Die mini het in Rapport se beginjare die Suid-Afrikaanse modes oorheers, en nou in 2020 is dit weer gewild, skryf Alet Wichmann.

Die wêreld se eerste supermodel, Twiggy, oftewel Lesley Hornby, het ’n groot rol daarin gespeel om die mini ikonies te maak. Hier’s sy in ’n baby-doll-minirok vir Vogue in 1970. Foto: Getty Images
Hoe die mini die maxi geword het
Die mini het sy oorsprong in 1964 toe spesifiek die Britse modeontwerper Mary Quant en Franse ontwerper André Courrèges dit onderskryf het, vertel die Suid-Afrikaanse modeontwerper Simon Rademan. “Hulle het egter albei erken dit was eintlik die tye en mense op straat wat daarvoor gevra het. Dit was ’n rebelse tyd. Die 1950’s was te styf, die 1960’s was die rebellie-era en in die 1970’s het hulle dit mooi gemaak.”
Die wêreld se eerste supermodel, Twiggy, is in 1966 ontdek en sy het die mini getransformeer tot die midi, wat effens langer was, en dit uiteindelik geneem na die maxi, ’n lang rok, en klokbroeke (bell bottoms). Dit was hierdie vier neigings wat die 1970’s hier in Suid-Afrika ingelui het, vertel Rademan.
Eintlik is deursigtige materiaal eers bo-oor die mini gedrapeer, wat toe gelei het tot volwaardige lang maxi-rokke, verduidelik hy.
Deur die jare het die mini gekom en gegaan en gereeld deur die loop van die 1970’s skryf Rapport oor kort rokkies en rompies. Hoe dit transformeer tot klokrokkies, hoe vroue “baljaar op manskontrei” deur hul mini’s te kombineer met kraaghemde en dasse, en in 1976 hoe dit afgerond word met sokkies uit die “retro-styl”.
In 1981, toe Quant self haar nuutste reeks in Johannesburg kom bekend stel, het sy weer gesê die mini is terug. Dié keer egter nie so oorheersend as in die 1970’s nie, maar net “as ’n onderdeel van die versameling”.
Ook die maxi het verskeie vorme aangeneem. In 1972 is dit van dun verwerkte katoen en voile bedruk met blomme en hoekige vorms saam met pofmoue. Laat in die 1970’s is dit weer lospassende, vormlose rokke.

In die lente van 1972 dra vroue klok-mini’s met oulike broekies daaronder.

Soos nou kon die mini in 1977 byna enige vorm aanneem.
Die mini (en maxi) in 2020
’n Skets deur Simon Rademan illustreer hoe die mini verskillende vorme kan aanneem en uiteindelik ook lei tot die maxi.
Jy kan ’n mini in byna enige vorm, stof en kleur op vanjaar se loopplanke, verhoë, sosiale media en strate vind. Daar is styfpassende rekstof-rokkies wat aan die lyf klou, spelerige klokrompies, kraaghemde wat lank genoeg is om as rokkies te dra, vleiende A-lyn-rompies, blinkers, veral op die verhoog . . .
Denim is hoogmode en nes in die vroeë 1970’s pla dit glad nie as dit effens geskeur is nie.
Vir diegene wat nou nie werklik die bene (of knieë) vir ’n kort rokkie het nie, is die goeie nuus dat jy net so in die kol is as jy jou mini bo-oor ’n broek dra.
Waarheen is ons modes op pad?
Waar mense in die “Covid-19-era” diep in hul kaste krap en ou uitrustings herwin, gaan die “post-Covid-19”-era oordadiger wees, voorspel Rademan.
“Wêreldkrisisse uit die verlede, die Groot Griep, wêreldoorloë, die begindae van MIV/vigs, ensovoorts, het gewys dis die voorganger van vernuwing en feesviering (aan die modefront). Klere gaan weer luuks word en die wat dit kan bekostig, gaan wegspring daarmee soos nog nooit tevore nie. Hierdie keer is daar platforms wat alle modes onmiddellik aan almal beskikbaar stel en ons sal weer vrylik kan kies en keur,” meen hy.
Rademan sê verder dat modesiklusse ook gaan versnel en blitsig gaan omwentel. “Ons sal baie slimmer as voorheen moet wees met ons aankope van basiese items vir ons klerekaste.”

Maxi-rokke was ook groot modenuus in die 1970’s.

Dié wat nie wil knieë wys nie, kan gerus ’n mini oor ’n langbroek aantrek, soos hierdie model by die Milanese modeweek.

’n Model dra ’n Chanel-maxirok op die pasafgelope Paryse modeweek. Deursigtige materiaal oor ’n korter mini is ook weer in.

Denim-mini’s is hoogmode. Hier dra die aktrise Lucy Hale dit onlangs in Los Angeles, Kalifornië.

Kourtney Kardashian wys hoe ’n lang baadjie of hemp kan gedra word as ’n mini. Foto: Getty Images

Paris Hilton word byna net in kort rokkies gesien. Hier is sy verlede naweek by die Amerikaanse Musiekpryse.