Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Tuks se rektor glo in ’n aktiewe lewenstyl

Sport en ’n aktiewe leefstyl is twee dinge waaroor prof. Tawana Kupe, visekanselier en rektor van die Universiteit van Pretoria, baie sterk voel.

Een van sy vele visies is dat Tuks die toon moet aangee in sport oor Afrika heen, maar dan maak hy dit baie duidelik dat dit vir hom nooit oor net wen en trofeë sal gaan nie. Iets wat hom opreg kwel, is dat jong mense neig om deesdae al hoe meer passief te raak.

Sport is vir hom ook ’n manier om mense oor rasgrense heen te verenig en mekaar te respekteer. Verder glo hy dat sport in vandag se gespanne en gejaagde lewe ontspanning bied.

Tawana Kupe, visekanselier en rektor van die Universiteit van Pretoria, verlede naweek by die Bestmed Tuks-wedloop.Foto: REG CALDECOTT

“Raak aktief. Dit gaan jul lewe verander,” is ’n boodskap wat Kupe wil hê die studente ter harte moet neem.

Kupe praat nie net nie. Hy lei deur sy voorbeeld.

Verlede Saterdag het hy aan die Bestmed Tuks-5 km-wedloop deelgeneem. Hy sou graag aan een van die langer wedlope wou deelneem, sê hy, maar die baie ure op kantoor het gemaak dat hy sy oefenprogram die laaste paar weke effens moes inkort.

“Daar is vir my niks lekkerder as langafstandstap nie. Dit is net jy, die pad en jou gedagtes. Baie keer terwyl ek stap, kry ek oplossings vir moeilike probleme. Ná so ’n stappie is ek ook heeltemal ontspanne en reg vir enige nuwe uitdagings. Dit is hoekom ek wil hê studente moet aktief raak.

“Dit gebeur te gereeld dat jong mense heeldag na rekenaarskerms of na hul fone se skerms staar. Dan moet hulle nog sit en studeer. Ek glo nie dit is gesond nie. Ek glo in die beginsel dat ’n gesonde liggaam tot ’n gesonde gees lei.”

Kupe twyfel nie dat Tuks die vermoë het om ’n ware krag in studentesport oor Afrika heen te kan word nie.

“Tuks se vertonings die laaste paar jaar in verskeie sportsoorte spreek vanself. Ek skryf die sukses toe aan die feit dat die universiteit hom as ’n leier in hoëprestasie-sport gevestig het. Daar is ’n ewigdurende strewe om dit wat vandag gewerk het môre nog beter te doen.”

Kupe beskou TuksSport High School as ’n integrale deel van jong atlete se ontwikkeling.

“Leerlinge is al van 13-jarige ouderdom ingeskakel by wetenskaplike sportprogramme, wat beteken hulle het ’n besliste voordeel as dit by die 10 000 uur-beginsel na sukses kom. Een van die belangrikste dinge wat elke jaar by dié skool benadruk word, is dat enige sportloopbaan nie vir ewig duur nie. Daarom is studies altyd ewe, indien nie meer belangrik nie, as ure op die sportveld.”

Kupe is ook ’n groot tennisondersteuner. Twee van sy gunstelingspelers is die Williams-susters, Venus en Serena.

“Die susters het as kinders swaar grootgeword, maar nooit toegelaat dat dit hulle onderkry nie. Hulle is vir my die verpersoonliking dat enigiets moontlik is as jy bereid is om hard te oefen en in jou eie vermoëns glo.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.