Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Van Coke ‘het nog nooit so hard geoefen’ vir stryd in kryt
Die Afrikaanse rocker Francois van Coke tydens een van sy oefensessies in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Francois van Coke, die Afrikaanse rocker van Bellville, Kaapstad, en hoofsanger van die musiekgroep Fokofpolisiekar, sê hy het nog nooit so hard geoefen soos nou nie. En dít is om hom voor te berei om die oud-Bok Derick Hougaard in die bokskryt te takel.

Van Coke (40) sê hy kry lesse by Tian Fick, swaargewigbokskampioen van Suid-Afrika, om hom te help om Hougaard (38), wat veel langer as hy is, te pak.

Die twee het mekaar vroeër vanjaar op Twitter uitgedaag vir ’n boksgeveg, en dit vind op 29 Mei by die Sun Arena by die Time Square Casino in Pretoria plaas.

“Tian gaan in my hoek wees, asook my afrigter by Madfit in Roelandstraat, Kaapstad,” sê Van Coke.

“Die oefeninge gaan goed, maar ek is nie sonder pyne nie. Ek is al 40,” sê hy en lag.

Van Coke het voorheen erken dat hy byna 14 jaar nie eintlik geoefen het nie.

“Maar ek is mal oor boks. Dit is amazing oefening en ek dink ek gaan daarmee aanhou, selfs ná die boksgeveg teen Derick.”

Hy sê hy geniet dit om meer te leer van die bokswêreld en om hulp en leiding te kry by Fick, wat ook by Madfit oefen.

“Ek het geen idee hoe dit met Derick gaan nie. Ek weet nie of hy met alle mag en geweld in die kryt gaan klim nie, maar ek is beslis in die beste toestand as wat ek kan wees, veral ten opsigte van fiksheid.”

Hy sê hy en sy vrou, Lauren, en ’n paar vriende van Fokofpolisiekar en Die Gevaar gaan saam Pretoria toe vir die boksgeveg. Hy gaan op 28 Mei reeds om geweeg te word voor die geveg.

“Die Blou Bulle het onlangs gewen, so ek dink dis tyd dat ons ’n bietjie wraak neem,” sê Francois.

Francois van Coke swaai in die rigting van Carl Ronander tydens ’n oefensessie in die kryt. Foto: Jaco Marais

Die TV-aanbieder en Protea-netbalspeler Vanes-Mari du Toit, wat een van die aanbieders gaan wees, sê sy kan nie ’n gunsteling hê nie.

“Ek is ’n Blou Bul-ondersteuner, maar ek kom ook van die Kaap en is mal oor Francois se musiek, so dis regtig 50/50 vir my,” sê sy.

“Ek sien vreeslik daarna uit om te sien hoe hulle hul voorbereiding gaan gebruik, want ek weet hoe hulle albei werk. Al twee sit elke dag soveel ure in en oefen verskriklik hard.

“Ek sien daarna uit om te sien hoe hulle verbeter het as boksers. Die geleentheid gaan ook lekker wees, met musikante soos Tasché en Jack Parow wat gaan optree. Ek kan nie wag nie.”

Hougaard kon nie betyds bereik word vir kommentaar nie.

BBP-kaartjies om na die boksgeveg te kyk, kos R2 000 per persoon. Dit sluit ’n verwelkoming op die rooi tapyt in, vonkelwyn, ’n driegangmaaltyd en ’n program wat onderteken is deur albei boksers.

Die oud-Springbok Derick Hougaard bult sy spiere. Foto: Facebook

Kaartjies om buite te sit en op ’n grootskerm na die geveg te kyk, beloop R250. Dit sluit in toegang tot ’n vermaak-area, kosstalletjies en ’n biertuin.

Alternatiewelik kan mense R150 betaal vir ’n kaartjie om die geveg regstreeks op die internet te kyk. Dit sal ook by sekere Nu Metro-fliekteaters landwyd gewys word.

Kaartjies is beskikbaar by www.itickets.co.za.

Meer oor:  Francois Van Coke  |  Bokskryt  |  Derick Hougaard
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.