Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Trou tydens ’n pandemie

Covid-19 is ’n werklikheid en dis elkeen van ons se verantwoordelikheid om veilig te bly en ander veilig te hou, selfs wanneer ons feesvier. Juis daarom sal troues in 2021 ’n bietjie anders wees.

Covid-19 het ’n groot impak op die troubedryf gehad en om die knoop deur te hak in die tyd van ’n pandemie het talle uitdagings. Foto: Unsplash

Troues is deesdae meer intiem en luuks.

Die Bloemfonteinse bruilofsbeplanner en eienaar van die geleentheidsbeplanningmaatskappy Envie, Tony Peng, sê gastebeperkings was verlede jaar sy grootste uitdaging wanneer hy troues beplan het.

Baie 2020-troues is weens die pandemie na 2021 uitgestel of selfs gekanselleer.

Klein, intieme en luukse troues sal gewild wees in 2021, meen Peng, en voeg by dat paartjies meer op hul gaste se ervaring sal uitgee. Die sjef Marie-Louise Nel, wie se familie die trouvenue De Oude Kraal in Bloemfontein besit, sê hulle sien tans ’n duidelike tendens van bruidspare wat nou kleiner troues hou. Party paartjies wat hul troues uitgestel het, verander sommer die hele formaat van hul troue na ’n intieme ete met hul naaste familie en vriende.

2021-troues sal vir gaste meer spesiaal wees, met beter-gehalte-spyseniering en -vermaak. Bestemmings- en ervaringstroues is ideaal. Ganico Organic Farm buite Johannesburg bied byvoorbeeld vir troupaartjies en -gaste die geleentheid om op ’n kos-verwante snuffeltoer te gaan, wat onmoontlik sou wees met 100 gaste.

Tog is daar paartjies wat besluit om hul troues uit te stel tot wanneer hulle wel hul flambojante droomtroue kan hê.

Buffets is taboe

“Buffetetes is uit; die risiko vir besmetting is net te groot,” beklemtoon Colette du Plessis, mede-eienaar van die Johannesburgse spysenieringsmaatskappy Onside Events.

Lae-risiko-spyseniering soos boetiekstyl-pieknieks en table d’hôte- en a la carte-spyskaarte word aanbeveel.

Sy sê bruide sal ook eerder hul begroting sny op die dekor, en belê in gehalte-bestanddele en uitsonderlike kos.

“Die verbod op alkohol is ook ’n uitdaging, maar ek het al kliënte gevra vir ’n “mocktail”-spyskaart, of alkoholvrye bier wat saam met kanapees bedien word.

Die onlangse tendens waar groot borde kos op die tafel geplaas word en gaste vir hulself opskep, soos ’n gesellige familie-ete, is ook nou taboe.

“Elkeen kry sy eie bord, en geen happies en deel word toegelaat nie,” sê sy.

Trou nou, vier later fees

Om jou droomtroue weens ’n virus te moet uitstel – of selfs af te stel – is sekerlik een van die moeilikste besluite vir ’n bruid. Maar daar is ’n groot tendens om nou die wettige papierwerk af te handel, te trou en later fees te vier. Met die inperkingsreëls wat gereeld aangepas word en soms onmiddellik in werking tree, is die onsekerheid net te groot vir bruidspare.

“Ons moes alles gekanselleer,” vertel Anika*, wie se gesin nog nie eers weet sy en haar man is intussen getroud nie.

“Ons het by die departement van binnelandse sake getrou, maar ons families weet nog nie.

“Ons moes al ons planne vir 2021 verander, die venue, alles. Ons het nog niks weer gereël nie, want ’n mens weet nie wat in 2021 gaan gebeur nie.”

As die Covid-19-regulasies dit toelaat, is ’n uitgerekte bruilof wat oor twee of selfs drie dae strek, ook ’n opsie. Dit laat toe dat daar in kleiner groepe feesgevier kan word.

Colette sê ook baie van haar kliënte het hul byeenkoms uitgestel en is van plan om eers groot makietie te hou wanneer die virus weer onder beheer is.

“Hulle het intussen getrou en ons word gevra om spyseniering vir klein familie-etes – waar net naaste bloedfamilie en beste vriende genooi word – te doen.”

Dink digitaal

Tradisionele papieruitnodigings is taboe en digitale uitnodigings en webblaaie is hier om te bly. Nie net is dit sindelik en Covid-19-vriendelik nie, maar ook sagter op die omgewing.

