Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Vadersdag: Ook ’n rots kan hulp nodig kry

Die druk op pa’s neem ál meer toe. Daarom is dit belangrik om proaktief na hul geestesgesondheid om te sien.
Op Vadersdag is dit belangrik om te onthou dat ’n pa nie net ’n vader is wat na sy kinders omsien nie, maar ook iemand na wie  se eie geestesgesondheid omgesien moet word, skryf Maryke Roberts.

Nageboortedepressie is ’n algemene diagnose by ma’s met pasgebore babas, maar dis minder bekend dat tot een uit elke tien pa’s ook met hierdie simptome worstel.

Die grootste verskil is dat ma’s se nageboortedepressie dikwels vinniger gediagnoseer word omdat hulle in gereelde kontak is met ander ma’s, dokters, ginekoloë of kliniekpersoneel wat die tekens kan oplet. Jong pa’s is boonop minder geneig om oor hul probleme te praat.

Indien ’n ma aan nageboortedepressie ly, styg ’n pa se kans tot 50% dat dit ook by hom gediagnoseer word, wys ’n studie wat verlede jaar deur die Universiteit van Nevada in Las Vegas, Amerika, gedoen en in die Journal of Family Issues gepubliseer is.

Dis ook nie nét jong pa’s wat aan depressie ly nie. Pa’s in die algemeen is toenemend onder soveel druk dat dit nie net tot depressie nie, maar ook ander geestesversteurings kan lei.

Dis ook nie nét jong pa’s wat aan depressie ly nie. Pa’s in die algemeen is toenemend onder soveel druk dat dit nie net tot depressie nie, maar ook ander geestesversteurings kan lei.

Hulle is nog in sommige gevalle die broodwinner, wat eiehandig vir ’n hele gesin se inkomste verantwoordelik is. Bring nou faktore soos afdanking, herskikking met ’n verminderde inkomste, egskeiding of dood in die prentjie en die druk kan onhoubaar word.

Nou, tydens die Covid-91-pandemie, werk baie pa’s boonop van die huis, waar kinders, honde en ma almal dieselfde ruimte deel.

Die fotograaf Dewald Kirsten, pa van drie dogters jonger as sewe waarvan die jongste net enkele maande oud is, is een van hulle. Hy sê dis moeilik om die balans te hou tussen liefde en aandag gee; dissipline toepas; werkspertye haal en nog na sy eie geestesgesondheid omsien.

“Alles wat mens doen is om die beste vir jou kinders te bied en daarmee saam is daar ook die verantwoordelikheid dat hulle moet kos kry, gebad word ensomeer en ek kan nie dat my vrou dit alles alleen doen nie.

Wanneer my vriende ná werk ’n bier drink of gaan oefen, kan ek nie, want ek moet daar wees vir my gesin. My vrou is al deur twee rugoperasies en dis fisiek onmoontlik vir haar om op haar eie na al drie om te sien.

“Wanneer my vriende ná werk ’n bier drink of gaan oefen, kan ek nie, want ek moet daar wees vir my gesin. My vrou is al deur twee rugoperasies en dis fisiek onmoontlik vir haar om op haar eie na al drie om te sien. Dis die tipe goed wat my as pa en eggenoot depressief maak.”

Hy erken hy praat nie eintlik met iemand daaroor nie en wanneer hy dit met sy vrou bespreek, skep dit dikwels wrywing.

Tog fokus die oorgrote meerderheid navorsers nie op pa’s nie. Dit is onder meer uitgelig in die verslag “State of South Africa’s Fathers”, wat in 2018 die eerste maal verskyn het. Dis deur Sonke Gender Justice en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) saamgestel. Daarin word die belang daarvan benadruk om aan pa’s nie net as broodwinners nie, maar ook as versorgers te dink.

Stigma

leila
Leila Falletisch

Baie mans huiwer om oor hul probleme te praat, sê Leila Falletisch, ’n maatskaplike werker van Somerset-Wes wat in ouerberading en spelterapie spesialiseer.

Sy werk meestal met pa’s as ’n uitvloeisel van haar werk met kinders. Pa’s kontak haar nie direk vir hulp nie, maar omdat sy met hul kinders werk, kry sy ’n goeie aanduiding van die stres wat hulle ervaar, vertel sy.

“Depressie en angs is gewoonlik die moderne ‘aan-skakelaars’ vir geestesgesondheidsprobleme,” sê dr. Sean Baumann, voorheen ’n senior dosent in die departement psigiatrie en geestesgesondheid aan die Universiteit van Kaapstad.

