Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Van sandland na ysland

Sy eerste indruk van Antarktika was hoe helder die lug is. “Dit was so helder, ’n mens kon amper nie sien nie.”

Só vertel Cobus Burger (18), wat onlangs van sy avontuurtog in Antarktika teruggekeer het. Dié oudleerling van die Hoërskool Duineveld in Upington was een van vier 2020-matrikulante wat deur die avonturier Riaan Manser gekies is om dié land van ys te besoek.

Hoewel Cobus nie ’n keiserpikkewyn – wat hy “met sy hele hart gewens het” om te sien – gewaar het nie, was dit vir hom ’n onvergeetlike ervaring.

Met die besoek het die pikkewyne reeds getrek en het hy slegs ’n dooie een gesien.

Cobus Burger Foto: Facebook/ Matrics in Antarctica

Cobus vertel dat hulle in ’n Russiese vragvliegtuig ongeveer ses uur van Kaapstad tot by die lugsteunbasis op Antarktika gevlieg het. Daar het hulle in die verhitte houthuisies van die Oasis-gastehuis gebly.

“Ons het baie rondgeloop, het rommel opgetel, is rondgery en het oor dele gevlieg waar die ys weens aardverwarming afbreek. ’n Mens sien en hoor van aardverwarming, maar eers as ’n mens dit daar beleef, besef ’n mens hoe erg die ys smelt en wat ’n groot invloed dit het.”

Hy reken aardverwarming is die rede dat dit nie so erg koud was nie. Die laagste temperatuur wat hulle beleef het, was -8 °C, en die hoogste ongeveer 6 °C.

“Teen 6 °C smelt die ys teen ’n ongelooflike spoed. Ek het besef hoe groot die invloed van die mensdom op aardverwarming is.”

Cobus vertel dat hulle een aand in “iglo-tente” geslaap het, wat nog ’n unieke belewenis was. Vir dié kampeer-uitstappie het hulle slaapsakke gebruik wat vir temperature van -30 °C geskik is.

Matrikulante moes as deel van ’n keuringsproses in 100 woorde of minder sê hoe hulle die aarde gaan help om ’n meer volhoubare bestaan te voer.

Cobus, van ’n plaas ongeveer 85 km van Brandvlei, het vertel van die knellende droogte in die Boesmanland en hoe son- en windkrag en waterbesparing reeds deel van hul bestaan is.

Die voortslepende droogte wat hulle beleef, kan ook aan klimaatsverandering toegeskryf word – daarom het dié Boesmanlander soveel te meer ’n begrip van aardverwarming se invloed op Antarktika.

  • Die Oasis-gastehuis was oorspronklik ’n Russiese navorsingstasie, maar is nou in ’n gastehuis vir besoekers omskep. Die berig het eers in NoordkaapBulletin verskyn.
Meer oor:  Antarktika  |  Avontuur  |  Ysland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.