Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Uitstalling ’n platform om in nuwe talent te belê
Die Louis-gebou in die middestad van Bloemfontein waar die One Day Worth Millions-uitstalling Saterdag gehou gaan word.Foto: Julian Mentz

Belê in die toekoms van ’n talentvolle plaaslike kunstenaar van Bloemfontein en omgewing en kyk hoe jou belegging groei.

Dít is die idee agter ’n inisiatief van Julian Mentz, stigter van die Big Massive-ateljee, en sy bestuurspan met die One Day Worth Millions-uitstalling Saterdag, wat deel is van ’n groter beweging om die middestad te hernuwe.

Volgens Mentz, ook ’n kunstenaar wat argitektuur aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer het, het baie kunstenaars in Bloemfontein ’n hupstoot nodig.

“Ons weet watter talent ons het. As hulle die platform of verhoog kry wat hulle nodig het, kan hulle beroepskunstenaars word. Ons wil hulle aan kunskopers in die stad blootstel.”

Sowat 14 onbekende plaaslike kunstenaars se werk sal van 08:00 tot 17:00 in die Big Massive-galery in die Louis-gebou in O.R Tambo-weg 80 (ou Kerkstraat) tydens ’n “kunsmark” verkoop word.

Kosstalletjies sal verversings verskaf en die kletsrymer Dex the Rapper sal ’n uitvoerendekuns-installasie doen.

Kunswerke sal teen redelike pryse, tussen R300 en R500, verkoop word om jong kopers se sak te pas. Die groter doel is om die kunsmark in Bloemfontein te laat groei. “Die meerderheid van die geld gaan regstreeks aan die kunstenaars. Ons moedig almal aan om die plaaslike talent te ondersteun,” sê Mentz.

Kaarttransaksies en kontantlose betaalopsies sal beskikbaar wees.

Die mark is nie net gerig op ernstige kunskopers nie. Mentz moedig alle kunsliefhebbers, lede van die kreatiewe gemeenskap of enigiemand op soek na iets nuuts om Bloemfontein te besoek en die kunsmark by te woon.

Veilige parkering is gereël en sal duidelik gemerk wees.

Die uitsig van die dak van die Louis-gebou, waar die One Day Worth Millions-kunsmark Saterdag sal plaasvind.Foto: Julian Mentz

One Day Worth Millions vorm ook deel van ’n groter projek om Bloemfontein se middestad, nes in groter stede soos Johannesburg of Kaapstad, nuwe lewe te gee.

Volgens Mentz wil hulle met iets soos die Big Massive-ateljee die stad se onontginde infrastruktuur weer in winsgewende sakeondernemings help omskep én die middestad-ekonomie ’n hupstoot gee.

“Dié deel van die stad het infrastruktuur wat wag om herontwikkel te word. Ons beoog om dit te gebruik om kreatiewe mense en entrepreneurs van die stad te bevoordeel.”

Die vierde vloer van die Louis-gebou is omskep in ’n ateljee waar Mentz en ander kunstenaars werk. Gesellighede word ook hier gehou.

Slypskole vir openbare kuns tydens die Vrystaat Kunstefees, partytjies en ’n lesingweek deur die internasionale kunstenaar Mary Sibande is reeds hier gehou.

Die eerste vloer is in ’n galery en uitstalruimte omskep, waar die One Day Worth Millions-kunsmark gehou sal word.

*Vir meer inligting, besoek Big Massive op Facebook (BIG Massive) en Instagram (bgmssv), of bel Mentz by 076 755 6235.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Kunsuitstalling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.