Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Pryse, twee doktorsgrade eerste vir Oorlogsmuseum

Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein dat personeel ’n doktorsgraad behaal het – en sommer ook toe twee. Toevallig is dit ook die jaar wat die museum 90 jaar oud is.

Die twee nuwe doktore verbonde aan die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, dr. Vicky Heunis (links) en dr. Johan van Zÿl (middel) deel die Protea Boekhuis-prys vir die beste proefskrif in Afrikaans, wat deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken is. Hier is hulle in die museum saam met 'n kollega, Dane Swanepoel (regs). Foto: Argief

Só sê dr. Johan van Zÿl, senior vakkundige van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, oor die twee doktorsgrade en die toekenning van die Akademie vir Wetenskap en Kuns wat hy met sy kollega, dr. Vicky Heunis, deel.

Van Zÿl en Heunis, museumkundige en kultuurhistorikus van die museum, deel vanjaar die Protea Boekhuisprys vir die beste kultuurgeskiedenis-proefskrif in Afrikaans.

“Saam met die feit dat die museum 90 word, het ons ook die Akademie se toekennings gekry, wat soveel beteken vir ons en die Oorlogsmuseum,” sê Van Zÿl.

Die titel van Heunis se proefskrif is "Anglo-Boereoorlog-Boerekrygsgevangenekuns, 1899-1902". Die titel van Van Zÿl se proefskrif is "Bethulie 1896-1907", met spesifieke verwysing na die Anglo-Boereoorlog. Heunis se proefskrif is reeds by Protea-uitgewers in druk en behoort eersdaags te verskyn.

Besoek ons museums

“Hopelik sal die prys mense aanmoedig om ons eie én ander museums te besoek, veral noudat toerisme erg deur die Covid-pandemie geraak is,” sê sy.

Van Zÿl sê hy en Heunis het hiermee hul doktorsgrade voltooi, sy onder prof. Fransjohan Pretorius aan die Universiteit van Pretoria en hy syne onder dr. Marietjie Oelofse en prof. André Wessels aan die Universiteit van die Vrystaat.

“Ons het altyd mekaar met raad en daad bygestaan en moed ingepraat. Die verskillende perspektiewe van elk van ons oor die ander een se navorsing was een van die ‘geheime bestanddele’ op hierdie reis.”

Heunis sê haar kollega was ’n steunpilaar en het as klankbord gedien.

Van mismoedig tot opgewonde

“Ons het soms mismoedig en dan weer opgewonde geraak, maar altyd mekaar moed ingepraat. Ek wil prof. Pretorius bedank. Hy was ’n wonderlike mentor en sonder sy volgehoue ondersteuning en insette sou ek nie die studie kon deursien nie. Dit was van my groot emmerskoplys-mylpale om ’n nagraadse studie onder sy leiding te doen.”

Van Zÿl sê sy Bethulie-navorsing was ’n “reis” deur ’n dorp se verlede voor, tydens en ná die oorlog. Die gebruik van nuwe datastelsels het nuwe inligting en perspektiewe deur middel van grafieke en tabelle oor die konsentrasiekamp by Bethulie en die kampe in die Suid-Vrystaat verskaf. Ander aspekte wat uitstaan, is die eerste leerlinge van Oranje Meisieskool in Bloemfontein (die Van Vrede-dogters) en hul pa wat in die oorlog dood is.

Boere-krygsgevangenekuns

Heunis sê die lekkerste van haar navorsing was om die krygsgevange-kunsversamelings van verskeie museums en private versamelaars te besigtig, met elke voorwerp wat uniek en besonders is.

“Ek was ook bevoorreg om met beurse van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Erfenis-stigting se navorsingstrust die eilande St. Helena en Bermuda te besoek, waar van die krygsgevangenes aangehou is.”

Heunis sê sy wil graag die pragtige versameling Boere-krygsgevangenekuns van die Oorlogsmuseum uitlig en die moeite wat deur die personeel gedoen word om dit volgens nasionale én internasionale museumkundige standaarde te bewaar sodat toekomstige generasies dit kan besigtig en waardeer.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Vereer  |  Toekenning  |  Museum  |  Doktorsgrade  |  Oorfogmuseum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.