Dit is ook die ideale platform om alle nodige bruilofs- en inperkingsinligting by te werk, sou jou reëlings op kort kennisgewing verander. Net so is digitale geskenkregisters ’n veilige en gerieflike oplossing vir trougeskenke.

As daar een vaardigheid is wat die inperking ons gedwing het om baas te raak, is dit ons vermoë om virtueel te kommunikeer. Virtuele venuetoere, aflewerings van troukoek-proehappies en trourokke wat tuis gepas kan word, is maar van die veranderinge wat in 2021 te wagte kan wees.

Dis ook te danke aan tegnologie dat hoërisiko-gaste met onderliggende siektetoestande die bruilof virtueel vanaf hul rusbanke kan bywoon, met regstreekse uitsendings en digitale fotohoekies om hulle steeds by die groot dag in te sluit.

Begrotingsaanpassings

Die inperking het ongetwyfeld ’n negatiewe uitwerking op die ekonomie en baie mense se beursies. Dit is dus onvermydelik dat troubegrotings ook aangepas moet word. Peng vertel dat paartjies beslis hul gordels stywer vasmaak wanneer dit by die troue se onkoste kom. Hulle is ook baie meer kieskeurig oor waar hulle miskien meer wil uitgee, en waar hulle gaan bespaar.

Renate Engelbrecht

Bruidspare sal nou eerder minder op dekor en blomme begroot, en die geld word eerder vir ’n welverdiende wittebrood of ’n deposito op ’n huis gebruik.

Peng sê: “Wanneer dit by dekor kom, is dit nie nodig vir uitspattige blommerangskikkings en belaglike beligtingsfoefies nie. Hou dit skoon, eenvoudig en indrukwekkend met enkelsteel-blomme in mooi blompotte en kerse vir atmosfeer.”

Weens die aandklokreël verkies baie paartjies nou om op ’n weeksdag te trou, omdat die bruilof in elk geval ’n oggend- of middagtroue moet wees. Dit help met die begroting, omdat dit goedkoper is om op ’n weeksdag te trou en die bruilof van korte duur is.

Bruilofsbeplanners soos Peng moes ook aanpassings maak om paartjies te help spaar. Sy maatskappy het ’n splinternuwe afdeling geskep waar hulle slegs konsulteer op troues, in pleks van om dit te koördineer.

* Skuilnaam

Hou ook dít ingedagte

Met die inperkingsregulasies tans is daar soveel faktore om in ag te neem wanneer jy jou troue beplan:

  • Is jou kontrak met die venue en jou verskaffers buigbaar, en sal hulle jou tegemoetkom as daar op kort kennisgewing nuwe regulasies intree? Reëlings sal meer buigbaar moet wees om by inperkingsveranderings aan te pas.
  • Kies ’n buitelug-venue of een met heelwat vars lug en goeie ventilasie.
  • Die administrasie en logistieke uitdagings van troues, soos ontsmettings- en temperatuurstasies, asook rekordstelsels van wie almal die troue bygewoon het, sal beslis meer uitdagend wees as voorheen.
  • Tafelplasings word nog meer uitdagend. Nie net moet jy familievetes en -geite in ag neem nie, maar ook almal se gesondheidsprobleme.
  • Die keuse van ’n seremoniemeester moet deeglik oorweeg word. Jy moet iemand verantwoordelik kies. Hulle sal die gaste gereeld moet herinner aan die dra van maskers (wat nou verpligtend is), ’n gesonde afstand en ontsmettingstasies en gaan dus nie altyd gewild wees nie.
  • Vir baie Suid-Afrikaanse paartjies is ’n troue nie ’n troue as daar nie gedans word nie, maar daar is talle alternatiewe ervarings om gaste mee te vermaak. Satellietdansvloere – verskillende vloere op verskeie plekke wat minder mense op een vloer toelaat – is ’n tendens wat onlangs die lig gesien het.
  • Die vloei en stiptelikheid van die program is baie belangrik; soveel te meer met al die inperkingsregulasies. Die bruid kan nie meer laat wees nie, julle kan nie vir ewig vat om foto’s te neem nie, en hou die toesprake ook maar kort.


Meer oor:  Onthaal  |  Troues  |  Covid-19  |  Inperkingsregulasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.