In sy boek Madness: Stories of Uncertainty and Hope skryf hy breedvoerig daaroor. Hy sê onder meer sy boek is ’n poging om die skadelike manier te verander van hoe ons aan geestesgesondheid dink. “Dit bring ook hulde aan diegene wat elke dag in ons gedeelde wêreld met hierdie misterieuse, gewysigde geestestoestand saamleef.”

Hy het langer as ’n kwarteeu as kliniese psigiater in die mansafdeling van die Valkenberg-hospitaal in Kaapstad gewerk.

Sean sê vaderskap kan stresvol wees, veral vir kwesbare mans soos dié wat in hul kinderdae swaargekry het.

In ons land leef baie pa’s met die letsels van die verlede saam, beaam Leila.

“Dis bewys dat emosionele wonde wat onbehandel bly, tot geestesiektes en lewenslange wonde sal lei,” sê sy. “Pa’s na wie daar nie met empatie en barmhartigheid geluister is toe hulle kinders was nie, sal sukkel om op hul beurt met empatie na hul eie kinders te luister.”

“(Vaderskap is) ’n tyd van ingrypende veranderinge en dit is op sigself stresvol en heel dikwels word hierdie take of aanpassings nie erken nie,” voeg Sean by.

Weens die huidige pandemie is baie pa’s boonop onder bykomende geldstres, wat nie net hul familie se oorlewing raak nie, maar ook hul selfrespek en eiewaarde, sê Leila.

Dr. Sean Baumann

Sy sê die instandhouding van geestesgesondheid is so noodsaaklik soos die gereelde versiening van ’n voertuig. “ ’n Voertuig lewer beter werkverrigting as dit gereeld versien word, eerder as om te wag totdat dit langs die pad met jou gaan staan.

“Dit is natuurlik die ideaal en, in Suid-Afrika veral, baie moeilik haalbaar. Eerstens praat mans baie moeiliker oor hul gevoelens en probeer dinge eerder alleen uitpluis.” Dis veral ’n groot uitdaging om die hedendaagse werk-huis-self-balans te vervolmaak, sê Leila.

’n Groot persentasie van die bevolking lewe onder die bestaansminimum en baie pa’s werk baie lang ure onder geweldige stres. Vir hulle is stokperdjies – noodsaaklik vir ontspanning en die verbreding van horisonne – ’n luukse.

“Dan praat ons nie eens van die finansiële koste van sport en stokperdjies nie.

“Pa’s wat Maandag tot Vrydag werk, wil graag naweke saam met hul gesin deurbring en vind dit dikwels moeilik om eie tyd in te ruim. Gewoonlik hou hulle aan met die hamsterwieletjie, totdat ’n krisis opduik. En as die krisis opduik, is die fokus gewoonlik op ’n kitsoplossing.”

Kry hulp

Leila sê die ideaal is om by professionele kundiges om hulp aan te klop.

“Dis nie iets wat geïgnoreer kan word nie, want dis ’n gekompliseerde en gespesialiseerde veld.”

Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angs- steungroep (Sadag), Families Suid-Afrika (Famsa) en Lifeline bied krisistelefoonhulplyne en eersgenoemde het verskeie steungroepe oor die land heen.

Die meeste kerke en geloofsgroepe bied terapie- en steundienste en alle algemene hospitale het psigiatriese afdelings.

Dis belangrik om die gesprek te begin. Doen dit deur ’n steungroep by te woon of praat met jou huisdokter of sielkundige.

Dis belangrik om die gesprek te begin. Doen dit deur ’n steungroep by te woon of praat met jou huisdokter of sielkundige.

“Dis baie belangrik . . . om te keer dat dinge heeltemal buite beheer raak,” sê Sean.

“Vertrou vriende of familie op wie jy kan staatmaak. Dit kan moeilik wees omdat vele pa’s dit as aanduiding van swakheid of mislukking sien. Maar praat daaroor; deel jou vrese.

“Dis op geen vlak ’n teken van swakheid nie; eerder van moed en oplossing.

“In depressie is die neiging om na binne te keer en net deur met iemand te praat, kan reeds baie help.”

Behandeling deur professionele kenners gaan hand aan hand met gesonde eetgewoontes, genoeg slaap, oefening en ’n goeie steunstelsel, maan Leila Falletisch, ’n maatskaplike werker van Somerset-Wes.

  • Verbreed jou horisonne om breër te kyk as net jou verantwoordelikhede tuis en by die werk;
  • Gereelde kontak met iemand wat jy kan vertrou en met kennis in geestesgesondheid is belangrik;
  • Gebruik alkohol verantwoordelik en hou jou inname matig;
  • Gee aandag aan jou gedagtes en soek hulp as jy in ’n gat beland; en
  • Vermy eerder selfdiagnose en -medikasie.
Meer oor:  Vadersdag  |  Geestesgesondheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.