Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Twee onthou stywe rit om rugbyhelde te sien
Hoffie Albertyn

Twee rugbyliefhebbers moes weens die inperking apart ’n glasie klink op die 50ste herdenking van ’n rugbywedstryd tussen die All Blacks en die destydse Suidwes-Afrika wat hulle bygewoon het nadat hulle ’n epiese fietstog van Kaapstad na Windhoek aangepak het.

Die wedstryd is op 4 Julie 1970 gespeel. ’n Berig van die twee het ook destyds in DieBurger verskyn.

Hoffie Albertyn (66) van Somerset-Wes en Hugo van der Merwe (66) van Groot-Brakrivier was albei 16 in st. 9 aan die Hoërskool DF Malan in Belville toe hulle destyds die fietstog aangepak het.

Volgens Albertyn moes die foto in Die Burger vroeërig in Junie 1970 geneem gewees het.

“Wat ons albei onthou is die moedeloosheid van Namibië se vlaktes wat drie dae lank voor jou uitstrek en dat ons agterstewe ontsettend seer was,” vertel hy.

“Jy moet onthou dit was ou leersaels op die fiets met geen jota sagtheid in hulle nie. En die koue! Ons was saans te moeg om die tentjie op te slaan en het maar net daar langs die pad gou iets gemaak om te eet en dan sommer onder die tentseil in ons slaapsakke ingekruip. Ons het ook ’n paar keer sopnat gereën en het een aand, tussen Van Rhynsdorp en Springbok, in die donker gaan lê in ’n droë rivierbedding, net om die volgende oggend in die middel van ’n stroom wakker te word nadat die reën uitgesak het in die nag.”

Pap wiele het hulle langs die pad reggemaak. Volgens hom was ’n groot voordeel van koerantberig dat talle mense na Namibië gereis het vir die vakansie. “In Suid-Afrika het mense amper daagliks by ons gestop en kos en bemoediging aangebied. Dikwels as ons saans in dorpe ingery het, het mense ons ook dadelik herken en slaapplek aangebied.”

In Namibië was dit meer onherbergsaam en dorpe ver uitmekaar, sê hy. Een keer het hulle hul misreken met afstand tussen twee dorpe en moes omtrent 18 uur sonder kos en water oorleef, en ry. “Uiteraard was dit daardie tyd heelwat veiliger om so iets te doen as nou, veral omdat daar baie minder verkeer op die pad was.”

Albertyn vertel die fiets was die handewerk van ’n klasmaat, Danie Gerryts, wat twee ou fietse deurgesaag en aanmekaar gesweis het. Daar was nie ratte nie.

Volgens hom het hulle dit net-net gemaak het vir die groot wedstryd. Hulle was Vrydag, 3 Julie in Windhoek, doodmoeg en gehawend, maar betyds.”

Die twee het ’n geleentheid teruggekry na Kaapstad saam met nog ’n klasmaat se suster en swaer.

Hugo van der Merwe
Die berig oor die fietstog wat in Junie 1970 in ‘Die Burger’ verskyn het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.