Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Toe die aarde bewe

Volgende Sondag is dit 50 jaar sedert ’n aardbewing Tulbagh geskud het. Marzahn Botha het in die Boland-vallei gaan kuier.

Tulbagh met die Witzenberge in die agtergrond. Foto’s: marzahn botha

Op die hoek van Kerkstraat staan die historiese Oude Kerk-volksmuseum vorstelik. Die “museum”, soos dit nou bekend staan, is een van die oudste kerke in die land. Dit dateer uit 1749. Die laaste diens was in 1878 en in 1925 is dit verander na ’n museum.

Skuins oorkant die pad vang my oog die groot letters op die toerisme inligtingkantoor: Tulbagh Remembers, 29-09-69. Die hutsmerk #Aardbewing50 verklap hoe tyd aangestap het sedert ’n aardbewing die dorp op daardie dag geruk het. In die Oude Kerk- en Aardbewingmuseum is daar selfs horlosies wat gaan stilstaan het op 22:04, die presiese oomblik wat die aarde op ’n Maandag geskud het.

Dis volgende Sondag 50 jaar sedert die dorp Tulbagh deur ’n aardbewing geskud is. Foto:

Kom hoor hul verhale

50 jaar later staan Tulbagh adellik – omring deur die Obiquaberg in die weste, die Witzenberg in die ooste en die Winterhoekberge in die noorde.

Dis nou die kreatiewe energie van inwoners wat toerisme-trillings veroorsaak.

Die aardbewing word onthou met die hutsmerk Aardbewing50.

Die naweek van 27 tot 29 September is daar ’n fees by die ou sendingkerk waar die oorlewendes hul nare aardbewing­ondervindings met die publiek sal deel. (Dieselfde naweek is daar ook ’n kunstefees. Kry meer inligting by Tulbaghtourism.co.za.

Oom Awie Jacobus Andreas, ’n werker wat 33 jaar lank op die Steinthal-landgoed gewerk het, is een van hulle. Hy vertel sy ervaring soos dit ook opgeteken staan in die museum: “Mense het skreeuend uit hul huise gehardloop en na familie en vriende begin soek. Ons het naby die dam bymekaargekom. Oom Ismail Abrahams en sy gesin was vermis. Ek het saam met ’n groep jong mans onder puin na die vermistes gaan soek. Ons het tannie Gertie Abrahams en haar kind uitgegrawe. Daarna het ons Lily Krieling uitgegrawe. Haar vierjarige dogtertjie, Gertrude, was ook onder die puin. Ons het haar uitgegrawe en ’n verpleegster het noodhulp toegepas, maar sy was reeds dood.”

Tientalle mensestories met foto’s van die gevolge word uitgestal.

Een van die foto’s is van Japie Fortuin, wat op sy bed buite sy huis lê. Inwoners het dit gedoen omdat dit te onveilig was om in die huise te slaap, wat enige oomblik kon instort. Japie het glo ná die aardbewing nooit weer voor 22:00 in die aand gaan slaap nie. Die weermag en Rooi Kruis het meer as 3 000 tente in die omgewing opgeslaan waarin die inwoners kon slaap – so het tentedorpe ontstaan.

“Dit is belangrik om mense te herinner aan daardie verskriklike aand,” sê Beulah Rhoda, ’n gids by die Aardbewingmuseum.

Sy verwys na die gedenkplaat waarop agt name van die oorledenes verskyn, waarvan die jongste, Johanna Solomons, slegs drie maande oud was. “Vandag weet ons 14 mense het beswyk en nie agt soos hier opgeteken staan nie,” sê Rhoda.

“Ons het in Junie vanjaar weer drie trillings gevoel,” sê Rhoda. “ ’n Groot aardbewing kan die dorp enige tyd weer tref.”

Rhoda was in 1969 net vier jaar oud.

Terug na 1861

’n Foto in die museum wys hoe inwoners buite geslaap het ná die aardbewing.

Teen 1975 is die straat gerestoureer na sy oorspronklike glorie. ’n Foto wat in 1861 deur ’n Ierse meisie vanaf Galgheuwel geneem en vir haar vriendin gestuur is, was die bloudruk vir die restourasieproses.

“Die foto het duidelik gewys hoe elke huis in Kerkstraat lank voor die aardbewing gelyk het. Daar is vyf verskillende boustyle – Kaapse Barokstyl, die neoklassieke Kaaps-Hollandse styl, die pre-industriële boustyl, die Victoriaanse styl en een huis in die Eduardiaanse styl. Die oudste gebou in die straat is die ou pastorie, wat al 250 jaar hier staan.”

