Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Van karwag tot veiligheidshoof van spoghotel in 16 jaar!
Deonatius Abrahams het in 2003 begin werk as ’n karwag en is nou die veiligheidsbestuurder by Sun International se Table Bay Hotel in die V&A Waterfront in Kaapstad.

Hy was 19 jaar oud toe hy “in die hartjie van die winter” as ’n karwag in die Port-Elizabethse hawe begin werk het.

Vandag kyk Deonatius Abrahams (35) terug op ’n loopbaan van 16 jaar waarin hy die hoogste kruin bereik het.

Abrahams is onlangs as die veiligheidshoof van Sun International se Table Bay Hotel in die V&A Waterfront in Kaapstad aangestel.

“Toe ek grootgeword het, het my pa altyd vir my gesê dat ek baie oplettend is en dit moet gebruik,” het Abrahams aan Netwerk24 gesê.

Hy het toe in 2003 hierdie talent as karwag ingespan.

“Ek het geweet daar is eintlik groter dinge in die sekerheidsbedryf en daarom het ek maar deurgedruk.”

Nuwe geleenthede het gevolg en Abrahams het vinnig opgang gemaak.

“Ek het die geleentheid gekry om daai tyd se uitvoerende burgemeester van Plettenbergbaai, mnr. Lulama Mvimbi, en sy adjunkburgemeester te beskerm. Ek het ’n maand gewerk en is toe tot bedryfsbeheerder van ’n span van tien veiligheidsbeamptes bevorder.”

Net ’n maand en toe bevordering? Abrahams antwoord dat dit alles afhang van jou eie ingesteldheid. “Jy moet ook bereid wees om meer te doen as wat van jou verwag word.

In enige werk wat ’n mens doen, is daar plek vir groei. Jy moet ’n positiewe ingesteldheid hê en altyd professioneel wees. Al hou jy nie soms van wat jy doen nie, doen dit altyd met passie. Só groei jy.

“In enige werk wat ’n mens doen, is daar plek vir groei. Jy moet ’n positiewe ingesteldheid hê en altyd professioneel wees. Al hou jy nie soms van wat jy doen nie, doen dit altyd met passie. Só groei jy.”

In 2008 is hy aangestel as gebiedsbestuurder vir ’n private sekerheidsmaatskappy in Port Elizabeth met 100 veiligheidsbeamptes wat aan hom verslag doen.

Daarna het hy by die Radisson Blu Hotel in Port Elizabeth begin werk. Hy is ná ’n jaar tot veiligheidsbestuurder van die hotel bevorder.

Twee van sy loopbaanhoogtepunte was ’n besoek aan Mumbai in Indië in 2016, waar hy as ’n gesondheids-en- veiligheidskonsultant by die Bollywood Star Screen Awards gewerk het en toe hy ’n hotelveiligheidseminaar in Abu Dhabi bygewoon het.

En toe kom die groot aanbod van die Table Bay Hotel: Veiligheidshoof en sy gesin moet saam met hom na Kaapstad verhuis. Abrahams is 11 jaar gelede met sy vrou, Christy-Anne, getroud, en die egpaar het twee seuntjies.

Sy kinders is veral baie opgewonde oor die nuwe omgewing, sê hy.

Abrahams sê hy geniet sy werk baie omdat hy daagliks met verskeie voorvalle te doen kry wat vir hom baie wysheid leer.

Dit was nie altyd maanskyn en rose nie, in 2007 het ’n ongeluk hom byna sy loopbaan gekos. “Ek het daaraan gedink om op te gee, maar met die hulp van God en my passie om te groei en meer te leer, het ek daarin geslaag om daardeur te kom.

“Ek sou nooit gewees het waar ek nou is as dit nie vir my vrou, eerstens, en dan vir my kinders was nie. My vrou het my beïnvloed om positief te wees. Sy het eintlik besef wat my passie is.”

Meer oor:  Sun International  |  Karwag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.