se drinkpatrone verander het.

Drank het skielik aantrekliker geword. Die “verbode vrugte” is verbind met intrige en opwinding.

Drank is derhalwe suksesvol bemark aan mense wat nie gewoonlik drink nie. Omdat mense nie wou hê die regering moet hulle voorskryf oor wat hulle in hul huise doen nie, het hulle ook uit protes meer doelgerig begin drink.

Tjeers!

Pres. Herbert C. Hoover het na die verbod verwys as ’n “edele eksperiment”. Hy is in 1932 deur Franklin D. Roosevelt uit die kussings gelig. ’n Onderneming om die verbod op drank op te hef was destyds deel van Roosevelt se verkiesingsveldtog. Hy het alkoholmisbruik verbind met misdaad en armoede. Maar bowenal het dit te veel hulpbronne vereis om die wet toe te pas, terwyl die verlies aan belasting die regering swaar getref het – en dit in aanloop tot die Groot Depressie.

Roosevelt, word vertel, het die herroeping van die verbod op drank met ’n Dirty Martini gevier . . .

  • De Vente-Bijker is ’n media-entrepreneur.
Meer oor:  Tee  |  Wyn  |  Drankverbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.