Elk van die 32 geboue het provinsiale monumentstatus,” sê Jason Augustyn-Clark, die eienaar van Cape Dutch Quarters en die gemeenskapstuin in Kerkstraat.

Wat het oorgebly van die aardbewing? “Nie veel nie, kyk jy tussen die berge deur, sien jy ’n vaal vlek op die Witzenberg,” sê Rhoda.

Meer as die koloniale erfenis

Jason is ’n gids wat geskiedkundige toere lei. Jy kan hom die erfenisman van die dorp noem.

“Ons is aktief besig om Van der Stel-straat meer ooglik te maak. Baie van die geboue is gerestoureer om die stiefboetie van Kerkstraat ook beter te laat vertoon,” vertel Jason.

Daar is ook vanaf 3 tot 5 Oktober ’n erfenis-simposium. Jason help ’n mens om dieper te grawe in die geskiedenis. “Anders sien jy net die koloniale erfenis,” verduidelik hy.

Die uitsig uit die Tolhuis na die vredestuin. Foto:

Slaap in die Tolhuis

Die Tolhuis, wat ook aan die Tulbagh-boetiekhotel behoort, is in Kerkstraat geleë. Dis in 1809 gebou en was die eerste woning van die tolgaarder van Roodzandt­kloof. Ek het in die erfenis-fynbos-suite geslaap. Benewens ’n bed is daar ook ’n klavier, kaggel en ’n swembad vir die eenheid. As jy die mooi ou deure en vensters oopgooi en na die vredestuin oorkant die pad tuur, is dit asof die swierige verlede voor jou afspeel.

Anna Adonis dra hout vir ’n vuurtjie op haar kop huis toe.

Teen skemer sorg die paddas se gekwaak by die Paddagang Eethuis & Fijne Wijne-restaurant dat ons eerder ’n opsit-kaggeltjie aansteek. Dié restaurant beleef ’n oplewing onder die eienaarskap van Andrew Jaeger, wat ook die wynplaas Oudekloof besit.

Later is die Thaise gereg met die naam krakerige eend nasi goreng in die hotel se Olive Terrace Bistro-restaurant die Oosterse antwoord op ’n boeremeisie se honger.

Die volgende oggend lê ’n missluier dik oor die dorp. Dit lyk heel anders. Hendrik Smit verdwyn met sy fiets in die wit en Anna Adonis stap misterieus met hout op haar kop terug na die “hokke”.

In die son se strale verdwyn die mis en dis asof elke huis ontdooi om weer vorstelik te vertoon.

Hier moet jy ry, stop en stap

Gaan stap by Oude Compagnies Post net buite Tulbagh.

Op Tulbagh gaan jy lékker eet. Daarom is dit ook nodig om die staproetes by die Oude Compagnies Post met sy wynvat by die ingang en ’n eg Nederlandse koloniale gevoel te gaan aandurf.

Teen R50 kan jy ’n vinnige dagstap doen, maar daar is ’n veel langer staproete van byna ses uur in die Obiquaberge vir die meer geharde stapper. Kry meer inligting deur ’n e-pos te stuur aan info@oudecompagnies.com.

As jy lief is vir panoramiese uitsigte, gaan ry saam met Andrew op sy Oudekloof-trekkerritte. Jy sal ’n pragtige prentjie van die Oudekloof oor die Tulbagh-vallei, die Swartland en Voëldam te siene kry. Dit kos R250 per persoon en tydens die twee uur lange rit is ’n piekniek en limonade ook ingesluit. Bespreek by reservations@oudekloofwineestate.co.za.

Soos die dag aanstap en die lui in ons lywe sit, sien ek ’n tuk-tuk langs die pad. Celeste Nolan is die bestuurder van die voertuigie met die naam “Sparky”.

“Die tuk-tuk-diens ry sedert Maart. Ek vat mense na wynplase en troues of net waar hulle wil wees.

Celeste Nolan en haar tuk-tuk, Sparky, sal jou veilig huis toe neem.

“Ek ry van wynplaas tot wynplaas, selfs tot in die aand.”

Sy sê die gewildste roetes is na Saronsberg, Theuniskraal, Manley’s en die Twee Jonge Gezellen. Jy kan met haar in aanraking kom by 063 401 0581 vir ’n rit.

Dan’s sy weer op pad en ek stap uit teen die bult vir ’n laaste blik op hierdie mooi dorp.

Mag ons altyd onthou.

  • Marzahn was ’n gas van die vierster­ Tulbagh-boetiekhotel. Bespreek by 023 230 9881.
Meer oor:  Boland  |  Tulbagh  |  Besoek  |  Reis  |  50 Jaar Gelded  |  Aardbewing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.