Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Tree vir tree deur Afrika vir vroue en kinders
’n Spikkel langs die grootpad. So sal mense Thato Molosankwe (40) die volgende tien jaar langs Afrika se paaie sien vir sy veldtog om mans te vra om nie vroue en kinders te mishandel en te verkrag nie. Foto: Mlungisi Louw

Thato Molosankwe (40), aktivis van Noordwes, gaan tien jaar van sy lewe vir ’n morele herlewingsveldtog opoffer. Hy beoog om duisende kilometer deur Afrika te stap ter verhoogde bewusmaking van geweld teen vroue en kinders.

Met ’n kopliggie, ’n plakkaat op die rug, slaapsak en ’n tentjie gaan hy die pad met sy stapkierie vat.

Sy plan is om uit te kom by mans in 49 Afrika-state, (die vyf eilandstate uitgesluit) waar hy gaan pleit dat hulle nie langer vroue en kinders moet mishandel en verkrag nie.

Vir dié poging om die gesprek oor die kwessie oor die kontinent heen aan die gang te kry, het hy reeds 43 pare stapskoene geborg gekry.

Die wapad is vir die volgende tien jaar sy woning. Thato Molosankwe (40) eet hier uit ’n rooi kosblikkie op die N8 tussen Bloemfontein en Lesotho. Foto: Mlungisi Louw

Netwerk24 het net buite Bloemfontein by hom aangesluit op sy staptog van Kaapstad tot in Kaïro in Egipte.

“Ek het reeds op Mandeladag op 18 Julie uit Kaapstad gestap en het meer as 1 000 km vir die saak agter die rug. Ek het in my tentjie langs die N1 of in polisiekantore geslaap. ’n Borg sorg dat ek genoeg geld vir kos het en naweke in gastehuise kan slaap.

“Ek het gedink oor hoe Mandela, Bram Fischer, Steve Biko en Ahmed Kathrada ook hul families moes verlaat vir ’n groter saak . . . en besluit om dit ook te doen.

“Ek wil graag help om goeie morele waardes te herstel.

“Ek wil vir mans vra om pa’s te probeer wees vir kinders wat aan die hoof van huishoudings moet staan, of waar daar nie ’n pa by ’n huisgesin is nie.”

Hy meen al die probleme oor ’n gebrek aan opleiding en onderwys en die gebrek aan dienslewering sal verdwyn as morele waardes herstel word.

“Ons as pa’s oor kleurgrense heen moet saamstaan. Ons moenie toelaat dat politici ons verder verdeel nie.

“Moenie selfsugtig wees nie. Moeder Teresa het gesê as jy nie kans sien om vir 100 mense te sorg nie, sorg dan vir een.’

“In Bloemfontein waar ek drie dae deurgebring het, is ek oorlaai met liefde en ondersteuning.

“Ek kon die hartlikheid nie glo nie.

“Mense het my in ’n gastehuis laat slaap en daarvoor betaal.

“Geestelike leiers het vir my kom bid,” het Molosankwe vertel terwyl hy op die N8 buite Bloemfontein op pad na Lesotho vis geëet het uit ’n rooi kosblik.

Thato Molosankwe (40) besig om uit sy kosblikkie op die N8 tussen Bloemfontein en Lesotho te eet, nadat hy reeds van Kaapstad na Bloemfontein geloop het vir sy veldtog om mans te vra om nie vroue en kinders te mishandel en te verkrag nie. Foto: Mlungisi Louw

Hy sê tot Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, en haar LUR vir gesondheid, Montsheng Tsiu, het vir hom R4 000 se behandeling teen siektes in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gratis gegee. Dit is om seker te maak dat hy nie dodelike siektes langs die pad opdoen nie.

“Ek is ook in die Universitas Akademiese hospitaal in Bloemfontein ondersoek.

“Dit was van God gewees . . .

“Ek was so bekommerd oor waar ek die geld hiervoor gaan kry, maar Hy het voorsien,” sê Molosankwe.

“Ek gaan beslis met my terugkeer die Bloemfonteiners heel eerste kom bedank,” vertel hy.

“Ek sal 50 jaar oud wees as ek dié projek voltooi het. Ek gee tien jaar van my lewe en my seuntjie, Moeteledipele (4), wat leier beteken, sal teen daardie tyd 14 jaar oud wees.”

“Ek het hom in my broer, Leveticus, se sorg in Mahikeng (voorheen Mafikeng) in Noordwes gelos. My dogtertjie, Tshireletso (12), wat veiligheid beteken, bly by haar ma in Kimberley.

“My kinders sal een keer per jaar na my gebring word sodat ons mekaar kan sien.”

* Molosankwe vertel dat hy in sy jonger lewe LLB aan die Noordwes-Universiteit gestudeer het, maar dat hy ná twee jaar sy studies laat vaar het.

Meer oor:  Thato Molosankwe  |  Afrika  |  Staptog  |  Kindergeweld  |  Vrouegeweld  |  Geweld  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.