Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
‘Trein bokspring,’ sê man (75) van ramp in '71

Voor die ramp het die trein verskriklik geruk en “soort van gebokspring”.

So sê Johan Kriel (75), ’n inwoner van Brackenfell in Kaapstad, wat oorleef het nadat ’n trein op 16 April 1971 naby Kimberley ontspoor het.

’n Berig oor die voorval het op 17 April 1971 in Die Burger verskyn onder die opskrif: “3 dood, 28 beseer in treinramp”.

Die berig wat op 17 April 1971 op 'Die Burger' se voorblad verskyn het. Foto: Verskaf

Daar is weer op 17 April vanjaar in 50 Jaar gelede, wat daagliks in Die Burger verskyn, na dié berig verwys.

Kriel, toe 25 jaar oud, het saam met Hendrik Cooper, ’n vriend, vanaf Johannesburg na Worcester gereis.

Die twee het omstreeks 22:00 in Johannesburg op die trein geklim.

“Die ongeluk het die volgende oggend so 07:00 se kant voor Content en Windsortonweg – twee klein plekkies voor Kimberley – gebeur.”

Kriel wou badkamer toe gaan. “Toe ek by die koepee se deur uitgaan, het ek dadelik teruggedraai, want die trein het vreeslik geruk en soort van gebokspring. Ek het terug in die bed gespring en vir Hendrik gesê: ‘Jong, hierdie trein is lus vir omslaan.’ Hy het geantwoord: ‘Moenie nonsens praat nie, man.’ ”

Die volgende oomblik het planke gekraak en geskeur, en daar was oral glasskerwe. “Daar was ’n geluid van staal wat skuur en sand en stof. Toe alles tot stilstand kom, het ek plat op die grond in so ’n klammerige slootjie gelê. Ek kon gelukkig uitkruip. Ek het dadelik na Hendrik geroep. Toe ek sy stem hoor, het ek teruggekruip en hom verstrengel tussen planke en treinkussings aangetref.”

Johan Kriel en sy vrou, Elize. Foto: Verskaf

Kriel was nie self beseer nie.

“Toe ons buite kom, het ons gesien hoe erg dit om ons lyk. Gelukkig was baie passasiers in die eetwa vir die eerste ontbytsessie. Die passasiers wat nog in hul beddens was, het met beddegoed buite gesaai gelê.”

Hy het ’n nare ondervind gehad toe hy uit die slootjie gekruip het en na Cooper gesoek het. Hy het ’n voet en ’n gedeelte van ’n been gesien uitsteek en gedink dat dit dalk Cooper is. “Dit was toe al die tyd die voet van die majoor wat langsaan was. Hy is in die ongeluk oorlede.”

Volgens Kriel is die oorlewendes met busse na Kimberley geneem om weer ’n trein te haal. Elkeen het ’n pakkie ontvang met toebroodjies, gekookte eiers, worsies en tamatie.

“Die rit daarna was nogal spanningsvol, want heeltyd het dit deur jou gedagtes gegaan dat dit baie erger kon gewees het en dat ons net die Here kon dank dat ons so lig daarvan afgekom het.”

Volgens Kriel praat hy die afgelope jare nie meer oor die ongeluk nie. “Dis jammer ou Hendrik is intussen oorlede, anders kon ek en hy darem heerlik die nagmerrie saam met ons kinders en kleinkinders herleef het.”

Meer oor:  Johan Kriel  |  Kaapstad  |  Brackenfell  |  1971  |  Treinramp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.